Vra Tessa my gisteroggend hierdie vraag:
Hoe lank mag n mens treur?
Hierdie is die verhaal van n vrou wat flenters geslaan is deur die lewe, en ek skryf nie ligtelik hieroor nie, ek staan respekvol voor haar pyn.
Ek loop die pad al agt jaar saam met hierdie vrou...
Begin ons gesprek gisteroggend so:
Twee dinge in die lewe maak my gedaan se sy; Die een is wanneer jy niemand het om te vertel dat jy swaarkry nie,
Die ander is wanneer jy niemand het om te vertel dat dit met jou goed gaan nie...
Tessa kon altyd vir haar man vertel hoe dit met haar gaan. Meeste van die tyd was dit juis oor hom dat sy goed gevoel het, en sy het hom dit graag vertel;
Dan het hy haar laggend vertel dat sy dit vir hom ook doen.
Dit was altyd haar lekkerste tyd van die dag wanneer hulle middae van die werk af kom en vir mekaar vertel wat hulle daardie dag reggekry het, en die een was bly oor die ander se regkry.
Saam was hulle suksesvol in hulle beroepe en die samelewing. Hulle het graag onthaal, het n groot vriendekring gehad, vol invloedryke mense.
En dan was daar die kerk...
Daar was hulle ook hoog aangeskryf. Hy was ouderling, sy orrelis; Gholf met dominee, shopping en tee met Mevrou...
en seks met die vrouediaken...
Dis nou Tessa se man, die ouderling, wat toe al die tyd saans na kerkraadvergadering sy ding gedoen met die sexy diaken-vrou...
Daardie dag toe sy hulle uitgevang het (ek dink dit sal aan haar hart bly pluk vir ewig) dit was die dag toe die goedvoel tussen Tessa en haar man opgehou het, om dit sag te stel.
Haar man wou nie loop nie, maar Tessa wou nie bly nie, nie eens in die kerk nie.
Sy wou net haar bed vat en loop!
Hoe kon God dit aan my doen? het sy vir my geskree-vra die volgende oggend. God het al die tyd geweet- alles geweet- terwyl sy soos n gek by die huis gesit en wag het met haar skraps 'nighty' aan. God en die hele gemeente het die hele tyd geweet- terwyl sy met n geluksalige uitdrukking op haar onwetende gesig agter die orrel vroom musiek sit en uitkraam het!
Haar man en God; die twee saam met wie sy altyd feesgevier het wanneer dit met haar goed gegaan het. Hulle was nou skielik weg uit haar lewe...
En toe is haar seun net so skielik en sonder waarskuwing weg. Een aand van die werk af gekom, sy vriend (hulle het n huis gedeel) se vuurwapen gevat en homself geskiet. Toe hulle haar daarvan kom se... ek was eerste by haar daardie nag... sy het net die hele tyd gese dit is nie waar nie, God help my dit kan nie waar wees nie.
Hulle wou haar nie sy liggaam wys nie. Haar seun wat na haar gekyk het, wat met sy lag en die pret in sy lyf gemaak het dat sy nie heeltemal van die pad af geloop het na die ding met die diaken-vrou nie... nie meer daar nie...
Tessa se man met-die-diaken-vrou was haar tweede man. Haar eerste man en pa van haar kinders, het haar verlaat nadat sy besigheid bankrot geraak het. ( haar die skuld gegee daarvoor)
n Jaar lank woon hartseer en woede by haar, en die een maak die ander om die beurt groter. Dit is n jaar waarin sy aan niks kan deelneem nie. Haar lyf is seer, sy kry pyne in haar kop, die hele helfte van haar liggaam word leweloos, en pyn dan weer. Om die yskas se deur oop te maak word vir haar te moeilik...
Na n jaar word haar seun se grafsteen onthul. Haar man (toe nog nie eksman) maar toe weer sonder die diakenvrou, woon dit ook by. Tessa kyk na hom en sy kyk na die grafsteen, en sy kan dit nie verdra nie. Voor ons almal, skop sy na die grafsteen- die eenwat sy self uitgesoek het- gaan klim in haar bakkie en ry roekeloos huis toe...
n Gtafsteen op n kind wat nog moes lag, se graf. Dit moenie wees nie..
Vreugde en smart is twee van die mees algemene aandoeninge van die mensehart. Hulle wissel mekaar gedurig in mense lewens af. Met reg mag gese word: Elke huis het sy kruis; elke hart sy smart!
Hoe lank mag n mens treur? vra sy my. My mense se hulle is moeg vir my gehuil. Dis nou al amper twee jaar...
Niemand kan vir jou se hoe lank jy mag treur nie se ek: maar ek dink n mens hou op treur wanneer jy besluit om iets voort te sit uit die lewe van die een oor wie jy treur...
Ek sal so van tyd tot tyd verderl vertel aan hierdie vrou se verhaal soos wat ek dit saam met haar beleef....
No comments:
Post a Comment