Sunday, February 17, 2008

Ai Mies

Hierdie is die verhaal van Bella.Dit is n seer verhaal.
Ek het vir Bella raakgeloop by een die meisies wat saam met die oom werk. Die meisie het te hore gekom dat ek navrae doen oor vernielde vroue.

Kyk die woord miesies is nou eenmaal deel van ou Bella se woordeskat en daar sal jy dit nie uitkry... nie eers met n hammer en bytel nie!
Lees saggies aan ou Bella se storie asseblief... want dit is die verhaal van n vrou wat deur God se genade weer kon opstaan!

Vertel ou Bella my. Ai Mies...
Ek kan nie lees of skryf nie. Ek het vroeg getrou, toe ek 13 was. Ek het 5 kinders, n tweeling en nog drie ander. Ons het in n kraal naby Pietersburg gewoon, hulle noem Pietersburg mos nou Polokwane.
Omdat die mans in vandag se tyd nie net by die kraal kan sit nie het haar man in Pretoria gaan werk soek.
Hy het vir hom n huisie met sinkplate gebou in Pretoria, wat nou ook n lekker nuwe naam het: Tshwane.

Ou Bella het geduldig gewag dat haar man haar en die kinders moet kom haal om ook in Pretoria te kom woon.
Toe gebeur daar iets verskrikliks. Die tweeling kry TB, en albei sterf kort daarna.
Haar man kom vir die begrafnis en toe hy moes teruggaan sit sy met haar groot groot pyn.
Dit is die ergste wat met n mens kan gebeur dink ou Bella, om nie net een kind nie maar twee te verloor.

Maar toe kry sy tyding van iets nog ergers:
Haar man het in n geveg tussen taxi's gesterf. Sy kon nie mooi verstaan wat gebeur het nie, maar haar pyn was so groot dat sy nie krag gehad het om verder uit te vra nie.
Ou Bella vat haar laaste geld en gaan Tshwane toe...

Toe ou Bella in Tshwane opdaag om haar man se begrafnis te reel, gebeur die ergste nog met haar.
Met haar oe nog pap gehuil moes sy uitvind haar man se begrafnis is klaar gereel: deur haar man se nuwe vrou!

Hy het toe al die tyd n jaar gelede van haar geskei. Sy kan nie lees nie en na die tweeling se dood het papiere gekom en gegaan by haar kraal. Sy het die papiere nooit laat lees nie, net maar haar kruisie getrek toe hulle vir haar se die papiere kom van haar man af.
Dit is die dat haar man nou al amper n jaar lank met sy nuwe vrou in sy sink huisie daar in Tshwane gebly het.
Ou Bella en haar kinders kry niks van haar man nie. Sy nuwe vrou kom vat selfs hulle huisie en meubels daar in die kraal.

Ai mies, hoekom? vra ou Bella
Antw ek: Ag ou Bella, dit is n raaisel wat net hy sou kon oplos.

Dalk is dit omdat ek nie kon lees of skryf nie, sevra ou Bella.
Antw ek: Nee ou Bella, dis nie jou ongeletterdheid wat gemaak het dat hierdie ding met jou gebeur het nie, Dis jou vertroue in iemand, en jou liefde vir hom.

Ou Bella vertel my hierdie verhaal sonder enige wrok of verwyt- Lankmoedig- dit word van die liefde ook gese, dat dit lankmoedig is en die kwaad nie toereken nie!

IS DIE LEWE NIE SOMS KOELBLOEDIG NIE?

Friday, February 15, 2008

Hoogste Versnelling

Dis een van daardie moeilike dae, Heer, waar ek gedwing word om in die hoogste versnelling te funksioneer.
Ek loop amper teen myself vas soos ek heen en weer hardloop. Alhoewel dit goeie dinge is wat ek moet bereik, moet ek baklei om kop bo water te hou!

Alhoewel hierdie dag besig is, dank ek U dat U my deurhelp.
Ek het probeer om vandag se skedule so eenvoudig moontlik te hou, maar n klomp onvoorsiene dinge het voorgeval. Dit is so wonderlik van U om my n vreugdevolle hart te skenk, sowel as die energie wat dit verg om in die hoogste versnelling te funksioneer om alles suksesvol af te handel.

Wanneer dit voel of ek nie grondvat nie, help U my en gee my soms n hupstootjie.
As ek paniekbevange begin word en my fokus verloor, herinner U my aan U teenwoordigheid.

Ek verheug my in U goedheid en strewe daarna om in U voetspore te stap(of te hardloop).
Ek loof U omdat U my op koers hou wanneer ek onstabiel begin raak.
Dankie Heer, dat u my liefhet en my help ontspan; dat U my frustrasies nietig maak.

Ek dank U vir hierdie dag se hulp en leiding, Heer.
Help my asseblief om more minder besig te wees sodat ek nie meer in die hoogste versnelling hoef te funksioneer nie.

Amen

Thursday, February 14, 2008

Stel jou grense

Oral waar jy in die lewe kom is daar grense.
Hekke... Mure... Drade...
Sommige met kwaai kennisgewinga aan-
Oortreders sal vervolg word!

