Waarom eet ons om allerhande redes behalwe die ooglopende rede, naamlik honger?
In so baie mense se lewens word kos om ander redes as honger ingeneem!
Ek weet... ek sukkel my lewe lank self kort kort met hierdie probleem.
Eetbare dinge word daagliks gebruik om gevoelens van aanvaarding, gasvryheid en liefde uit te druk. Die kerel gee vir sy nooi sjokolade, die gasvrou poog altyd om haar gaste op iets spesiaals te trakteer. Eet is n sosiale funksie, dit is n teken van verwelkoming, vriendelikheid, gasvryheid en warmte.
In ons grootwordhuis was die etenstafel die bymekaarkomplek van die hele gesin,waar ons gedagtes gewissel het.Dit was die lekkerste kuiers om daardie ou eettafel en vir my is dit vandag nog so dat ek kos met mense assosieer.Dit is vir my aangenaam om n maaltyd saam met mense te geniet tot wie ek aangetrokke voel, veral saam met my kinders, want die oom se seun glo nou maar eenmaal dat die disse wat deur sy ma voorberei is (hoe eenvoudig ookal) die beste is!
Hoewel kos n uitdrukking van toegeneentheid kan wees kan dit ook ontaard in n minder mooi situasie waar liefde en toegeneentheid vervang word deur kos...
Wanneer liefde nie verkry of gegee kan word nie word kos as plaasvervanger ingespan, want kos is altyd beskikbaar... dit kan gekoop word!
Omdat ek myself so dikwels skuldig maak aan hierdie ,troos-eet' soos ek dit graag noem, het ek met ander mense hieroor gesels, en meer mense as wat ons besef maak hulle skuldig hieraan.
Sommige troos=eet in n soeke na liefde, ander uit woede, uit wraak, uit selfbejammering, uit ongelukkigheid,uit teleurstelling...
Gesels ek met n mamma van drie baie vet seuntjies wat se ouderdomme wissel tussen twee en agt jaar oud, en ek bedoel vet seuntjies...
erken sy dat sy glad nie in staat is om aan haar kinders emosionele warmte te gee nie en daarom gee sy oorvloedig kos, lekkernye en koekies... hierdeur probeer sy haar angs en skuldgevoelens in verband met haar kinders te sus...
Hoeveel mammas maak hulle in werklikheid skuldig hieraan? Hulle kinders se behoeftes aan emosionele dinge soos liefde en erkenning bly onbevredig en daarom word hulle behoefte aan kos groter!
Om sommer net te eet bly altyd dan n behoefte by die kind!...
En n lewenslange gestoei met gewig n ewige respons op die etery...
Se oom Daantjie, oud bosbouer en tans van Kameeldrif gemeente toe hy my redenasie van eet aanhoor:
Ag nee wat niggie;
ons afrikaners is mos maar altoos aan die eet wat, of ons nou vrolik of hartseer is, kyk nou maar by begrafnisse en troues staan die kakebene mos nooit stil nie. Ons het mos maar altoos n gesaam etery om na uit te sien!
En wat is nou lekkerder as dit niggie?!
No comments:
Post a Comment