Monday, March 31, 2008

Oom Patrick

Hierdie is nie my eie storie nie, dit is aan my vertel deur Leon Viljoen, ek plaas dit soos aan my vertel:

Sondagoggend vroeg stap ek, duim in die lug, straat af, soekend na n rygeleentheid om by my motorfiets op die plaas uit te kom.
Sondagoggend vroeg lewer egter net minibusse, taxis en fris boerseuns, met kortgeskeerde hare op, wat stip voor hulle uitstaar en nie bereid is om wit mans van gevorderde leeftyd langs ons bedreigde land se paaie op te laai nie.

'Enter' n wit Jetta met voorwiele wat met mekaar speel soos twee klein hondjies. hulle wikkel rond en die hele karretjie vibreer. Stop langs my. Die deurhandvatsel aan die linkerkant ontbreek. Die passasiersvenster word afgerol. 'Where too?' kom n diep basstem van erens uit die motor. Voor ek kan antwoord word die deur van binne oopgemaak ek word genooi om saam te ry. ek spring. die venster rattel toe ek die deur toemaak.
'I am Patrick' se n grys ou swart oom.

Met die voorstelling kom oom Patrick agter ek is Afrikaans en die gesprek gaan voort in Afrikaans. Ons ry voort met oom Patrick se wikkelwaentjie rustig, sonder pretensies, sonder
vrees vir iets.
Ek vertel vir oom Patrick van die 'Skorroskorro' wat ek gekoop het om mee te ry en dat ek besig is om die ou monster te probeer reg maak.
Hier help oom Patrick my reg. 'God het vir jou die kar gegee, dus kan dit nie n 'skorroskorro' wees nie. Dankie oom. Maar mens gesels ons lekker. Nou kom oom Patrick agter ek kom van Natal af en die gesprek gaan voort in Zulu.
Oom Patrick is sewe tale magtig. oom Patrick se stem beindruk, so rustig, so diep so kalmerend.

Ek begin droom van die gesprek. Verbeel ek my of moet God se stem so diep bas wees. Moet God ook so baie tale kan besing om met sy kinders te kan praat?
Is hierdie vrede van rustigheid, wat ek in hierdie kar ervaar ook van God?

Voor ek mooi besef, stop oom Patrick voor die hek van die plaas. Hier is ons se hy.
Ons groet. Die Jetta verdwyn in die verte, al wikkelend. Ek stap aan...

Skielik tref dit my! Ek het nooit vir oom Patrick gese waarheen ek oppad was nie. Hoe kon hy weet waar om my af te laai?

Wie het my opgelaai, wie het my hierdie geleentheid gegee?
Oom Patrick of God?
God of oom Patrick?

Friday, March 28, 2008

Vrees-Vriend of Vyand

Ons ken mos maar almal hierdie groot meester: VREES.
Want ons is n geslag vervul met vrees.
Die omvang van mense se vrees is regtig asemrowend.
Volgens Psigoloe is daar slegs twee vrese by die mens aangebore; die vrees om te val en die vrees vir harde geluide.
Al die ander vrese is aangeleer.
Snaaks tog dat die gewone mens vir homself n ongelooflike voorraad vrese opgebou het.

In hierdie voorraad skuur vol vrese vind ons;
vrees vir die toekoms, vir die verlede, vir armoede, vir pyn, die dood en n duidend ander vrese...
Hoeveel mense is daar nie met n vrees vir die donker, vir water, vir geslote plekke, vir vrydag die dertiende...

Dit tref my wanneer ek die Nuwe Testament lees, hoe dikwels Christus gepraat het oor vrees.
Dikwels vermaan Hy ons om nie te vrees nie. Moenie bang wees nie of moenie vrees nie is deur die meester self gese;

Die waarheid van die saak is dat vrees n positiewe sowel as n negatiewe sy het. Sonder vrees sou nie een van ons in die moderne wereld kon oorleef nie. Ons sou die eerste dag op straat doodgery word.
Vrees is dus die natuurlike alarmstelsel van die menslike organisme.

In my eie lewe is daar n paar neurotiese vrese; ek is doodbang vir vreemde honde, en moenie eers van roltrappe praat nie; kyk n roltrap laat my vreemd optree.
Vir n neurotiese vrees is daar ongelukkig geen kits geneesmiddel nie...
Wil die oom mos elke keer as hy saam met my voor n roltrap beland vir my die suikerpilletjie van daar is niks om voor bang te wees voer, sonder enige sukses...
Het ek hierdie vrees ding nou al baie bedink...
en tot die slotsom gekom dat negentig persent van hierdie vrese n onnodige lewenslas is wat ons moet saamsleep...

