Sunday, February 12, 2012

Wees jouself...



Ons leef in n samelewing waar dit amper n gewoonte geraak het om ander mense te blameer as jou omstandighede nie na wense is nie. Dit het n maklike uitweg geword om ons verantwoordelikhede tov ons eie lewe te ignoreer en dit eerder voor ander mense se deur te wil le.

Ja, daar is omstandighede waaroor ons geen beheer het nie, dit kan ons nie stry nie. Maar soos ons ook weet: Dit is wat jy daarmee doen wat die verskil maak. Ek het daarom die wereldse respek vir mense wat selfs in die moeilikste omstandighede hulle koppe hoog kan hou, positief kan bly en nie hulle inherente geloof in die goedheid van die lewe verloor nie.

Ons is ook sosiale wesens en dus in baie gevalle van ander mense se goedkeuring afhanklik en daarom is ons ook geneig om onself en ons lewens by ander te wil aanpas in plaas daarvan om getrou aan onsself te wees.

Onderstaande, hoewel baie bekend het my weer laat besef die enigste mens wat n verskil in jou lewe kan maak is jyself...


* Mense kan jou laat voel jy loop op n wolkie, maar hulle kan jou ook in die diepste donkerte aftrek...


Mense kan drama in jou lewe veroorsaak en selfs n spesifieke situasie veroorsaak, maar jy is die enigste een wat kan besluit wat jy met hierdie situasie gaan maak...

Monday, January 30, 2012

Hoekom...

... betaal ons nou skielik so duur vir brandstof en elektrisiteit?
... is die olieprys so hoog?
... is suiwelprodukte so duur?
... bly die kinders so siek en wil die antibiotika wat altyd so goed gewerk het nie meer werk nie?
... menstrueer dogtertjies op nege?
... het elke kind in die klas een of ander allergie?
... is die damme, riviere en oseane so vuil?
... vrek die visse in die see?
... reen dit nie soos wat dit altyd gereen het nie?
... al die tsoenami's en vloede?
... so hoe voorkoms van velkanker?
... verloor honderde duisende mense wereldwyd hulle werk?
... is Afrika n kontinent van honger, dood en siekte?

Sunday, January 22, 2012

Gautrain...

Was so bevooreg om in 2011 twee keer op die Gautrain te ry. Albei geleenthede moontlik gemaak deur my kinders. Die Centurion stasie n netjiese uiters moderne gebou.

Daar is 80km spoor en die trein roete is tussen Pretoria, Johannesburg en OR Thambo lughawe.

Die verkeer in Pretoria, na Johannesburg en die lughawe is soms regtig n nagmerrie en die trein n groot uitkoms vir mense op hierdie roete.


Die stasie self is baie goed georganiseerd, die aanwysingsborde duidelik sigbaar en leesbaar - oral goed ingeligte personeel indien daar onsekerheid sou wees. Die aankondigings duidelik hoorbaar en elektroniese flitsborde op al die peronne.
Kaartjies word by elektroniese masjiene gekoop. Dit gaan vinnig en flink. Geen lang uitgerekte toue wat wag. By die deurganhekke druk jy eenvoudig jou kaartjie voor die ogie en jy stap deur.




Roete aanwysings en opklim peronne duidelik aangewys, so verdwaal op die stasie is byna onmoontlik. Die peronne ook baie veilig want daar is n duidelike geelstreep geverf en geen passasier mag oor die streep stap alvorens die trein op die perron gestop het nie.



Die binnekant van die trein en alle stasie geboue is pragtig skoon en daar is ook groot boetes vir enige persoon wat sou rommel strooi of eet op die trein en stasiegeboue. Badkamers luuks en n plesier om te gebruik.

Die spoed waarmee die trein ry is regtig n belewenis... 19minute van Centurion tot in Santon... 4minute van Centurion tot in die stad!






Daar is ook n wye busroete beskikbaar met duidelike opklim en afklim haltes.



Die busse loop n groot gebied rondom die verskeie stasies.




Die Gautrein was vir my en Willie n heerlike belewenis, so ook die busrit van die stasie tot in die stad.





































































Friday, January 20, 2012

Vrae...



Albert Einsten het gese dit is belangrik om aanhoudend vrae te vra sodat ons begrip kan he vir die wonder van die misterie van die lewe. En al verstaan ons nie die antwoorde nie, om nie bang te wees om steeds te vra en te leer nie.

