Monday, August 31, 2009

Die Meesterhand


Daar is dinge in die lewe wat n mens stom maak...

Die dood van n geliefde is een van daardie dinge. En in sulke tye leer ons almal om die knie te buig voor die Groter Mag wat beheer oor ons lewens het.


Baie dankie aan elkeen vir julle gebede en boodskappe van bemoediging - dit word opreg wardeer.
Daar is nog baie trane by ons - maar dit is stil trane; trane sonder verset, en daarom helend.

Ek sal nog n tydjie lank stil wees hier op my blog...
Ons moet almal maar eers weer terugkom na die son toe en kom vrede maak met die Meesterhand.

Tuesday, August 25, 2009

Doodstyding

Snaaks hoe n skielike doodstyding jou met daardie lam, winduit gevoel op die krop van jou maag laat...
My sus se man is baie skielik gistermiddag by sy werk aan n hartaanval oorlede.

Susan, Jacques, Vicky , Kobus en klein Dewet:
Ons innige simpatie met jul groot verlies. Mag julle God se liefde en vrede ervaar in die dae wat voorlê. Ons bid julle sterkte toe.

Aan almal baie dankie vir julle liefde en simpatie, ons wardeer dit opreg - bid asb vir hierdie gesin die begrafnis is vrydag.

Thursday, August 20, 2009

Geduld

Thomas A Kempis, n priester en skrywer, het gesê: "As jy nie die lewe met vreugde kan leef nie, doen dit ten minste met geduld".

Toe ek dit lees kon ek nie help om te wonder of soveel van ons landgenote se ongeduld nie juis toe te skryf is aan die feit dat hulle sielsongelukkig en onvergenoegd is nie.
My eie lewe het my geleer hoe ongelukkiger ek met my omstandighede is en hoe meer ek met n Martie Martel houding rondloop, hoe minder tyd - en geduld - het ek vir ander mense en die daaglikse eise van die lewe.
Wanneer ek egter my kop skoonmaak en myself met n kombers van kalmte, liefde en welwillendheid toevou, hoe minder ontsteld raak ek oor dinge.

Ons onvergenoegdheid en gepaardgaande selfsug slaan oor in arrogansie en ongeduld wat gesien kan word in die wyse waarop ons bestuur, die respek (of gebrek daaraan) wat ons vir ander mense openbaar en die onverskilligheid waarmee ons deur die lewe gaan.
Ons almal droom van n utopia waar liefde, respek en omgee teenwoordig is, maar ons verwag dat ander mense hul houdings en denke moet verander ten einde ons te akkommodeer, sonder dat ons bereid is om self iets daaraan te doen.

Die eerste stap na sukses/genesing/nuwe denke/gewoontes, begin altyd by jouself. Gaan soek daardie plekkie in jou binneste waar jy vrede en genoegdoening ervaar en begin met dankbaarheid en liefde leef. Sodra jy die lewe se vreugdes kan sien en ervaar, sal daar beslis n groter behoefte wees om met omgee deur jou dag te gaan, wat beteken jy sal ook met meer geduld funksioneer...

"Die vrug van die Gees daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing".
-Gal 5:22-23

Tuesday, August 18, 2009

Laat sak tog die maskers...

In ons daaglikse lewe skuil ons so dikwels agter n masker. Hierdie maskers is nie die soort wat jy met n maskerade gaan opsit nie - Dit is bloot n mens wat jyself skep en waaragter jy skuil.

Ons neem van vroeg af alles wat ons hoor in, posetief sowel as negatief, en dan internaliseer ons mense se reaksie op ons aksies en ons weeg onsself daarteen op.
Omdat 80% van mense se terugvoer negatiewe terugvoer is, is dit geen wonder ons persepsie van onsself sluit dinge in soos: "Ek is dom", "Ek is lelik", "Ek is n mislukking".

Hoe dikwels dra gewone ordentlike, vredeliewende, beskaafde mense maskers - hulle ry die duurste motors, bly in die mooiste huise, het universiteitsgrade, verdien goeie salarisse.
Maar voorkoms is soms misleidend...
Want agter die masker van fatsoenlikheid, sukses en beskaafdheid, skuil daar leegheid, innerlike doodsheid, sluimer die vrees van: "Ek is nie goed genoeg nie"!

Wil mense hulself bloot emosioneel "beskerm" deur die dra van n masker? Ons leef immers in n stukkende wereld. n Wereld wat vuisvoos geraak het van emosionele slae en psigiese manipulasie. Wil mense van die trauma ontkom deur maskers te dra... of wil mense bloot net die gevoel van :"Ek is nie goed genoeg nie" wegsteek?
Wil hulle ten alle koste keer dat die wereld nie die rou seer moet raaksien nie... want in die oe van die wereld is jy mos n "swakkeling" as jy nie kan "cope" nie!...
En daarom laai ons deur die jare net meer bykomstighede by - dinge wat die maskers meer geloofwaardig moet maak... nog n graad, miskien n blinker motor of groter huis...
Maar uiteindelik word die maskers so swaar, ons kan dit nie meer dra nie!