Geen grense word sonder gevolge of moeite oorgesteek nie; en soms is daar selfs vrees aan die oorsteek van grense verbonde!

Net om die landsgrens oor te steek is baie moeitevol...
Paspootre, Visums, en in sommige gevalle tot inentings!

Die Engelse woord vir grense is 'BORDERS'...
en om n border om jou te he beteken jy is ingeperk; ingehok; vasgekeer.

Daar word beweer; verstandige mense sal nie willens en wetens grense probeer oorsteek of bakens probeer verskuif nie...

In n sekere mate tog waar..
Ons het ast ware sielkundige grense nodig om ons menswees te beskerm.
Hierdie grense help ons om onself te sien as n mens wat apart van ander is...
En dit laat ons wonder hoekom dit dan tweede natuur is om deur hierdie grense te wil breek.
Skoolreels, werksreels, ouers se reels; almal grense, borders wat om ons geplaas word; en altyd die drang om deur hierdie grense te breek

Sommige grense word makliker as ander oorgesteek.
Sekerlik die moeilikste grense om oor te steek is die eie grense.
Is hierdie grense nie tog maar eie waardes nie;
Wortel ons onself nie tog maar in eie waardes nie,
waardes wat kleintyd hoofsaaklik deur ouers en grootouers by ons ingeskerp word nie,
grense wat ons nie durf oorsteek nie!
Soveel van hierdie grense word klein-klein by jou gevorm deur ander se opinies, optrede en reaksies op sekere gebeure.
Soveel OORTREDERS SAL VERVOLG WORD bordtjies in jou brein ingegraveer!

Dit is asof daar n osigbare lyn getrek is en mense gaan net nie daaroor nie...

Audrey Hepburn het gese; 'sorg vir die klein sirkel rondom jou. Wanneer jy daarin geslaag het, moet jy jou grense oorsteek; selfs al is dit met klein treetjies.'

Grense...
n groot ingewikkelde woord vir iets baie basies.
Gaan grense nie tog maar oor menswees nie?
Om getrou te wees aan jouself en die waardes waarin jy glo!

Om grense waardig oor te steek is n vaardigheid.
daardie vaardigheid word slegs deur wysheid verkry.
Daardie wysheid word op sy beurt weer slegs verkry daar waar niemand weet wat jy dink nie...

Sunday, February 10, 2008

Om kalm te word

Beland die oom se seun toe mos heel onverwags hierdie week in die hospitaal...

Bel hy my vroeg oggend; kom help my ek het n onbeskryflike pyn; en omdat ek die oom se seun so goed ken soos ek myself ken weet ek die oomblik toe ek sy stem hoor; hierdie pyn is erg...
...maar die vroegoggend verkeer na die oom se seun toe nog erger!

Einde ten laaste na n velle worsteling met die verkeer, stop ons voor die nonne hospitaal, en bewonder ek weereens die oom se bestuursvernuf! alhoewel ek nie altyd in normale omstandighede daarmee saamstem nie!

Binne in die hospitaal se ongevalle afdeling tref die manier van die personeel my...Hulle het n manier om ander rustig te maak, so n tipe van n kalmerende uitwerking op die bekommerde mense om hulle!
Alles gebeur vinnig...
Dokters ondersoek, binne aarse drup, x-straal plate, scan; en daar het hulle dit... n niersteen...
ek wil paniekerig raak maar die personeel bly kalm, rustig...

Vinnig word die oom se seun oorgeplaas na die Urologiese Hospitaal waar hulle glo goed weet wat om hierdie steen te doen...
daar gekom begin die papierwek; vorms by ontvangs; vorms by die spesialis; vorms in die saal; wonder ek so by myself...
waar beland al die papier?
Die oom se seun word rustig en gemaklik gemaak, die teater bespreek vir 18h00 die middag en ek bly steeds bekommerd;
vra die suster ewe kalm; Is dit jou enigste kind mevrou? toe ek bevestigend antwoord, se sy nog steeds kalm dat sy dit kan sien!
moet ek seker op hierdie punt net byse; die oom se seun is al 27jaar oud en het die kalm sustertjie seker gedink hy verdien nie n ma wat soos n broeis hen al om hom kloek nie, veral nie met soveel pyn in hom nie...

Ek moet teen 15h00 die oom se seun met n baie swaar hart daar by die kalm sustertje los om vir die oom n aandetetjie te gaan voorberei...
Tuisgekom skarrel ek gejaagd en onrustig rond, wil n duisend dinge gelyk doen en kom tot die besef dat;
In hierdie wereld vol stres, beproewings, pyn en onsekerheid, n kalm gemoed iets ongewoons is, en dat vrede werklik nie van omstandighede afhangklik is nie, dat dit eerder n gemoedstoestand is wat uit die hart moet kom!

Terug by die hospitaal is die oom se seun nog in die teater en die onrustigheid dreig weereens om my keel toe te druk, hoekom is hy al n uur in die teater?
Ek stap uit op die balkon en vra die Vader:
Help my asseblief om nie besorg en bang te wees nie.
Ek glo in U
Want U is my God
My bron van kalmte!