Ons hou vas aan die bekendheid waarmee ons onsself omring, ons vergeet om van elke dag n leerervaring te maak, daarom raak ons mettertyd vasgevang in die allerdaagse, die gewone, die roetine... Voor ons ons oe uitvee begin ons rusteloos en onvergenoegd voel.

Een ding wat ek my lewe lank doen is om vrae te vra... en so het ek vaardighede aangeleer waarmee ek myself, my talente en behoeftes gereeld toets, en as ek agterkom iets skort dwing ek myself om die grense van my geriefsone te verskuif sodat daar ruimte kan wees vir veranderings en nuwe geleenthede. En wat n ongelooflike reis is dit nie elke dag nie!

Sunday, January 15, 2012

Stories...

Ek probeer vreeslik hard om terug te keer na my blog... tyd is nie altyd beskikbaar om hier by die rekenaar te kom sit en kuier nie. Die werk wat ek doen gaan oor tyd... ek werk teen tyd, vyf tot ses huise per dag - elkeen net n sekere tyd, want die klient betaal per uur. Net n sekere hoeveelheid tyd tussen kliente, die verkeer n nagmerrie - die klient vreeslik gesteld op sy tyd - moenie laat wees nie - moenie langer bly nie - moenie minder tyd spandeer as waarvoor die klient betaal nie. Ekself moet 7uur soggens by die kantoor wees om my admin werk te doen vir 10min, 7h15 moet ek die span meisies by die optelpunt kry - dan begin jou geveg teen die oggendverkeer om 8h00 by jou eerste klient te wees... Ek moet ook sorg dat die meisies nie te laat weer by die aflaaipunt kom nie want dan sukkel hulle weer om vervoer te kry huistoe. Ekself gaan dan weer terug kantoor toe om die voertuig te bere, enige kontantgelde inbetaal, kliente se huissleutels weer in die kluis toe te sluit - probleme, versoeke, en sommer net algemene klagtes te rapporteer. Ekself kom dan weer so om en by 18h00 by my huis - dan moet my eie huishouding gebeur... kosmaak, netjies maak, kombuis skoon kry, naweke spandeer ek en manlief Saterdae om ons eie nessie skoon te maak, wasgoed te was, inkopies te doen -- my kaste raak ook vol stof, my vensters moet ook gewas word, my klere gestryk word, my matte ook gestofsuig word... en intussen loop die tyd... Sondae probeer ons tyd maak vir mekaar, lekker rustig raak, die week se dinge met mekaar te bespreek ons probeer om Sondae glad nie op die horlosie te kyk nie...
Ek leer elke dag vreeslik baie by die vier meisies in my span, hulle werk baie baie hard maar het altyd n soort rustigheid aan hulle, is baie lief om te sing terwyl hulle werk, praat onnodig hard, lag lekker, en huil soms ook as die lewe druk, kom met min oor die weg... elkeen van hierdie vier meisies is STERK vroue. Werk hard om ook hulle gesinne aan die gang te hou...

By die kliente leer ek ook daagliks lesse, ek betree elkeen van hierdie mense se persoonlike ruimtes - sien en hoor baie dinge - huil saam met sommige van hulle, bid saam met sommige van hulle en lag saam met sommige van hulle...
Oom Maritz veg nou kolon kanker, hy is moedig en posetief, Mevrou X veg vir haar huwelik - die ander vrou eis meer en meer tyd van Mnr X... Die Y gesin veg saam met hulle tienerdogter die verslawing monster... Die Z gesin gaan maklik en vol geluk deur die lewe, vir hulle maak die terugslae in die lewe niks sleg nie, want hulle is gelukkig en tevrede... Ou Dominee en Tannie Minnaar bly die ewige postoriepaar, ( ek is baie lief vir hierdie twee ou mensies) Tannie Minnie wat elke week eers wil weet hoe gaan dit met Willie, hoe maak sy suiker. By elkeen van my kliente het ek opnuut weer geleer dat elkeen van ons maar net mens is, dat niemand gevrywaar is van die seer in die lewe nie. Jou bankbalans, titel of woonbuurt maak nie van jou wie jy is nie...
Jy is presies net dit wat jy kies om te wees!
Ek kon nie verstaan hoekom die Here hierdie werk vir my gegee het nie, en hoe hard ek ookal probeer het om ander werk te kry, het die een deur na die ander net toegegaan, en intussen het elkeen van hierdie kliente werklik in waarde tot my lewe toegevoeg... my geseen met soveel gesenke - nie net materiele goed nie, maar sielsgoed... ek het besef dat ek nie geld nodig het om goed en eerlik te lewe nie... dat ek nie nodig het om lelik met ander mense te wees om goed oor myself te voel nie...