Sommige mense hou vol dat jy vrees kan oorwin deur dit te erken...reken hulle nou dat erkenning die eerste stap tot oorwinning is...
Ander meen weer dat meeste vrese bloot selfsugtig is... dat die meeste mense se vrese saamhang met hulle eie gerief, gemak, besittings, gesondheid of sosiale status...

Shame die arme Paulus, hy het omtrent alles deurgemaak wat vrees by n mens kan opwek-
vervolging, steniging, gevangenis, uitwerping; en tog het hy vas bly staan in die woorde;-
Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee!

Ons leef in n wereld wat met vrees gevul is:
Dit is sy tragedie en sy kruis.
Laat ons die onnodige vrees verban uit ons harte en nie vir ons self n kruis bou nie!

Saturday, March 22, 2008

Draf Pyn of Plesier

Sit ek en die oom nou die ganse oggend en bekyk die Two Oseans maraton op televisie...
Wonder ek al my lewe lank hoekom daar altyd n pyn-uitdrukking op alle drawwers se gesigte is?

Draf lyk altyd so seer... vir my altans!

Kuier tweelingsus en Boet verlede naweek hier want Boet het om die dam kom draf (Hartebeespoortdam) 50kilometers nogal, dit ter voorbereiding vir die Comrades in Junie.
Wil ek net noem dat Boet in jare al verby die kilometers is wat hy Saterdag gedraf het!

So roer Boet en tweelingsus al donkeroggend Saterdag want die wegspring is om 6H00.
Kom die oom by my en vertel dat Boet sy voete toedraai in bree wit hegpleister...
Vas oortuig dat dit my kans is om te bewys dat hierdie stokperdjie van Boet pynvol is, wil ek dadelik weet watse gepleister dit hierdie is... waar is die pyn, en hoekom pyn dit al voor die wedloop...
Nee, verduidelik Boet ewe geduldig, die pleisters is bloot in die plek van sokkies, want Boet kan nie met sokkies draf nie, maar ek is steeds nie oortuig dat hierdie sport enige- iets anders as pynlik kan wees nie en daarom wag ek die dag in spanning op Boet en tweelingsus se terugkoms die middag, want glo ek dat ek dan sal bewys dat dit pynlik en seer is!

Maar nee, Boet kom die middag hier aan; heerlik loslit en moet ek se in n baie beter stemming as die vorige aand en die oggend voor die wedloop;
Medalje, T-hemp en n paar pepper duur hardloopskoene losgeslaan of liewer losgehardloop!
Torring ek steeds aan Boet in die hoop dat hy sal erken dat hy iewers seer het....
Maar tevergeefs, nie eers n hoofpyn het die man na die 50kilometers nie, Boet staan vas, geen pyn net plesier...

Tweelingsus, self verslaaf aan die sportsoort van haar kleintyd af, en draf sy met tye self tot 8km saam met Boet... se vertroostend dat as ek nou by die eindpunt van hierdie wedloop was sou ek seker n paar pynpille kon uitdeel!

Vertel Boet my van die wegspring by die Comrades...
Die skare mense, die atmosfeer, maar die beste vir Boet is net voor die wegspring as hulle Charriots of Fire speel, dit se Boet, maak alles vir hom die moeite werd, en gee sy voete vlerke!
Het boet nou al so stuk of 4 comrades voltooi, en eindig hy gemaklik binne die brons medalje tyd

Terwyl Boet my vertel van die harloop en maratons, is daar n anderse soort van glans in sy oe, en besef ek dat, van buite af lyk mense maar soos mense. Maar binne in is almal wonderlik anders...
Hierdie sport is Boet se unieke sterkte, sy eie sonderlinge energie...
Dit wat hom help om sy probleme te kan hanteer... en dalk ook n kruk vir hom om mee op te staan, dit wat hom help om weer heel te word...
Jammer jy kon nou nie die Two Oseans maak nie Boet, maar ons sien uit na die Comrades en is trots op jou...

Hou aan glo aan die lewe en die Lewe!

Tot na die Comrades... dan gesels ek en jy weer hier... oor pyn of plesier!

Sunday, March 16, 2008

Daar was n houtkruis

As jy mense vra wat na hul mening die belangrikste feesdag of vakansiedag op ons kalender is, se ongeveer tagtig persent Kersfees.
My doel is glad nie om gebeurtenisse in Christus se lewe hier op aarde met mekaar te vergelyk om sodoende die belangrikheid daarvan teen mekaar op te weeg nie.
Tog is dit interessant dat mense groter waarde heg aan Kersfees-dalk omdat dit gepaardgaan met die heerlike somervakansie en geskenke rondom die feestyd.

