Tuesday, June 24, 2008

Comrades


Soos belowe vertel ek nou van Boet en die comrades...
Was die comrades van 15 Junie Boet se 6de wedloop!
Eerste ding wat ek hom vra is; Vertel my eerste van die pyn asseblief... maar Boet hou voet by stuk... geen pyn vir hom!

Enigste pyn wat hy ondervind het was die hitte...38 grade +...
Wegspring was om 5h30 die oggend, tweelingsus vertel dit was n belewenis! Deelnemers van reg oor die wereld, van elke kultuur, daar saam by die beginpunt, elk om sy eie 'memories' te maak wat vir altyd met hom of haar sal saamgaan.

Die Comrades is n baie uitdagende wedloop en baie geharde atlete sien nie hiervoor kans nie! Die Comrades word vooraf gegaan deur baie disiplinne, HARDE WERK, en toewyding! reg deur die jaar neem Boet deel aan verskeie wedlope, vir oefening, tydsberekening, en om sy wegspring posisie te bepaal by die Comrades. Nee kyk; hierdie een word nie verniet 'THE ULTIMATE HUMAN RACE' genoem nie!

Tweelingsus het n boodskap op haar foon gekry elke keer wanneer Boet oor een van die afsnypunte gegaan het en so kon sy tred hou met sy vordering.


Boet het baie goed gevaar tussen die wegspring en half merk, 43km en by Drummond is hy 10h44 oor die streep. By hierdie punt, vertel tweelingsus, het baie atlete opgeskop en op die busse geklim wat hulle sou neem na die eindpunt. Deels deur die hitte en deels van uitputting en dehidrasie. Tot op hierdie streep het Boet vir tweelingsus verbaas, sy moes hier vinnig haar wimpy koffie sluk om seker te maak sy is voor hom by die eindpunt!

Boet is vol lof vir die organiseerders van hierdie grootse wedloop. 48 waterpunte oor die roete, daar kon jy alles kry van water tot vaseline tot 'Deep Heat'. 50 noodbusse langs die roete, verkeie noodpersoneel. Boet reken dit is baie belangrik om genoeg te drink, te eet as dit nodig is en om na jou liggaam te luister!

Hierdie jaar was daar ook n nuwe reel by die Comrades; Niemand mag meer iemand anders dra of help as hulle nie meer self kan hardloop nie; n paar atlete verlede jaar so oorlede...

Hier teen laatmiddag daardie dag bel die oom se seun uit die stad om te hoor of ek al weet hoe dit met Boet gegaan het, is hy oor die eindstreep en is hy nog in een stuk. Almal van ons se gedagtes en gebede het hom voorwaar vergesel op hierdie dag!

Boet is oor die eindstreep om17h09. Tweelingsus se so 10minute agter Bruce... ja die einste!

Ons wil jou Gelukwens Boet... geluk omdat jy in jouself en jou drome glo!
Ja sus, dit is en bly waar... agter elke suksesvolle man... staan n toegewyde, hardwerkende vrou!

Saturday, June 21, 2008

Potlood

In die begin het die potloodmaker vir die potlood gese; "Daar is vyf dinge wat jy moet weet voordat Ek jou uitstuur in die wereld"

*Jy is in staat om groot dinge te doen, slegs as jy toelaat dat jy in Iemand se hand vasgehou word.
* Van tyd tot tyd sal jy n pynlike skerpmaak ondervind, maar dit is nodig sodat jy n beter potlood kan word.
*Jy beskik oor die vermoe om die foute wat jy maak , reg te maak.
*Jou belangrikste deel is wat binne-in jou is.
*Ongeag jou omstandighede, moet jy aanhou skryf...

Hemelse Vader,
ek loof U dat U dit vir my moontlik maak
om U potlood te mag wees!
Baie dankie vir al die kere in die verlede dat ek inspirasie direk van U gekry het
al die male wat U vir my presies die regte storie laat kry het
al die kere wat ek myself kon slyp
deur die boeke van ander skrywers te lees
en deur hulle geinspereer te word
Dankie vir U woord wat my daagliks inspireer
vir die insig en wysheid
wat n gewone mens daaruit kan put.