My kind was baie baie goed vir ons die afgelope twee jaar, familie, vriende en vreemdelinge het hulle harte oopgemaak teenoor ons. Ons het ook geleer om tevrede te wees met wat ons het, nie te bekommer oor die dag van more nie want ons dien n Groot God wat ons nie een dag alleen gelos het nie. Dat ons elkeen hier op aarde is met n doel, dat elke dag sy eie dinge bring, of dit goed of sleg is hang uitsluitlik van jou as persoon af...
Dat n oog vir n oog en tand vir n tand nie altyd die oplossing is nie, dat draai die ander wang werklik werk...
Dat om minder as die volgende persoon te he nie sleg is nie, dat jy dan net dit wat jy het meer wardeer. Dat daar maar in elkeen van ons lewens n traan is ... dat elkeen van ons kosbaar en spesiaal is, dat ons nooit ons eie waarde mag onderskat nie! Dat ons tyd hier op aarde kosbaar is...

Nou vir eers genoeg geklets... tot ek weer tyd het om hier te kuier - God Bless!

Sunday, January 8, 2012

In haar voetspore...

Almal wat my redelik goed ken sal weet dat ek my lewe lank graag n Ester wou wees...
Ester beteken oggendster, en haar Hebreeuse naam Hadassa, is ook die naam van die mirteboom. As jy die blare of die vrug stukkend druk, word n aangename geur vrygestel...

As ek deur die lewe gedruk word, dink ek altyd aan Ester wat haar lewe gewaag het om die Jode te red... Ester was nie net fisiek n mooi vrou nie. Dit was juis haar innerlike wat die verskil gemaak het.



Ralph Waldo Emerson het ook gese: Ons kan die wereld vol reis om die skoonheid te vind - maar as ons dit nie binne-in onnself omdra nie, sal ons dit nerens anders kry nie.

Is jy ook soos Ester (die mirteboom) wat n aangename geur vrystel wanneer jy deur die lewe gedruk word?

Saturday, January 7, 2012

Engele...



As kind het ek ure gesit en kyk na die prentjies van Engele in ons ou groot kinderbybel... meeste van hulle groot, sterk mans met enorme vlerke... my verlustig in die verhale waar hierdie Goddelike wesens aan mense verskyn het, altyd so n lekker gevoel op my maag gekry oor al hulle goeie dade aan die arm, siek en eensame mense, en met n sug gebid... Liewe Jesus, stuur vir my ook asseblief n Engel...

Die afgelope twee jaar was moeilike tye vir my en manlief, maar in die swaar tyd het my pad met verskeie Engele gekruis... my Engele is nie net manlik nie en het ook nie vlerke nie, maar hulle is Engele in die ware sin van die woord.

Gewone mense wat jy straks nie eers sal raaksien as hulle in die straat by jou sal verbystap nie... Mense wat stilweg Liefde betoon, sonder ophef vir jou n brood of stukkie vleis sal gee, van die ander kant van die aarde af vir jou kruideniers by jou deur laat aflaai... splinternuwe meubels in jou sitkamer kom staanmaak, omdat jy joune moes verkoop om te oorleef, n medewerker wat stilweg vir jou n vleispasteitjie koop omdat sy agterkom dat jy nie broodjies werk toe bring nie... n blogvriendin wat n geldjie stuur vir brood en melk...


Liewe Jesus, baie dankie dat U my kinder droom om eendag n Engel te ontmoet laat waar word het!

Sunday, November 7, 2010

Mense



Ek word hoe langer hoe meer geboei deur mense.

Mense is n daaglikse avontuur - n Avontuur wat my daagliks meer verwonderd laat, nie alleen oor die liggaam wat jy kan sien en aanraak nie, maar veral oor die ondeurgrondelike misterie dat jy in so n wonderlike verpakking baie naby kan kom en tegelyketyd tog oneindig ver weg en onbereikbaar bly...