Die geboorte van Jesus sal vir my altyd een van die grootste gebeurtenisse van hierdie wereld bly,
Dit was die eerste episode van die grootste liefdesdaad van alle tye. Maar hierdie liefdesdaad moes drie en dertig jaar later met die kruiseging volbring word.

Jesus se geboorte het die Engele laat sing, die skaapwagters God laat prys en die wyse manne ver laat reis om met geskenke eer aan die Koningskind te bring.
Dit staan in skrille kontras met die son wat verduister het, die voorhangsel van die Tempel wat geskeur het en, so word ons vertel selfs God se traan wat op Golgota geval het toe sy Seun daar gesterf het.

Ja, daar is geen beter tyd as Paasfees om eer aan Jesus Christus te bring dat Hy die marteling enduit ondergaan her sodat ek die ewige lewe kan he nie.
Met paasfees om die draai is dit belangrik om in die skadu van die kruis stil te staan en oor die kern van ons geloof te besin.
Die kruisiging het ons op die pad na die ewige lewe geplaas danksy die bloed van Jesus wat namens ons en ten spyte van ons gebrokenheid vergiet is.
Kom ons herondek paasfees en verheerlik Sy naam...

Dierbare Heer,
In my eenvoudigheid verstaan ek dat al was U volkome mens, en terwyl U in die tuin van Getsemane gebid het om genade, U steeds bereid was om U Vader se wil tot op die letter uit te voer. U was bereid om verneder te word, gepynig te word en bloed te sweet van angs, alles sodat gewone mense soos ek, voor U Vader verontskuldig kan word.
Die woorde om U te dank ontbreek. Die enormiteit van dit wat U ter wille van my moes ly, gaan my verstand te bowe. Help my Here, om U offer waardig te wees na die beste van my karige vermoens.
Dankie vir U onbaatsutige liefde
Amen

Thursday, March 13, 2008

Muggies of Kamele

Hoekom mense my uitsonder vir hierdie tipe van gesprekke kon ek nog nooit verklaar nie!
Maar klokslag gebeur dit met my...
Maak nie saak waar ek my bevind nie , dit gebeur.
Tot voor die operasie teater deure waar ek vir die oom se seun wag, bespring n vrou my met haar huweliksprobleme, ken haar van geen kant nie.
Ek troos maar, want wat is seerder as n ontroue lewensmaat...

Word ek uitgenooi na n 50ste verjaarsdagtee, waar die verjaarsdag meisie haar gaste moet oortuig dat sy wel 50 word en nie 30 nie, beland ek weer in die middel van so n gesprek of laat ek dit liewer"geveg" noem!
n Ou kerkdame (70jr+) en n jonger vrou wat haarself dadelik bekendstel as Mevrou Dominee X raak in n amper bloedige geveg betrokke oor...
HOMOSEKSUALITEIT!...

Kort voor lank loop die gemoedere hoog op die partytjie.
Die klompie gaste by die geleentheid dink almal anders oor die kwessie...
Een tannie probeer die gemoedere kalmeer met:
Homos gaan reguit hel toe die Bybel is tog mos duidelik daaroor!
teen die tyd is die debat al in drie gedeel...

Groep twee voel:
Ons het almal gesondig en is slegs deur die genade van die Here gered!
Hulle is wel oortuig dat die Bybel dit as sonde brandmerk maar is effe versigtig om sommer te verdoem!

Groep drie is nie so seker dat die Bybeltekse wat oor homoseksualiteit handel, werklik bedoel is om getroue liefdesverhoudings tussen mense van dieselfde geslag te veroordeel nie.
Die verjaardag meisie se ouma se ewe kalm:
Ag shame die ou goedjies is dan so gebore...
Dadelik reageer Mevrou Dominee heftig met:
Nee tannie dit is aangeleerde gedrag en alles wat aangeleer is kan weer afgeleer word...

Dit is op hierdie punt dat Mevrou Dominee die fout van haar lewe maak; deur my direk aan te spreek en my mening te vra, want tot op hierdie punt het ek nie deelgeneem aan hierdie geveg nie!

Antwoord ek haar so:
Mevrou, hierdie is beslis nie n debat wat ons kan voer sonder om ons woorde te tel nie!
Want as ons oor hierdie saak praat, praat ons bloot net oor ander mense, of praat ons oor medegelowiges en hulle kinders?
Praat ons dalk oor die seerkry van broers en susters?
Het hulle nie die reg om op ons barmhartigheid aanspraak te maak nie?

