Ek wens ek kon met n ligter tred deur die lewe gaan. Ek wens ek kon op die trippel van n glimlag lig en vlug deur die lewe loop. Ek wens ek hoef nie kwaad te word, bang te word, bedruk te word nie, want dit maak my ongelukkig om kwaad te word, dit verneder my om bang te word en dit roei my heeltemal uit om bedruk te word.
Daarom wil ek so graag met n ligter tred loop en n vrolike hart behou.
Kwaadword is my lewe lank nog vir my n probleem...
Want nooit kan ek lekker losrem kwaadword en kwaad bly nie. Die vlam van my ontstoke toorn het nog nie mooi opgelaai nie, dan voel ek al skuldig en onwaardig en bitter verdrietig. En binne n halfuur - klokslag - het ek om verskoning gevra, al het die een wat my kwaad gemaak het, my ook goeie rede gegee om kwaad te word. Dis nie soseer omdat ek die skuld vir die kwaadword by myself soek nie - nee, dis sommer omdat ek nie die spanning van n rusie kan verdra nie. En omdat ek dit nie kan aanvaar dat iemand anders vir my kwaad is nie. Daarom wil ek nou met erns die kuns van ligloop aanleer.
My verhouding met mense moenie vertroebel wees nie...
As ek my nou daarop kan toele om met n ligter tred deur die lewe te gaan, sal ek mos lag oor baie van die dinge wat my nou laat huil. Dan sal ek mos daartoe in staat wees om die spanning van enige drukte toestand te verbreek omdat ek daaroor kan lag. Dan sal ek my mos doelbewus daarop kan instel om die belangrike van die onbelangrike te onderskei en met n glimlag die grens van my eie vermoens en die van ander te erken.
Ek wens darem net dit was makliker om die filosofie van die vrolike hart aan te kweek. Dit sou ook seker makliker gewees het as die mense op die wereld mekaar makliker hul andersheid sou vergewe. Maar dit gaan swaar...
Jare gelede toe ek ook met so n aanvaarding geworstel het het my oorlede pa in sy wysheid vir my die volgende gese...
Weet jy wat, het hy in sy stil rustige stem gese; een ding het die lewe my geleer en dit is dat n mens n ander mens moet aanvaar soos hy is...
Ek weet dat ek toe meteens besef het dat dit my nogal swaar val om n mens altyd te aanvaar soos hy is, veral as dit n mens is wat ek liefhet. Daar kom tye dat ek tog so graag wil he dat hy n bietjie - net n klein bietjie - anders moet wees as wat hy is. Maar ek weet dat geen mens n ander mens regtig kan verander nie, net soos een mens nooit n ander mens met n argument kan oortuig nie.
Dit bring jou ook nerens om te bly treur omdat n ander mens so anders is as wat jy hom graag sou wou he nie.
En dit, glo ek, bring die ligter tred mee dat dit n mens in staat stel om die andersheid van ander mense makliker te aanvaar, om die verkille tussen mense te verwelkom en te wardeer as deel van van die wonderlike verskeidenheid van die lewe en die natuur wat die grootsheid van die heelal uitmaak.
As n mens met n ligter tred deur die lewe kan gaan, glo ek dat die instelling n waarborg kan wees teen die verstarring van jou gees - ook n waarborg teen die verveling waarvan die lewe so propvol is, teen die swaarwigtige, die onplesierige, die eentonige, en die swaarmoedige.
Ek glo dat n sin vir die betreklike in die lewe noodsaaklik is vir die filosofie van die vrolike hart. Ek glo dat n mens wat die kuns kan baasraak om met n ligter tred te loop deur die spanninge wat die lewe bring, deur botsende menslike verhoudinge, deur vreugde en smart, hoop en teleurstelling uiteindelik sal vind dat die ligter tred die gawe van die liefde is...
No comments:
Post a Comment