Natuurlik is daar die glansmense in die lewe deur wie jy moeiteloos kan sien en natuurlik is daar die gesigloses wat by jou verby haas asof hulle aangetrek word deur n geheimsinnige mag wat hulle geen rus meer laat nie. Dit is mense sonder geskiedenis, sonder diepte in hulle lewe. Van hulle begryp ek baie min, en tog ken ek van hulle en sou ek hulle nie kon ontbeer nie. Hulle is mense. Hulle het my nodig en ek het hulle nodig.

Mense met vraende oe en gespanne gesigte. Mense wat ly. Mense wat wanhopig is, wat verbitterd is tot in die murg van hulle gebeente. Mense wat nie meer in staat is om van enigiets in die lewe te geniet nie. Mense wat nie meer lewe nie, maar hulle bly deel van jou leefwereld.

En dan is daar die mense wat vir jou stof tot nadenke is. Mense wat vir jou blydskap bring, wat jou laat lag, mense wat bly is om jou te sien en dit ook vir jou se.
En die baie goeie eenvoudige mense met n verborge, onbegryplike rykdom in hulle harte...
WAT N FEES OM ONDER SULKE MENSE TE WEES!

Sunday, October 17, 2010

Die Rose se les...

Ek het n buurvrou gehad met n klein tuintjie wat sy liefderyk versorg het. Sy het besonder gehou van n paadjie wat met rankrose oordek was. Ek het haar op n slag geterg omdat ek haar altyd met n snoeisker in die hand aangetref het waar sy besig was om verwelkte blommetjies weg te knip.
Toe sien ek haar op n dag sonder die sker. "Wat is aan die gang?" vra ek haar toe. Sy het geglimlag: Jy behoort my te begryp, omdat dit eintlik jy is wat my laat insien het dat my jag op verwlkte blomme risiko's inhou.
Ek was al so behep daarmee dat ek omtrent net die verwelkte blomblare raakgesien het. Ek was so gefassineer deur die klein skoonheidsfoutjies dat die skoonheid van die geheel my skoon ontgaan het...

Sunday, September 19, 2010

Net n vinnige hallo...

Soos Sandra vanoggend se: besig is goed en ek stem volkome saam...
Ek is regtig baie besig en kom maar bitter min by my rekenaar uit, saans is dit kosmaak, kombuis opruim, broodjies vir die volgende dag regmaak, bad en bed want teen daardie tyd is ek moeg verby.

Dit gaan goed met die maatskappy waarvoor ek werk en my rooster is geweldig vol, ek wonder sommige aande hoe ek deur die dag gekom het en dit nog op tyd. Ons werk volgens n tyd-rooster want die klient betaal per uur.
Dan worstel ek nog tussen kliente met die stads verkeer en ander motoriste se ongeduld... stukkende verkeersligte wat in 4 rigting stoppe verander, en glo my bitter min mense weet wat om dan te doen!

So aan almal wat gewonder het waar ek is - dit gaan goed en besig.
Ek wardeer elkeen wat nog op my blog kom lees en kommentaar los al kom ek nie by julle uit nie ek vergeet julle nie...
Ek en Sandra loop mekaar so van tyd tot tyd op facebook raak en wissel n paar woorde...
Charmaine, dit gaan goed dankie vriendin, ek weet jy verstaan van kom nie by die blogs uit nie.
Cecile, baie dankie vir jou getroue kommentaar en ook jou begrip as ek nie altyd antwoord nie.
Sonja jou blog vra vir my n kode en ek het geen idee wat dit is nie, dankie vir die resepte wat jy gemail het ek het dit ontvang.
Miekie hoop dit gaan goed met jou vriendin.
Zee en ek kuier deesdae op facebook.
Muriel en ek het nog nie by die koffie drink uitgekom nie maar sal verseker nog, sy sal my net eendag in haar tuin raakloop.
Mariekie, meraaitjie ek mis jou vriendin.
Oom perus sien ek gereeld want hy is my man se ouboet, dit gaan goed met hom en skoonsus.
As ek iemand vergeet het vra ek verskoning, julle almal bly in my hart en gebede.

Hou my maar asseblief altyd ook in julle gebede - want soos my prentjie hierbo tereg se; keeping cool in the face of your most difficult customer is nie altyd maklik nie...

Tot ons weer gesels: God bless!

Sunday, September 12, 2010

Ek glo...

