Thursday, July 31, 2008

Krisissituasie

Hemelse Vader,
dis so donker en uitsigloos hier in my grot
ek is sielsmoedeloos en daar is glad geen uitkomkans nie
Boonop voel dit vir my asof U my vergeet het.
Praat asseblief met my
sodat ek kan weet dat U in hierdie donker uur van vannag by my is
dat U n spesiale boodskap vir my het en hierdie grot-ervaring wil gebruik om my te vorm
en om U eie krag in my lewe te ontplooi.
Baie dankie dat ek hier in my grot met U kan praat
dat ek vir U presies kan vertel hoe ek voel
dat ek maar mag kla omdat U reeds
elkeen van my depressiewe gedagtes ken.
Vader, leer my weer dat U my nooit sal verlaat nie
dat U by my is wanneer ek in die donker is
en dat U altyd weer vir my sal kom lig maak
met U liefde en U teenwoordigheid.
AMEN

Monday, July 21, 2008

Mag

n Klein woordjie... met n enorme groot betekenis!
Mag; die een ding waarna sekerlik elke mens soek;...
mag oor iets, mag oor iemand, en die mag om jou eie omstandighede te verander...

Die hungkering of begeerte na mag en veral mag wat jy op ander kan uitoefen, is na my mening n soort geestelike siekte, n soort steurnis... en val vir my in dieselfde katagorie as moord, roof, diefstal en uitbuiting!
Bogenoemde is almal menslike dade ofskoon hulle almal simptome is van die misbruik van mag!
Is dit nie opvallend hoeveel keer korrupsie en mag hand aan hand gaan nie?

Hoe maklik is dit nie om mag te misbruik nie. Let veral op hoeveel mense daagliks diktatorale mag toepas... want deur dit te doen hou hulle almal onder hulle 'in toom'. So n persoon gebruik sy mag uitsluitlik om ander mense te verkleineer...

My mening van mag is om dit as n skeppende krag te sien, want dit is wat ware mag beteken in die volste sin van die woord.
Voordat jy mag gaan soek, of mag afdwing, moet jy in staat wees om dit te hanteer!

Snaaks dat mense soms bereid is om te waag in hulle strewe na die mag wat hulle voel hulle toekom.
Die vermoe om te waag, gaan hand aan hand met die drang om mag...
Maar om te waag behels ook n groot mate van verantwoordelikheid! As jy n kans waag moet jy bereid wees om die gevolge te dra!
Om jou betrekking summier op te se vir n ander een is dalk nie die aangewese ding om te doen nie... En as jy jou geld iewers bele, moet jy besef dat jy die risiko loop om alles te verloor...

Eerlike kennis van jouself - wie en wat jy is en wat jy wil wees - dit is die eerste stap tot mag en jy!

Tuesday, July 15, 2008

n Handvol Wense

Omdat my gemoed die laaste tyd nie is soos wat ek graag wil wees nie, lees ek opbouend. So lees ek vroegmore nadat die oom weg is werk toe nie my gebruiklike dagstukkie nie, maar gryp na n boek deur Madelein van Biljon getiteld 'Mevrou jy's lastig'
In die skets gee Madelein op haar kenmerkende, spitsvondige manier n paar wenwense vir vrouens, omdat ons 'so uit ons pad gaan om moeilikheid te soek en ons lewe te bemoeilik!'...

*Mag ons die verstand gegee word om te weet wanneer om ons monde te snoer, en mag die gawe gepaard gaan met die vermoe om stil te bly sonder om dikbek te lyk daaroor.
*Mag ons bewaar word van kwaadwillige skinder. Behoede ons ook van die skielike kwaadword; die hand wat klap voor die oog nog goed gesien het, die tong wat steek voor die oor nog goed gehoor het.
*Laat ons liewer trots wees op ons eie talente, pleks van altyd te hunker na die onbereikbare!
*Mag die gawe ons gegun word om ons eie waarde te besef.
*Mag ons gevrywaar word van jaloersie, die dodelikste van alle emosies. Dit maak alles tot niet; vriendskap, liefde, vertroue,, en nie eers lekkerkry bly oor nie.
*Gee ons die moed vir die onplesierige ook. Die moed is nodig omte beveg, om te handhaaf, om kennis te dra, nie om toegewikkel in n kokon van 'mooi' te hoop dat alles sal regkom as jy anderpad kyk nie. Kom ons kyk n slag na die lelike dinge. En kom ons doen iets om sulke dinge reg te stel.
Hierby wil ek graag n laaste wens byvoeg....
My eie wens...
Ek verlang na, ek begeer liefde. Enige soort. Van man tot vrou, van kind tot ouer, van vriend tot vriend. Want hierin le ons sekuriteit, ons vrouwees. Sonder liefde is ons niks. Mag ons liefde in n groot maat gegun word en ruim hart om dit in n groter mate terug te gee!

Wat anders kan ons hierop se as Amen-

Saturday, July 5, 2008

Kola uit n Klip

Met die huidige brandstofpryse stap ek nou deesdae na die supermark om die nodigste aanvullings te kry...

So loop ek my op die parkeerterein vas in n paartjie, wat by my verbyry met n motortjie wat klink soos iets met n "primusenjin"
Hoekom maak hy so? vra die vrou
Hy maak maar so, se die man met kalme aanvaarding van een wat weet daar is nie geld om na geluide te laat kyk nie...