Ek bid dat U my sal help om altyd met groot verantwoordelikheid te skryf
sodat die woorde wat ek neerpen
uiteindelik u woorde sal wees-
woorde wat mense nader aan U sal bring.
maak my gewillig om in u hand vasgehou te word
en om aan te hou skryf, ongeag my omstandighede.
Amen.

Thursday, June 19, 2008

Renoster-of-Roos

Bel n vriendin van die stad my laataand gister... en na ons lekker gesels het gaan my gedagtes terug na haar groot vieswees vir my...

Sit ek en sy destyds en gesels oor hulle toe pasafgelope vakansie: Groot natuurmense die twee - en was die vakansie toe onder bespreking juis weer in die bosveld gewees en vertel sy vreeslik opgewonde van die dag wat hulle gaan Renosters kyk het...

Ek verstom my dat daar mense is wat douvoordag sal opstaan, ver sal ry en lank sal wag net om n renoster van naby te sien. Hoekom wil n mens n renoster sien? n Renoster is mos nie mooi of betekenisvol of besielend nie. Altans nie vir my nie... se ek ook toe vir haar dat dit my nie blyer of ryker of verstandiger sal stem om n renoster te sien nie. Hy sal my net bang maak en verveel. En buitendien sal hy NOOIT naby genoeg aan my kom dat ek hom regtig goed kan sien nie. Dus, n renoster laat my koud!

Nee wat, ek kyk liewer na n roos as na n renoster, al het ek n roos al duisend keer gesien en n renoster nog net een keer in n museum, en toe was hy nog opgestop. Lewendig hoop ek om hom nooit te sien nie. In elk geval sluit hy nie aan by my belangstelling en my persoonlikheid nie. Ek het met hom niks gemeen nie. Hy le buite my begripsfeer... soos wiskunde en skaak!

Omdat die vriendin toe nou so ontsteld en vies is oor my houding, doen ek toe destyds n bietjie navrae onder ander vriende en kenisse oor die onderwerp... sommige stem toe met my saam; ander verskil weer...

Buurvrou se ewe opgewonde dat sy graag alles sal wil sien wat daar te siene is in die lewe... haar nuuskierigheid omsluit alle dinge...
Nee se Jan, hy wil beslis nie alles sien nie, se hy hou nie daarvan om n gat in n kous te sien nie en sal nooit n voorbode wil sien nie...
Marietjie se weer sy wil nie graag oumensskoene aan n jong vrou sien nie - en daarmee weet ek, skimp sy eintlik op die paar gemaklike winterskoene wat ek toe sopas vir my gekoop het... maar wat sy baie graag wil sien se sy, is n tandarts wat by n ander tandarts moet deurloop...

Redeneer ek toe so... n mens se gees is mos nie n rommelkis waarin jy enige ding prop nie. Jy wil tog beheer uitoefen oor die dinge waarna jy kyk... en n renoster, stel ek my voor, sal n mens se gemoed so volstaan dat daar maar min plek oorbly vir n roos!

Natuurlik weet ek dat n mens die renoster maar moet aanvaar as n regmatige en noodsaaklike skakel in die skeppingsplan.
En hy het seker sy volgelinge wat weet waarom hulle hom hulde bring... Ek wil self toegee dat ek moontlik iets misloop deur nie vroeg op te staan, ver te ry en lank te wag op die verskyning van die renoster in al sy imposante onooglikheid nie.
Maar vir my in my onvolkome menslikheid is die afstand tussen die renoster en die roos nog te groot. Albei kan ek nie omvat nie; dus keer ek maar my rug op die renoster en reik selfs in die winter na die roos...

Want, so dink ek altans... om ewe ontvanklik te wees vir die renoster en die roos, dui op benydenswaardige ewewigtigheid van gees en gemoed. Dat so n ideale toestand onbereikbaar is, wil ek nie beweer nie, maar ek vermoed dat dit vir die meeste van ons maar n gedurige wik en skik sal kos om die verhouding tussen die renoster en die roos min of meer reg te hou...