...aan die LIEFDE
Die geloof het ek nie van n predikant of teoloog ontvang nie, maar van die wonderlikste mens wat ek nog ontmoet het, my pa.
Ek glo in God soos n blinde aan die son glo,
nie omdat hy dit sien nie, maar omdat hy dit voel.
Ek beleef die misterie elke dag diep in myself en in alles wat my omring.
As ek n mens sien, al is dit n gebroke mens,
dan glo ek in n wese wat groter as die mens is...
Ek glo aan die inherente goedheid van die mens
soos ek glo
aan die lente wanneer ek die lentebloeisels sien.

Tuesday, September 7, 2010

Liefde...

is in jou
as die lyding van ander
vir jou pynlik is,
as jy die honger van miljoene
in jou eie liggaam voel,
as die eensaamheid en
die angs,
die nood en die wanhoop
van die swakkes...
jou eie hart verskeur.

Tuesday, August 31, 2010

Gebed van n ouer.



Ek is so moeg van wakker le en wroeg...
My hart is vol kommer oor my kinders se toekoms
Toe hulle klein was
Kon ek hulle teen my vasdruk as hulle seerkry
En pleisters plak en spoeg aansmeer
Todat hulle weer lag.

Nou is hulle groot en hulle seerkry is anders
Ek kan hulle nie meer vasdruk nie
Ek voel so magteloos
Ek kan niks meer vir hulle doen nie

Ek kan maar net vir hulle bid en hulle aan U opdra
GROOT KONDUKTEUR
Ek laat hulle vanaand op U trein
Neem hulle asseblief saam met U op reis

Laat my rustig aanvaar dat ek nie meer kan saamgaan
En neem sommer my bagasie van skuldgevoelens
Waaraan ek so swaar dra ook met U saam

Ek dank U dat U hulle eintlike Vader is, hulle Bloedpa
Dit, omdat U seun hulle met sy bloed gekoop het
Lig U hande seenend oor my kinders Here
En laat hulle opkyk na die hande wat hulle seen

Laat hulle hulle name onuitwisbaar sien in U handpalms
En laat U bloed wat daaruit vloei hulle reinig van alle -
Ja regtig alle sonde

Ek wuif vir hulle terwyl U met hulle verder
Op hulle lewensreis vertrek
Dankie tog Here, dat ek kan weet
U is hulle Redder - ek dank U daarvoor
AMEN

Sunday, August 29, 2010

Dankie




Wanneer groot en wonderlike dinge in my lewe gebeur, voel dit altyd vir my dat Dankie so n ou afskeep woordjie is...

Ek moes die afgelope tyd soveel keer dankie se:
Die jaar tot dusver was baie baie moeilik, maar ek wil graag vanoggend hier stilstaan en met julle deel die wonderwerke wat in my lewe plaasgevind het in hierdie swaar en soms donker tye...

Eerstens het ek nie regtig woorde om God se groot Genade aan ons betoon te beskryf nie. My klein woordeskat beskik nie oor groot genoeg woorde daarvoor nie.
Daarom kan ek net met groot nederigheid my hoof buig en met n opreg dankbare hart - Dankie Vader se!

Ek wil en kan regtig nie een persoon bo n ander hier uitsonder nie, want ons is deur die bank eerstens met LIEFDE bedien hierdie jaar. Want as jy nie Godelike Liefde het nie kan jy nie Genade aan iemand betoon nie... as jy oordeel is daar geen tyd om iemand lief te he nie...

Aan my Hemelse Vader: Dankie vir al die wonderlike mense wat U deel van ons lewe gemaak het.
Aan al die wonderlike mense wat my Hemelse Vader deel van my lewe gemaak het: Baie baie dankie.
Ek wardeer elkeen van julle en het julle opreg lief.

Dankie vir elke gebed.
Dankie vir elke finansiele bydrae.
Dankie vir elke omgee oproep, sms boodskap, e-pos, besoekie as jy in die dorp is.
Dankie vir die kruideniersware wat vir ons gekoop is.
Dankie vir die splinternuwe meubels voor my deur afgelaai.
Dankie vir opregte omgee liefde...


Dankie!

Sunday, August 22, 2010

Hoe Hartseer...



Sy was skatryk...
En sy wou dood wees.
n Tweede huis in Waterkloof, een in die Wildernis en n Bosveldplaas in Rustenburg.
En sy wou dood wees.
Sy het pille gedrink.
Die dokters kon haar red.
Sy het na my gevra - twee ure lank het ek geluister na haar verhaal, en ten slotte het sy gehuil:

"Ek sou alles prysgee, alles prysgee, as ek maar net n bietjie geneentheid en vriendskap kon ken."