Friday, August 14, 2009

"Faith"

Meeste van julle het seker al van "Faith" gehoor of gelees - maar ek glo nie n 2de keer sal skade doen nie!

Dit is "Faith"



Hy is op Kersaand 2002 gebore met 3 bene - 2 gesonde agterbene en 1 abnormale voorbeen wat geamputeer moes word. Sy ma het hom probeer versmoor toe hy gebore is.
Sy eerste eienaar wou hom laat uitsit...

... maar toe kruis sy pad met Jude Stringfellow. Sy het hom aangeneem en was oortuig dat sy hierdie hond kan leer om op sy eie oor die weg te kom.
Sy het hom "Faith" gedoop.
In die begin het sy "Faith" met n lepel vol "peanut butter" geleer om op sy agterbene te staan en te spring vir beweging.
Na slegs 6 maande se intense afrigting in die sneeu, kon "Faith" op sy agterbene loop soos n mens.Daar is maar altyd onverstaanbare dinge in die lewe...Hierdie hond se verhaal het my weer laat besef:
"With a little faith"!

Wednesday, August 12, 2009

Veels Geluk Willie



Vandag bevind jy jou op die drumpel van n nuwe lewensjaar...

Ek sou die heeldag saam met jou wou deurbring en seker maak jy's gelukkig en veilig, toe sê die Heer ek moet terugstaan...
Hy doen dit elke dag!

Baie Geluk met jou verjaarsdag my liefste man, mag hierdie lewensjaar jou beste nog wees!


Hemelse Vader,
Dankie dat ons nog n nuwe lewensjaar saam met Willie kan ingaan, vat U asseblief in hierdie nuwe jaar sy hand en loop U saam met hom.
Vader, U ken my onrus vanmore oor die vreeslike hoë bloedsuiker waarmee hy weer sukkel, ek gee dit nou vir U my Vader.
Amen

Tuesday, August 11, 2009

Uitnodiging



14 Augustus '09
19h00
Cornwall Hill College
Nellmapius Drive, Irene

15 Augustus '09
19h00
Unisa
(zk mathews hall - previously old mutual hall)

Free entrance

INFO:
Amanda 0822223338
Cisca 0825902244

Sunday, August 9, 2009

Vrouedag

Hy bring my na waters waar daar vrede is. Hy gee my nuwe krag.
(Psalm 23:2-3)

Vandag kom sê die Hemelse Vader vir jou:
Liewe vrou - van - vandag,
Ek het jou lief! Kom na My toe en vertel My van al jou vrou - wees - stoei,
jou besig wees en al die eise wat jou lewe soms onmoontlik maak.
Omdat jy vir My kosbaar is, wil Ek jou help swem in jou sroomversnellende lewe...
en jou na waters waar vrede is, lei!

Friday, August 7, 2009

Etiket



Veral in Suid - Afrika waar ons soveel verskillende kulture met hul eie etiket het - wonder mens dikwels wat is onbeskof en wat is goeie maniere?
Tye het egter verander en net soos alles moet etiket seker ook aanpas.
Maar...


Asseblief en Dankie:
Sal nooit uit die mode raak nie en hoort in elke opgevoede mens se woordeskat.

Respek:
Die grootste onderliggende beginsel van goeie maniere is respek vir ander - dan sal dit nie saak maak as julle kulture en begrip van etiket verskil nie.

Groet:
In alle kulture is groet n belangrike manier om respek te betoon. "Aangename kennis" by n eerste ontmoeting klink nog steeds soveel beter as "Hoezit , Bra"

Persoonlike higiëne:
Hoort in privaatheid gedoen te word. Moet dus nie in die openbaar in jou neus, ore, tande of ander plekke krap nie!

Stiptelikheid:
Deur betyds vir n afspraak op te daag, respekteer jy die ander persoon se tyd. Laat weet as jy laat gaan wees.

X@#$:
Vuiltaal of vloek is nooit etiket nie. So ook suggestiewe opmerkings!

Tye het verseker verander, maar goeie maniere bly belangrik!


Thursday, August 6, 2009

Wie is ek ?



Stop hier gereeld n vreeslike "fansy" kar voor ons gebou - (ek vermoed hy kuier by een van die woonhuise aan die oorkant van die pad) - maar dit is nie die "fancy" kar wat my vandag hier laat skryf nie - nee dit is die nommerplaat... daarop staan: "Who am I?"