Saturday, June 14, 2008

You Go

Hello my naam is Hugo (uitgespreek – You-go-)
Ek is n Yorkie en sewe maande oud.
Ek woon saam met my mense ouers in Rustenburg...
Soos julle op die foto kan sien is ek die mooiste yorkie nog!
Hier sit ek op my mense mamma se skoot.... my gunsteling plek!
My mense pappa het my vir haar gekoop toe sy baie baie siek was, en ek het dadelik op haar verlief geraak.
My mense ouers sorg baie mooi vir my.





My mense pappa laat my elke oggend saam met hom ry van die motorhuis tot by die hek en saans weer van die hek tot in die motorhuis... dit is vir my vreeslik lekker aangesien ek nie ver ente saam met hulle kan ry nie... sien ek word 'karsiek.'

Ek slaap ook vreeslik lekker saam met hulle op hulle bed, op my eie kussing, by my mense mamma se kop. Maar nou is dit so koud dat ek maar saam met hulle onder die kombers inkruip.
My mense pappa het vir my, my eie bedjie gekoop toe ek nog n baba hondjie was maar ek hou baie meer van hulle bed as my eie bed.

Ek het ook n mense hoor boetie en skoonsussie maar hulle bly baie ver... in Swaziland, op n plaas, en ek so in mensetaal dat hulle ook nou vir hulle n hondekind gekoop het.

Op die volgende foto sit ek by my mense oom; die van julle wat gereeld hierdie blog lees, sal hom ken as 'dieoom' Wanneer my mense mamma en pappa weg gaan dan kuier ek by die oom en Aunt N. Ek hou nogal van hulle ook want die oom speel lekker met my... sien ek het my eie mandjie met speelgoed, en partykeer dink ek, die oom dink regtig dit is sy speelgoed... soms moet ek bontstaan om my speelgoed by hom weg te kry.



Maar ek gee nie te veel om nie want die oom voer my altyd iets lekkers. Aunt N... dis mos nou die oom se vrou, hou weer baie daarvan om my te bad; ek hoor maar net sy se my mense mamma doen dit nie reg nie ( gmf). Ek hou nogal van Aunt N ook want sy se ek is haar maaitjie, en sy laat my ook toe om by haar en die oom op hulle bed te slaap.

Sommige dae as ek wakker word, is ek net lus vir stout wees en op sulke dae hardloop almal agter my aan want dan doen ek alles wat nie toelaatbaar is nie. My gunsteling stout wees is om ,of my mense mamma of pappa se onderklere te gaps en by die voordeur te gaan neersit... ai maar dis snaaks as almal dan agter my aanhardloop. Ek val ook graag in die swembad want dan word ek in n lekker warm handdoek toegedraai en drooggevryf. Ek hou ook vreeslik baie daarvan om my mense pappa se lip-ice of penne op te eet.
Ek dink dit is hoekom my mense mamma my geneem het vir 'puppy-training' ek het baie daarvan gehou en aan die einde van die kursus het ek n prys gewen.

Soms kan ek die mense wereld nie so lekker verstaan nie... ek het n hondemaaitjie gekry wat in die erf net langs ons woon, hy is nouwel baie groter as ek, maar nou het my mense pappa die gat wat ons so lank en hard aan gegrou het om bymekaar te kan kuier met stene toegepak... wens ek kon hom vra hoekom?
Maar die beste nog was die dag toe ons huiswerker Johanna my by die hek laat uitkom het.... was dit nou vir julle n lekker los rondhol... ek voor, Johanna, Aunt N en my mense mamma agterna... my mense pappa se altyd hy wag net vir die dag as ek smile... jammer hy het my nie daardie dag gesien nie.!, want ek het nie net ge-smile nie, ek het sommer so oopbek gelag!

Al die mense wat by my mense ouers kom hou daarvan om aan my te vat en met my te speel, tot by die diere dokter is hulle vreeslik bly om my te sien elke keer wanneer ek daar moet gaan kuier.
Ek hou ook van mense... maar my gunsteling mens bly maar my mense mamma, sy verstaan my en is baie lief vir my... al stoei ek haar vir n plek op my mense pappa se stoel smiddae as ons n uiltjie knip....

