Thursday, April 30, 2009

Die Nuwe Lourens Baba

My Naam is Rascal...
Ek is 4weke oud en n Chihauhau
Tannie Sandra en Tannie Charmaine van Abu Dhabi United Arab Emirates het my vir my nuwe mamma en pappa gekoop.
Ek gaan die eerste week in Junie na my nuwe huis in Krugersdorp wanneer Tannie Charmaine my vir my nuwe mense mamma vat.
My mense mamma is so bly oor my, sy het sommer begin huil gisteraand toe Tannie Sandra vir haar die foto's van my stuur...(vroumense is darem maar dom...huil wanneer hulle bly is?)
Nouja Ooms en Tannies, dink maar vir die volgende paar weke aan my nuwe mamma, ek verstaan sy het alreeds vanoggend vir my nuwe mense pappa n lysie gegee van wat sy alles vir my moet koop...
Kombersie, water en kosbakkies, n naamplaatjie vir om my nek...
Ek dink ek gaan sommer baie lekker bly by my nuwe mense!
Baie dankie Tannie Sandra en Tannie Charmaine dat julle my gekies het om by hulle te gaan bly!
Julle gaan sommer nog vreeslik baie van my sien op hierdie blog!

Tuesday, April 28, 2009

Wonderlik Gemaak!

Ongelukkig het ek nooit biologie op skool geneem nie, maar hoe meer n mens van die menslike liggaam weet, hoe duideliker besef jy presies hoe wonderlik jy deur God geskep is en hoe ongelooflik elke deeltjie van die menslike liggaam saamwerk.
Met die lees van Philip Yancey en dr Paul Brand se boek Na God se beeld was ek letterlik sprakeloos toe ek die hoofstuk oor die liggaam se senuweestelsel klaar gelees het.
Ek het vir meer as n week in n dwaal rondgeloop. Telkens as ek oor al die ongelooflike nuwe feite wat ek geleer het, nagedink het, het dit elke keer vir my gevoel asof ek op heilige grond staan. Ek was/is oneindig beindruk deur die grootheid van die Skepper-God wat die mens inderdaad "net n bietjie minder as n hemelse wese" gemaak het.

Neurone, verduidelik Yancey, is die belangrikste kommunikasie-eenheid van die menslike liggaam. Reeds by geboorte is daar 12 miljard van hierdie neurone, wat gereed staan vir aksie, in die liggaam teenwoordig. Alle ander selle in die liggaam sterf elke paar jaar en word dan deur nuwes vervang, maar nie neurone nie. Hulle is die liggaam se geheuebank en dra boodskappe na en van die brein. Vanaf die neurone strek die dendriete (dun kantagtige uitsteeksels) tot by die liggaamsdele vanwaar hulle die impulse moet oordra. Hierdie dendriete is so inmekaarverweef dat dit selfs met n mikroskoop onmoontlik is om te sien waar een eindig en n ander een begin.
Tussen elkeen van die 12 miljard neurone is daar weer n definitiewe gaping wat n sinaps genoem word.
n Enkele breinneuron kan tot 80 000 aparte verbindings he, en wanneer n sein daardie motoriese neuron tot aksie stimuleer, kom duisende senuweeselle in die omgewing dadelik tot n gereedheidsgrondslag. n Enkele senusel kan tot 1 000 aparte impulse per sekonde dra - met n pouse tussen elkeen.
Elkeen van hierdie impulse word deur die brein gemonitor en deur sowat 10 000 sinaptiese verbindings langs die pad beinvloed. Omdat die brein onmoontlik elke besluit in die liggaam direk kan beheer, word baie situasies deur n betroubare refleksstelsel hanteer. Reflekse is ingebou en onveranderlik - dus sal jou knie altyd in die lug opskiet as daar op die sening onder jou knie getik word. Die oog knip refleksief, n mens sluk refleksief en jou speeksel word refleksief vrygestel.