Terug uit die teater is die oom se seun vol pyn en ongemak en die personeel wat hom moet versorg steeds rustig en kalm...
Die ou Dokter besoek sy bed, rustig, onverstoord na n lang dag in die spreekkamer en daarna nog die teater, ek verstom my aan die amperse vonkel in sy oe na die lang dag wat agter hom le!
Rustig en glad nie haastig verduidelik hy aan die oom wat hy gedoen het en hoekom dit nodig is dat die oom se seun oor 2weke weer n opvolg operasie moet he...

Op pad huistoe laataand nadat die oom se seun rustig geraak het, le my trane vlak oor my kind se dag vol pyn...
Kalm kwoteer die oom vir my uit Johannes 14:27
'Vrede laat Ek julle na, My vrede gee Ek julle.Die vrede wat Ek julle gee, is nie die soort wat die wereld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie en julle moet nie Bang wees nie'...

Wednesday, February 6, 2008

Ratels

Ek weet nou waarom die beskawing keer op keer ineen stort.
Ek weet waarom die lewe nie lank lekker kan wees nie...
Die rede is;

DAAR IS ALTYD IETS WAT RATEL!

Het die waansinnigheid waarmee n man n geratel in sy motor aanhoor julle ook al opgeval?
Op die oomblik ratel die oom se kar se RATHEFBOOMKNOP
Dit het nie altyd geratel nie, maar dit ratel nou!
En die oom weet nie waarom nie!
toe ons ons kon kry toe ratel die knop.
hy ratel nie effentjies nie, hy bewe behoorlik!
Hy ratel ook nie net op sekere tye nie...
sodra die motor beweeg ratel die knop...
vir solank as die motor beweeg!
Ek kan maar so hard ek wil praat en selfs die radio se klank opdraai...
die oom hoor die geratel en glo my hy hoor dit!

Al wat ek kan doen is om die geratel te probeer stilstop...
maar glo my dis makliker om n mens se gewete te smoor as om n knop wat ratel stil te kry...
n Gewone papierstopsel het net so min n uitwerking op n geratel soos goeie voornemens op Nuwejaarsdag!

As n geratel lank genoeg aanhou, soos die knop nou, versteur dit n mens se perspektief op die lewe en dryf dit jou tot snaakse optrede...
En so wend die oom hom toe maar tot n stopseltjie kougom gisteraand teen die geratel....

Tuesday, February 5, 2008

Nuwe Lewensjaar

Vandag begin n nuwe lewensjaar vir my...

Van vroeg oggend af gons dit oor my foon met gelukwense.
Ek ontvang elkeen met n knop in die keel want ek besef hoe geseend ek is om soveel mense in my lewe te he wat opreg omgee om aan my voorspoed en seen toe te wens.

Vroeg oggend kom die oom van die tuin af in met n pienk blom en maak verskoning oor dit nie n rooi blom is nie...
Ek se dankie vir n man soos hy wat my goed genoeg ken om te weet dat een tuinblom vir my meer beteken as n sak vol diamante.

Die kinders gee die verhaal van Ester in die bybel op n dvd...
Ek se dankie vir kinders wat my siel verstaan en voed!

Hemelse Vader
Dankie vir al hierdie liefdes bewyse wat ek vandag so mildelik ontvang het.
Ek weet en besef dat ek vandag slegs deur U genade hier is.
Vader U weet ek voel soms dat ek niks verdien nie dat ek nie goed genoeg is nie.

Dankie dat U my 46jaar gespaar en gesond gehou het.
Dankie dat U my seen met n wonderlike man en kinders.

Help my om asseblief in hierdie nuwe lewensjaar my oe net op U te hou en op U te vertrou in elke situasie wat my pad mag kruis.

Amen

Friday, February 1, 2008

Februarie

WELKOM IN FEBRUARIE

Eindelik is die lang en moeilike Januarie verby en kan n mens weer so effe begin asemhaal.

Februarie is my en tweelingsus se verjaardagmaand.
Ons verjaardag steen is die Ametis steen
(net iets interresants oor die steen)
Volgens oorlewering is die steen destyds gedra om mense teen dronkenskap te beskerm.
Daar is ook spesifieke letsels in die steen wat juweliers help om dit uit te ken.
Een van hierdie letsels lyk net soos n duimafdruk.

Februarie is ook die maand van sjokolade, romanse en LIEFDE...

n Mens sou kon dink dat ons wereld teen die tyd gevul moes wees met die liefde, dat elke persoon op hierdie aardbol n 'spesialis' in die beoefening daarvan sou kon wees...

Niks is verder van die waarheid nie. Ons het die liefdeswoord vuilgevat, deurgevat, afgeslyt, soos die gesig op n muntstuk...
Ons begrip en beoefening van die liefde is meestal egoisties al sou ons dit nie wou toegee nie!
Ons het daarvan n verbygaande, oppervlakkige sentiment gemaak, dit verdraai om ons te pas...

...DIE LIEFDE KOM AS N GESKENK TOT ONS, VERNIET.
DIS EGTER SO VERNIET, DAT DIT NOOIT GEKOOP KAN WORD NIE!

Mag Februarie vir elkeen n baie mooi maand vol liefde wees.