Jy kan gelukkig wees in n hut met liefde en diep ongelukkig sonder liefde in die swiergiste villa, versier tot teen die plafon...

n Hut en n hart is al wat jy nodig het om gelukkig te wees.

GELD MAAK MENSE ARM!

Monday, August 9, 2010

Elke Tree



Elke tree skets n verhaal.
Van waar ons was en waarheen ons wil gaan.
Soveel beloftes binne my.
Maar daars net Een wat regtig ewig bly!
Ons loop n pad van hartseer soms...
En as ons terugkyk weet ons wat dit kos.
Maar die lewe stop nie, dit gaan aan
Want ons maak staat op sy Naam!
Op hierdie vrouedag wens ek jou voorspoed met elke tree
Mag elke voetspoor duidelik uitroep...
Daar is n beter pad vir jou en my
n Pad van lig wat na sy troon lei...
Die lewe deel jou net een hand
En dis die Vader wat ons vuur laat brand
Verlore tog was ek en jy
maar terug na Hom is waar Sy liefde lei!

Geniet Vroue dag.

Saturday, August 7, 2010

Salarisdief...




Jy het my privaatheid ingedring deur my geld onwettig vir jouself te neem. Jy het op n skelm manier by my bankrekening ingebreek en my geld vir jou gevat.

Jy het my eerste salaris gesteel en in die proses my kos en vreugde van my af weggeneem!
Met jou optrede het jy probeer om ook van my n skurk te maak, want nes jy is ek nou desperaat en sonder geld... sien ek is die enigste een wat geld verdien na ons agt maande sonder n inkomste was!
As ek nou geld wil he sal ek dit ook van iemand moet steel... MAAR EK WEIER!

Ek bid elke aand vir jou siel sodat jy kan ophou steel en roof en dat die Here jou sal vergewe vir wat jy aan eerlike hardwerkende mense soos ek doen.
Ek is nie meer kwaad nie ek bid net dat jy nie meer skade met my eerlike verdiende geld sal aanrig as wat jy alreeds gedoen het nie.

Saturday, July 24, 2010

Jy kan as jy wil!


Hy is een van die ouer garde. Trek al n paar jaar in die sewentig. Een van daardie mense wat op n onderhoudende manier stories vertel " uit die ou dae" , sy verteltrant so boeiend dat jy vir ure kan sit en luister as hy op dreef is. n Man met n baie besondere sin vir humor wat tussen sy vriende bekend is daarvoor dat hy n staaltjie kan vertel soos min ander. Maar n man wat ook die ander kant van die lewe ken. Iemand wat weet waarom dit werklik gaan. n Man van integriteit, van durf en daad, van vasbyt en koershou en klaarmaak.

Hy't grootgeword in die jare van die groot droogte van 1933 en depressie wat daarop gevolg het. Sy pa was n boer wat bitter swaar gekry het om te voorsien in sy gesin se behoeftes.
Hy skuif so n bietjie vorentoe in sy stoel en kyk my waterpas in die oe, hierdie verfynde man wat dit ver gebring het in die lewe omdat hy die wil gehad het om te wen!... hierdie man wat geweier het om iewers in n obskure hoekie van die lewe te bly sit. " jy kan van my vertel daar op jou "blokkie" se hy toe ek hom daarna vra, maar jy mag nie my naam noem nie hoor - wat is ek dan nou anders as ander mense? ek het mos niks besonders gedoen nie".
Maar terwyl hy gesels, ontvou daar n verhaal van een van die merkwaardigste mense wat ek ooit in die lewe leer ken het. dis die verhaal van n hegte boeregesin in daardie swaarkry jare. Van n moeder wat haarself soggens afgesonder het om hardop tot die Here te bid vir hulp en leiding en krag vir die eise van elke dag. Van n Vader wat alles veil gehad het vir sy gesin en gedoen het wat hy menslik moontlik kon om die mas te probeer opkom. Ons het swaargekry... ons het twee pragtige karperde gehad, en my pa was so lief vir sy diere. Maar eendag het hy, sonder om iets te se, net dorp toe gery met die kar en perde en sonder hulle teruggekom op die plaas, want ons moes geld he om van te lewe.
Ek luister met aandag en soveel deernis na hierdie lewensverhaal. Dit gryp my aan die hart, veral omdat daar geen selfbejammering in die vertelling daarvan te bespeur is nie. Inteendeel... veel van die verhaal van swaarkry is derspek met dieselfde humor waarvan ek reeds vertel het: die lekkerkry en vreugde van broers en susters wat grootgeword het in n huis waar hulle van jongs af die regte lewenswaardes geleer is.