Dat iemand wat in so n "fancy" kar ry moet wonder wie hy is - is vir my een te veel...
Ek wou al n paar keer vir die persoon by sy kar wag en sé: "My liewe mens, ek het geen idee wie jy is nie. Kan jy nie dalk vaagweg onthou waar jy grootgeword het nie, of jy broers en susters gehad het nie, of jy dalk al getroud was nie, indien wel wat jou vrou se nooiensvan was nie - of net iets - want ek is bereid om jou te help soek na wie jy nou regtig is"

Wie weet, dalk het die man sy naam weggegooi? of dalk het hy dit op n weddenskap verloor, of dalk n oneerlike saketransaksie? Ek het nou al die scenaroi's deurgetrap - baie antwoorde oorweeg - maar ek weet ook nie wie hy is nie!

Jou al self in die spieël gekyk en gewonder - WIE IS EK?
Satan jou ook al die gevoel van "WHO AM I" laat ervaar?
Gister vir hom die volgende nota in sy "fancy" kar se ruitveer gelos -
Dit gaan nie oor wie jy is nie, dit gaan oor wie jy in Jesus is...
Jy is n Koningskind, n begenadige, iemand vir wie Jesus gesterf het!



En daarmee vir myself gevra - En jy? Weet jy wie jy is?

Tuesday, August 4, 2009

Eerlikheid

Ek moes so n tydjie terug een van die buurvroutjies neem vir noodsaaklike inkopies. Besig om haar sakkies in die motor se kattebak te pak - nader hy ons...

Jy sien sy motiewe sommer met die eerste oogopslag. Daardie kyk in sy oë draai geen doekies om nie. Jy kan maar voorgee dat hy nie bestaan nie en selfs geen verdere oogkontak maak nie, maar daar is geen manier dat jy nie gekonfronteer gaan word nie...

"Madam' skop hy af.
"Kan ek asseblief net iets vir die madam vertel?"
Hy sê: "Madam weet, dinge is baie tuff hierdie dae. Ek het kinders in die skool wat moet boeke, klere en kos kry. Soos madam seker self weet is hierdie dinge baie duur en my geld is nou op"
"Ek wil graag vir my net n sixpack koop, vir die stress madam weet. Wil madam nie asseblief help nie?"

Ek is sprakeloos toe sy sowaar die man in sy kwaad help!
Dalk moes jy eerder vir hom n sespak melk gekoop het... sê ek hardop.
Nee sê sy sowaar - die man het nie doekies omgedraai nie, hy was blatant eerlik oor sy behoefte...

En net daar besef ek dit gaan veel dieper as dit.
Want eerlikheid het een vername eienskap... DIT MAAK VRY!
Vry van skuldgevoelens, vry van emosionele bindinge.
Dit bring heling. Breek mure af. Bou verhoudings en vertroue. Gee nuwe geleenthede.

Solank jy nie eerlik is nie, is jy n slaaf, n gevangene, vasgeboei in kettings...

Monday, August 3, 2009

Wonder wat sou hy in vandag se tyd gemaak het?

Bill Norton, the bathing beach policeman, measuring the distance between knee and bathing suit on woman in Washington D.C.
Sherrell the Superindent of Public Buildings and Grounds, issued an order that bathing suits at the Washington bathing beach must not be over six inches above the knee.

Photo from the National Photo Company Collection. 1922

Saturday, August 1, 2009

Huwelike



Ek doen n ernstige beroep op elkeen wat hier lees om in hierdie maand spesiaal te bid vir huwelike.
My persoonlike oortuiging is - die duiwel se gunsteling iets om aan te val is die huwelik.
Hoeveel pyn en hartseer veroorsaak hy net nie daardeur nie!
Kom ons vat hierdie Augustus hande en bid vir almal se huwelike -
Die wat goed is en die huwelike waar daar probleme is.

Liewe Vader, ek kom voor U vandag en vra dat U ons huwelike sal seen en sal beskerm teen alle aanvalle wat die satan mag uitdink.
Seen elkeen van ons se huweliksmaats. Ek bid vir die huwelike waar daar probleme is, hulle kom lê ek spesiaal aan U voete - hou ons veilig en trek vir ons die beskerming aan wat ons nodig het.
Ek bid ook vandag vir die mense wat alleen staan en wie se huweliksmaats U nie aanbid nie.
Ek bid U seen, voorspoed, krag, liefde en die BLOED VAN JESUS oor almal van ons se Huwelike.
Dankie Liewe Vader vir al U Genade en Seen oor en in elkeen van ons se lewens en huwelike.
Dankie dat U altyd ons Rots en Toevlug is.
Amen