In die supermark stuur ek neus-in-die-lug by Spaanse olywe, Duitse wors, Engelse marmelade en "fancy" sardientjies verby. Ek mik vir grofgemaalde mieliemeel, "geen-naam"grondboontjie botter, ongewate artappels en enigiets eetbaar en kraakvars op "special"

Ek tref die vroutjie van die kloko-kloko motortjie aan die verbruikerskant van die slaghuis afdeling aan. Sy is in gesprek met die fronsende slagter en haar nek is opvallend rooi: Die slagter probeer haar oorreed om te kies uit die groot hoeveelheid klaaropgemaakte pakkies maalvleis. Maar sy veg moedig voort: Die klaaropgemaakte pakkies is vir grypers Meneer en ek kan dit nie bekostig om te gryp en betaal nie! Sal u asseblief so gaaf wees om vir my vyftien pakkies R20.00 maer maalvleis af te weeg en op te maak... Die slagter is n man wat seker van n ordentlike stukkie vleis op sy bord hou, want hy brom iets in sy snor "Goed Dame" se hy styf. U kan solank die res van u "shopping" afhandel, u bestelling sal oor 10minute gereed wees...

Die vroutjie loop met haar trollie in myne vas... Ek moet n bloeddrukpil drink se sy ontstoke: om deesdae uit te kom met jou kruideniersware toelae, is om "kola uit n klip te tap"...
Ek maak agt frikkadelle uit R20.00 se maalvleis: twee elk vir Hans en Herman, een vir my en een elk vir die meisiekinders en nog een vir die kat, en dan staan die slagter met my en stry!
Sy wag nie eers om te hoor of ek enige kommentaar het nie en storm die groente afdeling met Hans of is dit dalk Herman agterna...

Toe ek met my twee sakkies weer deur die parkeer area stap kom hulle van agter verby gery... kloko-kloko...

Hoe meer ek oor die werklikheid van ons daaglikse bestaan nadink, hoe meer onwerklik word die werklikheid van wat vroue vermag vir my...
Is ons koppe reg aangeskroef?...
Ons dokter onsself met "Disprins" en knoffelpille teen griep en die oorgangsjare-dokter toe gaan is te duur-Ons verrek ons nekspiere in n poging om ons eie hare met die naaldwerksker te knip- met n sker en n truspiel kan jy R70.00 spaar-Ons eet aanbrandsels en skraapsels sodat die res van die gesin genoeg kry, ons trek ons broekie-kouse so aan dat die leer aan die binnebeen opklim, ons verduur bandjies wat afgly en oor die elmboog wil loop le... sodat ons kinders kan bly glimlag, sodat ons mans daardie tevrede suggie na ete kan gee...

Jy sien Meneer die slagter...
Vrou staan vir WONDERWERK... want dis gewone vroue wat buitengewone dinge doen meneer die slagter, dieselfde vrou wat rooi in die nek bly aandring op R20.00 pakkies maalvleis, staan vir die een wese op die aarde wat kola uit n klip kan haal, wat soveel glasies daaruit tap dat geeneen van die wat hulle bekertjies hou, ooit sal vermoed hoe oud haar nagrok en hoe vaal haar eens pienk pantoffels nou al is nie....

Staan vir ons regop, Mevrou-in-die-vaalblou-nagrok...
JY VERDIEN DIE APPLOUS!!!

Tuesday, July 1, 2008

In die woestyn

Gaan my dagstukkie vanoggend oor Eksodus 16;2-3...

Ek kom opnuut tot die besef dat daar selde so n onvergenoegde spul mense soos die Israeliete in die woestyn was. Hulle het die stomme Moses behoorlik laat les opse.... en ek sien myself in hierdie prentjie!

Daar is so baie ontevrede mense in die wereld wat bly kla met n witbrood onder die arm; mense soos ek, wat reken die verlede was veel beter as nou.
Dan is daar weer die wat reken dat hulle vir seker gelukkiger sal wees as hulle omstandighede net so effens sal verander; as hulle in n beter huis of buurt kon woon, n groter motor kon ry of n groter salaris kon verdien...

Besef ek vanoggend opnuut dat daar maar woestyntye in ons almal se lewens kom, ons kan hierdie tye soos die Israeliete hanteer en teen alles in opstand kom of ons kan God bly vertou. Hom opnuut leer ken, Sy nabyheid ondervind en sy genade aan jou lyf voel.

Vader,
vergewe my dat ek op die oomblik so ontevrede is met my omstandighede
dat ek soos die Israeliete in die woestyn bly kla oor dinge wat ek nie kan verander nie en aanhou teruggryp na die verlede toe dit vir my soveel beter en geriefliker was.
Leer my asseblief weer dat U by my is in my eie woestyn en dat U my nooit alleen sal laat nie maar dag vir dag saam met my sal reis en in elkeen van my behoeftes sal voorsien.
Dankie dat ek opnuut kon ontdek dat ek U, terwyl ek swaarkry op n nuwe, intieme manier kan leer ken en dat U liefde en genade juis nou vir my n groter werklikheid word as ooit tevore.
Maak my asseblief tevrede met my omstandighede.
Saam met die psalmdigter wil ek bid:
Here, my Here, hoe groot is U naam oor die hele aarde veral hier in my woestyn.
Amen