In die breinstam is daar nog n beheersntrum waar outomatiese funksies soos asemhaling, spysvertering en hartklop gereguleer word. Net om asem te haal, verg die samewerking van 90 verskillende borsspiere. Die hoogste hierargie van die senustelsel is in die serebrale hemisfeer van die brein gelee - dit word baie goed deur die kopbeen beskerm, omdat dit ekstra kwesbaar is. Hier is daar 10 miljard senustelle en 100 miljard gliaselle (hulle verskaf die biologiese "batterye" vir die breinaktiwiteit) wat almal in n jellieagtige massa dryf, terwyl hulle inligting sif, geheue stoor, bewussyn skep.
Die finale besluit wat die spiere en beweging beheer, is in die enkele neuron wat die spiervesels beheer, opgesluit. Die selliggaam van die neuron ontvang n hele hoop prikkels vanaf die senuwees, opdragte stroom vanaf die brein daarheen - maar dit is die neuron wat besluit watter van hulle uitgevoer gaan word.
Die mikroskopiese rekenaar in elke senuweefsel stel die bedoelings van die brein vas, bepaal in hoe n mate pyn, of uitputting onderdruk word, en stuur dan n "ja" of n "nee" aan sy spiergroep.
Voorwaar ongelooflik! Hoe groot is die God wat elke mens met soveel presisie "aanmekaargeweef" het!

Hemelse Vader,
die manier waarop U my gemaak het,
slaan telkens my asem weg!
Dankie dat ek kan sien, hoor, ruik, proe en voel.
Dat ek kan dink en droom, besluite kan neem en U kan aanbid en liefhe.
U het my inderdaad op n wonderbaarlike wyse geskep.
U het my volgens U volmaakte beeld gemaak, Here.
Gee dat ek nooit sal ophou om verwonderd te wees oor die feit dat ek die kroon van U skepping is nie.
Amen

Feite verkry uit Philip Yancey & Paul Brand se boek Na God se Beeld, bl 155 - 159.

Thursday, April 23, 2009

Asseblief en Dankie

Na my mening twee towerwoorde... en n teken van goeie maniere!
Ek is die laaste tyd op n missie oor hierdie twee woorde...

Ek kom sopas terug van die winkels af en omdat ek net so twee keer n maand die kar het maak ek van my inkopie dae n avontuur, ek doen dit met vreugde en oorgawe.
Maar vandag het ek brom brom en verergd my inkopies gedoen.
Ek koop regtig baie lekker by hierdie betrokke winkel, groot spasies tussen die rakke, regtig groot spesiale aanbiedinge daagliks, alles waaraan jy kan dink kry jy hier onder een dak.
Hulle diabetes produkte is in groot verskeidenheid verkrygbaar...

...Maar die personeel in hierdie lieflike groot goed uitgelegde winkel is so nors en ongeskik soos kan kom! Kliente in hierdie winkel word regtig soos hindernisse in plaas van kliente behandel.
By die lieflike skoon reukvrye slaghuisafdeling staan ek langs n vrolike ouerige vroutjie, en sy vra vir bene asseblief... die vrou agter die toonbank blaf, ja blaf vir haar dat hulle net murgbene het, hierdie was letterlik woorde, nie eers n sin nie, sulke kort-blaffende-woorde... n op en wakker slagtertjie vra toe aan die vriendelike vroutjie of hy kan help, sy vra toe weer vir bene asseblief... hy stap direk na die afskorting waar die bene gehou word, haal n pakkie uit, gee dit aan die blaffende murgbeen om geprys te word... baie dankie vir al jou moeite se die vroutjie aan die blaffende murgbeen toe sy die pakkie aan haar oorhandig.
Ek wil net n paar stukkie koue vleis koop, maar is te bang om te vra... nie te bang vir murgbeen nie, te bang vir myself as murgbeen dalk vir my sou blaf!
By die betaalpunte klets die kassiere so met mekaar, kliphard en ongeskik, en alhoewel ek nie n woord verstaan van wat hulle se nie, is ek seker hulle is besig om aanmerkings te maak oor die kliente en die "goodies" wat hulle koop.
Wanneer jy jou kleingeld ontvang, beteken jou dankie vir hulle net mooi niks!

Ek het myself voorgeneem dat ek weer by hierdie winkel sal gaan koop... maar met n groot plakkaat voor my bors vasgespeld waarop iets soos die volgende sal staan:-
"Please note - a client is a person who at the end of die day pays the cashiers and assistants through the purchases she buys!
Clients = sales = salaries and wages!

Een klein ou Spar winkeltjie in Rustenburgweg, Wes Krugersdorp is waarlik n fees om by te gaan koop. Die personeel by hierdie winkel groet jou, vra hoe dit gaan en wens jou n lekker dag toe as jy klaar "geshop" het.
Wat n fees om gou daar in te draf! In hierdie winkel word elke asseblief en dankie met n groot glimlag beloon!

