Thursday, June 19, 2008

Renoster-of-Roos

Bel n vriendin van die stad my laataand gister... en na ons lekker gesels het gaan my gedagtes terug na haar groot vieswees vir my...

Sit ek en sy destyds en gesels oor hulle toe pasafgelope vakansie: Groot natuurmense die twee - en was die vakansie toe onder bespreking juis weer in die bosveld gewees en vertel sy vreeslik opgewonde van die dag wat hulle gaan Renosters kyk het...

Ek verstom my dat daar mense is wat douvoordag sal opstaan, ver sal ry en lank sal wag net om n renoster van naby te sien. Hoekom wil n mens n renoster sien? n Renoster is mos nie mooi of betekenisvol of besielend nie. Altans nie vir my nie... se ek ook toe vir haar dat dit my nie blyer of ryker of verstandiger sal stem om n renoster te sien nie. Hy sal my net bang maak en verveel. En buitendien sal hy NOOIT naby genoeg aan my kom dat ek hom regtig goed kan sien nie. Dus, n renoster laat my koud!

Nee wat, ek kyk liewer na n roos as na n renoster, al het ek n roos al duisend keer gesien en n renoster nog net een keer in n museum, en toe was hy nog opgestop. Lewendig hoop ek om hom nooit te sien nie. In elk geval sluit hy nie aan by my belangstelling en my persoonlikheid nie. Ek het met hom niks gemeen nie. Hy le buite my begripsfeer... soos wiskunde en skaak!

Omdat die vriendin toe nou so ontsteld en vies is oor my houding, doen ek toe destyds n bietjie navrae onder ander vriende en kenisse oor die onderwerp... sommige stem toe met my saam; ander verskil weer...

Buurvrou se ewe opgewonde dat sy graag alles sal wil sien wat daar te siene is in die lewe... haar nuuskierigheid omsluit alle dinge...
Nee se Jan, hy wil beslis nie alles sien nie, se hy hou nie daarvan om n gat in n kous te sien nie en sal nooit n voorbode wil sien nie...
Marietjie se weer sy wil nie graag oumensskoene aan n jong vrou sien nie - en daarmee weet ek, skimp sy eintlik op die paar gemaklike winterskoene wat ek toe sopas vir my gekoop het... maar wat sy baie graag wil sien se sy, is n tandarts wat by n ander tandarts moet deurloop...

Redeneer ek toe so... n mens se gees is mos nie n rommelkis waarin jy enige ding prop nie. Jy wil tog beheer uitoefen oor die dinge waarna jy kyk... en n renoster, stel ek my voor, sal n mens se gemoed so volstaan dat daar maar min plek oorbly vir n roos!

Natuurlik weet ek dat n mens die renoster maar moet aanvaar as n regmatige en noodsaaklike skakel in die skeppingsplan.
En hy het seker sy volgelinge wat weet waarom hulle hom hulde bring... Ek wil self toegee dat ek moontlik iets misloop deur nie vroeg op te staan, ver te ry en lank te wag op die verskyning van die renoster in al sy imposante onooglikheid nie.
Maar vir my in my onvolkome menslikheid is die afstand tussen die renoster en die roos nog te groot. Albei kan ek nie omvat nie; dus keer ek maar my rug op die renoster en reik selfs in die winter na die roos...

Want, so dink ek altans... om ewe ontvanklik te wees vir die renoster en die roos, dui op benydenswaardige ewewigtigheid van gees en gemoed. Dat so n ideale toestand onbereikbaar is, wil ek nie beweer nie, maar ek vermoed dat dit vir die meeste van ons maar n gedurige wik en skik sal kos om die verhouding tussen die renoster en die roos min of meer reg te hou...

1 comment:

  1. Weet jy dat jy my hier aan Audrey Blignault se skryfstyl herinner? En dit is 'n GROOT kompliment! (En ek doen my bes om nie jaloers te voel nie...!)

    ReplyDelete