n Maand terug het ons vir haar n babatee gehou.
Gelag en gesels, geskenkies gegee. Drie en dertig jaar oud en ses maande swanger...
en nou is sy dood, en die baba n dogtertjie ook dood...
Lou se vrou en babadogtertjie, Jan en Nicolene se mamma en sussie... dood...
En hulle weet nie waaraan nie... moet wag vir die bevinding van die pataloog met die nadoodse ondersoek.
Ons gemeenskappie van vier en veertig huisgesinne is stom!
Ons staan almal rondom hom en sy kinders met ons beskermende deernis. Ons probeer opreg om die regte woorde uit te spreek en vertroostend op te tree. En elkeen van ons kom weer tot die besef dat, droefheid, lyding, pyn, en die dood n integrerende deel van die menslike lewe is... en dat NIEMAND teen droefheid gevrywaar is nie!
Een van die moeilikste dinge wanneer iemand sterf, is wat om vir klein kindertjies te se. Hoe kan hulle die dood van n ma wat hulle liefgehad het, verstaan?
Mense is onbekwaam om mekaar te troos...
Toe dit my en die oom se beurt was om iets aan hierdie bedroefde mense te se was dit die volgende:
Ons weet dat geen woorde van mense jou nou kan troos nie, al het ons al self deur hierdie donker vallei gegaan.
Jy moet dit self deurworstel en ontdek dat God altyd by jou is. Daarom kom sit ons vandag net stil by jou om jou smartgenoot te wees en te bid dat God jou krag sal gee in jou traumatiese en emosionele stryd. Dat Hy jou sal help om te verstaan en dat Hy aan jou vrede en gemoedsrus sal gee.Ons weet dat jou hart gebroke is, en dat jy nie teologiese verklarings of hoogdawerende redenasies nodig het nie, maar die genesende en vertroostende teenwoordigheid van God.
Here Jesus,
Dankie dat U ons hulpgeroep hoor.
Dankie dat U ons smarte ken dit vir ons dra.
Amen.
No comments:
Post a Comment