Hy't na matriek gaan werk by n fabriek en n fiets op skuld gekoop. "My salaris was twaalf pond n maand en die fiets het ek oor n tydperk van n jaar afbetaal teen n pond per maand". Hy't skofte gewerk en het redelik ver van sy werksplek loseer. Hy was nog maar jonk en die skofure het geen genade geken nie. In die felle son, in die middernag, deur wind en weer, gesond of olik - moes hy sy fiets trap. Stukke van die pad was opdraand. ek moes maar hard trap om bo uit te kom, veral as die wind van voor was. Dit was maar vermoeiend. Maar dit was goed vir my, jy moet verstaan dat ek nie kla nie hoor, dit was goed vir my!
Sy oom wat op Vereeniging woon, het hom laat weet dat hy n beter werk daar kon kry. Hy het dus sy werk bedank en met sy karige besittings en sy fiets tydelik intrek geneem by die oom en tante van hom. Toe hy die eerste dag by die "nuwe beter werk" aankom, was daar n misverstand en die persoon wat hom sy werk moes aanwys, gee hom n taak as slyper. Hy moes vir twee maande slypwerk doen! Op n dag is die ongelooflike misverstand uit die weg geruim en het hy n klerklike pos by een van die groot fabrieke in Vereeniging gekry. Daar het hy gewerk vir drie jaar. Todat hy geweet het, helder en seker geweet het: hier wil ek nie bly nie. Hier gaan ek nie my lewe slyt nie. "In my hart was n droom. Ek wou n dokter word" Saam met my het n Engelsman gewerk. Sy naam was Robbie McIntosh. Op n dag loop ek na hom: Robbie, can you lend me fifty pounds, please? I want to go and study medicine. I want to become a doctor...
Met daardie vyftig pond is hy na die universiteit om hom te gaan inskryf en met behulp van verdere lenings kon hy sy studies as geneesheer voltooi. Na sowat nege jaar in n praktyk het hy weer gaan studeer en gespesialiseer.
Hy't die hoogste sport in die lewe bereik, hierdie man wat hard moes trap om bo uit te kom, hierdie man wat die wind van voor gehad het. Hy't bo uitgekom omdat hy die wil gehad het om bo uit te kom... Van hom sou ek in die woorde van n bekende digter wou se: "Stil broers, daar gaan n man verby, bekyk hom goed, daar is maar net een soos hy!"
En watter boodskap van oom kan ek vir die mense wat my blog lees opsit vra ek hom.
Se vir hulle: n mens kan as jy wil. Dis die hele geheim. Jy moet wil om te wen in die lewe. En hiermee dra ek sy boodskap aan jou oor. Handel daarvolgens. Dis louter wins!

Saturday, July 17, 2010

Aan my twee woestyn vriendinne...



Goeie more Sandra en Charmaine
Ek wil graag n gebed vir julle doen...

Liewe Heer, ek nader U troon baie nederig vanoggend en wil U eerstens dank vir U liefde. Heer ek wil U naam vandag groot maak want U alleen is waardig om die lof te ontvang. Laat my asseblief toe my Hemelse Vader om my vriendinne voor hierdie toer van hulle na U toe op te lig. Ek bid dat U op hierdie toer spesiale aandag aan hulle sal gee. Lei U hulle en inspireer hulle deur U Heilige Gees. Gee asseblief U Engele aangaande hulle bevel (volgens Psalm 91) om hulle op die hande te dra, soveel so dat hulle gedurende hierdie toer nie eers hulle voet teen n klip sal stamp nie. Dankie dat U twee sulke fantastiese mense gekies het om deel van my lewe te wees. Deur hierdie twee vroue het ek opnuut weer U Liefde ervaar.
Ek bid hierdie gebed vir my twee vriendinne en ek weet met n kinderlike geloof dat U my gebed sal verhoor, nie net omdat ek dit vra nie, maar omdat ek en my vriendinne afhangklik is van U my God.
Amen.

Love you, en lekker toer!