Die buuroom se hoenderhaan was vanoggend besonder haastig om die dag te groet
en het my alreeds tien voor vier by die koffie ketel gehad.
Ons beleef skielik Junie weer in Desember en daarom beland ek toe met my beker koffie
in my winterhoekie vanoggend.
Die onverwagse winterweer het reeds gisteroggend hier by ons kom kopuitsteek,
ek en die oom was vroegoggend oppad, en moes met n skok gryp na n warm dingetjie...
dit was snerpend koud!
By die gebou waar ons moes wees was die oom soos gewoonlik oorhaastig en moet ons wag
vir 8H30 dat die deure oopmaak.
Almal staan koulik met truie en baaidjies rond, die wind sny deur murg en been...
Die karwag wat daar oppas kom koes koes aan vir haar dagtaak en sit haar botteltjie water
onder die boom by ons motor neer:
Ek skat haar so by die 60jaar oud, verrimpeld, sonder tande, rubber plakkies aan haar voete, n goeie 2nommers te groot, en n denimbroek aan wat duidelik al n paar jaar gelede uit die mode geraak het, daarby n dun verbleikte T hempie aan:
Ek sien sy kry koud... en ek weet as sy koudkry is sy honger ook!
Maand vir maand moet ek na hierdie gebou kom, om vir die ou meisietjie te kom beduie dat die oom nou nie sonder die ou pilletjies of die inspuitings kan aangaan nie, maar volgende maand kort daar maar weer n item of twee in die pakkie...
en so ken ek hierdie gebou en sy mense goed... en hulle vir my!
maar dit is nou die eerste keer dat ek die ou vroutjie daar kry:
So los ek nou gisteroggend die oom om maar self die groot geveg te hanteer met die ou meisietjie,
want sien my kop en my hart is by die ou vroutjie buite onder die boom...
Ek bly so lekker in my gerieflike huisie, het elke dag genoeg kos om te eet, kom vanmore n ou warm dingetjie oorgooi teen die onverwagse koue...
en ek probeer my indink hoe hierdie ou vroutjie moet leef...
Die oom wen sy geveg by die toonbank en ons mik vir die motor...
Buite by die motor vra ek die oom sy beursie, goed soos hy my ken, weier hy om die beursie aan my te gee maar gee my n noot, daarmee kies ek koers na die wegneemete karavaantjie onder n ander boom, en koop n warm pastei en koppie koffie...
terug by die motor gee ek dit aan die ou vroutjie, plus die al die kleingeld van die noot wat die oom my gegee het,
met die dankie se slag kyk sy my vol in die oe en ek sien n eensaamheid daar wat n pyn deur my laat skiet wat ek seker nie gou sal vergeet nie...
Terug in die motor, die oom al klaar in trurat, ruk ek die deur weer oop en val amper uit in my haas om by die ou vroutjie te kom,
want besef ek skielik...
sy kry koud ook!
Ek trek die warm baaidjie uit en gee dit aan die vroutjie, haar tandlose mond reeds vol van die groot hap pastei kan sy nie gou genoeg gesluk kry om dankie te se nie, maar ek sien dit in haar oe...
Die oom is glad nie ingenome met my vrygewigheid op hiedie wintersoggend in die middel van die somer nie...
Dankbaar dat hy nie my gedagtes kan lees nie noem ek hom toe sommer daar en dan n simpel ou mannetjie!
(sulke dinge doen ek net in my gedagtes)
Nodeloos om te se dat my gedagtes toe vanmore 4uur nog steeds besig was met die ou vroutjie...
en is ek so dankbaar vir alles wat ek hiedie jaar ontvang het...
te veel om hier op te noem:
onverwagte geskenkies, n randie in my hand: koop vir mamma iets moois,
maar die meeste van alles is ek vanmore dankbaar vir die liefde wat ek so oorvloedig ontvang van die mense wat na aan my hart le:
En daarom is my opregte gebed vandag:
Vader, daar is so baie mense om my wat dinge nodig het dat ek soms na handdoek ingooi voel.
Ek bid dat U my sal help om ander te help, om in hulle behoeftes te kan voorsien soos U in myne voorsien.
Amen...
Vir die ou vroutjie:
n sonneblom kan op n ashoop staan sonder om neer te kyk na die vuilgoed aan sy voete.
sy kop is altyd gedraai na die warmte van die son.
Mag God se warmte jou ook so trek, dat jou oe op Hom gevestig bly en jy sy skoomheid aan die ashoop van die wereld sal vertoon...
No comments:
Post a Comment