Monday, April 20, 2009

Herfstyd

Die ooreenkoms wat daar tussen die seisoene en die lewensloop van die mens bestaan,
sit my elke herfs aan die dink...
Wanneer die dae stil word en die son by die noordvensters begin inskyn,
weet jy die herfs maak die blare los wat in die lente so groen geskyn het.
Die groen slaan oor in al die vuurkleure wat te bedinke is!

Herfstyd... vir my die mooiste tyd, herinneringstyd.
Dit is die natuur se tyd van salwing vir die menslike gees.
Herfstyd is soos die verposing voor elke afskeid, n tyd om vrede te maak met gister...
met vandag en met more...

Friday, April 17, 2009

Sommer net vir julle almal...

As jy huil... Roep my. Kan nie belowe om jou te laat lag nie, maar ek kan saam met jou huil.
As jy voel jy wil weghardloop - Moenie bang wees om my te roep nie. Ek belowe nie dat ek jou sal kan keer nie... Maar ek kan n ent saam met jou hardloop.


As jy voel jy is moeg geluister... roep my. Ek belowe om daar te wees vir jou. En ek belowe om doodstil te luister.
Maar as jy op n dag roep... En ek antwoord nie... Kom kyk gerus. Miskien het ek iemand nodig!

Thursday, April 16, 2009

Wat is jou talent?

Om dit te weet moet jy jouself ken, jou natuurlike self verstaan.
Jy moet kan onderskei tussen wat natuurlik vir jou kom en wat vir jou moeilik is om te bereik en te voltooi.
Elkeen van ons is goed in n sekere iets. Jy moet egter nie begeer om te doen waarin iemand anders goed is nie.
Ons is almal unieke skepsels deur God gemaak. Daar is iets wat jy beter kan doen as enige ander persoon. Om talentvol te wees vra dat jy op dit sal fokus.
Om jou talente te ontwikkel moet jy n liefde en waardering vir die skone aankweek.
Om jou talente te ontdek moet jy jou visie verbreed, jy moet n gesonde selfbeeld ontwikkel.
Jy moet kies om talentvol te wees.
Woorde en denke het krag - komplimente kan inderdaad help om jou talente te ontdek of verder te ontwikkel.
Talente en persoonlikheid loop egter hand aan hand... en hierdie belangrike aspek word dikwels buite rekening gelaat veral waar jong kinders gehelp moet word om hulle talente te ontdek en te ontwikkel.
Ongelukkig word jou talente nie vir jou gegee met n begin - en - eindpunt nie, jy moet dit so ontwikkel sodat jy voel daar's altyd nog iets om te bereik.
Ontwikkel soveel talente as wat jy kan wees...
wees n sanger, digter, atleet, skrywer, huisvrou, moeder, bejaarde, vriend, man of vrou...
Ons kan dalk nie almal wenners wees nie maar ons kan almal ons bes probeer.
Om te woeker met jou talente beteken gewoon doen dit wat vir jou plesier verskaf goed, doen dit gereeld en doen dit met vreugde en oorgawe!

Wednesday, April 15, 2009

...En Kritiek

Eina, dit maak seer!
Om deur die lewe te gaan sonder dat jy jou in die een of ander stadium teen n muur van hewige kritiek vasloop, is bykans onmoontlik...
En hiermee bedoel ek nie die gereelde stormpies van kritiek wat daagliks rondom jou kop losbars nie.
Nee, nou praat ek van skerp kritiek oor iets wat jy gese of gedoen het, of nagelaat het om te doen.
Dit is doodmenslik om te ontdooi wanneer jy lof ontvang maar heeltemal ineen te krimp wanneer kritiek uitgespreek word.

Kritiek is amper onvermydelik waar mense met mekaar in aanraking kom!
Ek persoonlik HAAT dit om iets of iemand te kritiseer en daarom probeer ek altyd onthou wanneer kritiek onvermydelik is... dat ek waardevolle kritiek moet gee en nie sommer net los aanmerkings nie!
Ek probeer altyd onthou dat kritiek NOOIT persoonlik gerig moet wees nie!

En wanneer ek aan die ontvangkant van kritiek is, herinner ek myself altyd dat kritiek geensins beteken dat ek as mens gefaal het nie...
Dit beteken doodeenvoudig dat ek iets gedoen het waarvan iemand nie hou nie, of wat hulle dink beter gedoen kan word...