Monday, June 2, 2008

Met n ligter tred

Ek wens ek kon met n ligter tred deur die lewe gaan. Ek wens ek kon op die trippel van n glimlag lig en vlug deur die lewe loop. Ek wens ek hoef nie kwaad te word, bang te word, bedruk te word nie, want dit maak my ongelukkig om kwaad te word, dit verneder my om bang te word en dit roei my heeltemal uit om bedruk te word.
Daarom wil ek so graag met n ligter tred loop en n vrolike hart behou.

Kwaadword is my lewe lank nog vir my n probleem...
Want nooit kan ek lekker losrem kwaadword en kwaad bly nie. Die vlam van my ontstoke toorn het nog nie mooi opgelaai nie, dan voel ek al skuldig en onwaardig en bitter verdrietig. En binne n halfuur - klokslag - het ek om verskoning gevra, al het die een wat my kwaad gemaak het, my ook goeie rede gegee om kwaad te word. Dis nie soseer omdat ek die skuld vir die kwaadword by myself soek nie - nee, dis sommer omdat ek nie die spanning van n rusie kan verdra nie. En omdat ek dit nie kan aanvaar dat iemand anders vir my kwaad is nie. Daarom wil ek nou met erns die kuns van ligloop aanleer.
My verhouding met mense moenie vertroebel wees nie...

As ek my nou daarop kan toele om met n ligter tred deur die lewe te gaan, sal ek mos lag oor baie van die dinge wat my nou laat huil. Dan sal ek mos daartoe in staat wees om die spanning van enige drukte toestand te verbreek omdat ek daaroor kan lag. Dan sal ek my mos doelbewus daarop kan instel om die belangrike van die onbelangrike te onderskei en met n glimlag die grens van my eie vermoens en die van ander te erken.
Ek wens darem net dit was makliker om die filosofie van die vrolike hart aan te kweek. Dit sou ook seker makliker gewees het as die mense op die wereld mekaar makliker hul andersheid sou vergewe. Maar dit gaan swaar...

Jare gelede toe ek ook met so n aanvaarding geworstel het het my oorlede pa in sy wysheid vir my die volgende gese...
Weet jy wat, het hy in sy stil rustige stem gese; een ding het die lewe my geleer en dit is dat n mens n ander mens moet aanvaar soos hy is...

Ek weet dat ek toe meteens besef het dat dit my nogal swaar val om n mens altyd te aanvaar soos hy is, veral as dit n mens is wat ek liefhet. Daar kom tye dat ek tog so graag wil he dat hy n bietjie - net n klein bietjie - anders moet wees as wat hy is. Maar ek weet dat geen mens n ander mens regtig kan verander nie, net soos een mens nooit n ander mens met n argument kan oortuig nie.
Dit bring jou ook nerens om te bly treur omdat n ander mens so anders is as wat jy hom graag sou wou he nie.
En dit, glo ek, bring die ligter tred mee dat dit n mens in staat stel om die andersheid van ander mense makliker te aanvaar, om die verkille tussen mense te verwelkom en te wardeer as deel van van die wonderlike verskeidenheid van die lewe en die natuur wat die grootsheid van die heelal uitmaak.

As n mens met n ligter tred deur die lewe kan gaan, glo ek dat die instelling n waarborg kan wees teen die verstarring van jou gees - ook n waarborg teen die verveling waarvan die lewe so propvol is, teen die swaarwigtige, die onplesierige, die eentonige, en die swaarmoedige.
Ek glo dat n sin vir die betreklike in die lewe noodsaaklik is vir die filosofie van die vrolike hart. Ek glo dat n mens wat die kuns kan baasraak om met n ligter tred te loop deur die spanninge wat die lewe bring, deur botsende menslike verhoudinge, deur vreugde en smart, hoop en teleurstelling uiteindelik sal vind dat die ligter tred die gawe van die liefde is...