Vir Christus was barmhartigheid teenoor hulle op wie die Fariseers van die samelewing neergesien het, ONONDERHANDELBAAR!
Hierdie Fariseers met hulle selfvertroue oor wat die wet vereis, het Hy in Matt 23:23 kortgevat:

Julle het Hy gese:
Is soos mense wat n doek oor die wynbeker span om die wyn daardeur te syg sodat julle nie per ongeluk n onrein muggie insluk nie.
Maar intussen kom julle nie eens agter dat daar al klaar n hele kameel in die beker is nie.
en dit sluk julle sonder om n oog te knip, heel af!

Mevrou sien, die gevaar is wesenlik dat ons as gelowiges in openbare en persoonlike gesprekke so besig gaan wees om te sif aan die muggies dat ons nie gaan agterkom dat ons die kameel van onbarmhartigheid heelhuids afsluk nie!!

Dadelik stel mevrou Dominee voor dat ek dringend en ernstig met Dominee oor hierdie onderwerp moet gesels, want na haar mening is Gay- wees beslis nie n muggie nie!
Stel ek voor dat Dominee dringend met my n afspraak maak want na my mening is onbarmhartigheid beslis ook nie n muggie nie!

En hierby volstaan ek todat ek klaar met Dominee gesels het...

Tuesday, March 11, 2008

Kringloop

Die jare kom en die jare gaan, seisoene wissel mekaar met vaste reelmaat af, die dag word nag en weer dag en geboorte en dood bly die twee groot pole van n mens se lewe.

Vanaf die begin van n nuwe lewe todat dit aand word om ons heen, is die mens vasgevang in die groot kringloop van alles om hom.

En dit is goed en reg om te weet dat ons deel is van n nimmereindigende sirkel van kom en gaan, want n sirkel is rond juis sodat dit kan voortbeweeg, en waar beweging is, is lewe, en waar lewe is, is groeikrag.
Maar binne die ewige sirkelgang is die kringloop van ons dae maar baie min, te min om te mors en te kosbaar om selfs een dag sommer net te laat verbygaan.

Daarom moet ons elke uur van elke nuwe dag met groot agting tegemoetgaan en dit sorgvuldig troetel, sodat ons in die aand die vrug op ons arbeid kan toon.
Nie vrugte wat in munte gemeet kan word nie, maar geestesgoedere wat jy kan deel met n medereisiger.
Want om met oorgawe te gee en te ontvang is van die grootste vreugdes in ons kringloop.

Thursday, March 6, 2008

Sin vir Humor

Die lewe is nou eenmaal so dat n mens gedurig blootgestel word aan minderplesierige gebeurtlikhede, sommige van hierdie gebeurtlikhede het jy geen beheer oor nie, maar dit het n ongunstige neerslag op die res van jou lewe!
Tensy ons die nodige geesteskrag en vermoe het om die onberekenbaarheid van die lewe te oorkom, kan klein gebeurtenisse abnormale afmetings aanneem en kan ons in baie ongelukkige mense ontaard...

Gesels ek en tweelingsus baie en dikwels oor die diep en seer dinge van die lewe, en leer ek op hartseerdae baie by haar.
So glo ek al die jare dat tweelingsus die slae van die lewe baie beter as ek hanteer en daarom nie juis daardeur geraak word nie.
Maar nee, verduidelik sy aan my, die verskil le juis daarby dat sy geseen is met n humorsin en daarom kan sy lag al gaan dit soms met n traan gepaard!

Dadelik kom die vraag by my op-wat word alles onder die begrip; n sin vir humor ingesluit?
Vir tweelingsus persoonlik beteken n sin vir humor om te lag! en veral om vir jouself te kan lag; al huil dit binne in jou!
En dadelik besef ek dat hierdie vermoe wat sy besit om te kan lag en veral vir haarself te kan lag emosionele volwassenheid is.
En daarom het sy nog altyd hierdie lewensbeskouing wat op geluk afstuur!...

Soos dit
waar was vir Salomo dat n vrolike hart die aangesig bly maak, so is n vrolike hart seker nou nog vir elkeen van ons van die grootste belang.
n Glimlag is soos n druppel olie wat die ratte van die lewe vinniger en gladder laat draai...

Nog al die jare bewonder ek hierdie krag en vermoe van tweelingsus wat haar in staatstel om altyd op n behoudende en geslaagde manier te reageer op die wisselvalligheid van die lewe.
En gaan ek hierdie vermoe sonder twyfel nastreef en aankweek...
Sal seker nie n maklike taak wees nie.
Inteendeel...
As ek so om my rondkyk dan val dit my op dat emosionele volwassenheid eintlik n eienskap is wat maar baie selde voorkom...

En wonder ek;
Is dit maar die rede waarom so min mense kan lag?

Tuesday, March 4, 2008

Is dit net honger?

Waarom eet ons om allerhande redes behalwe die ooglopende rede, naamlik honger?
In so baie mense se lewens word kos om ander redes as honger ingeneem!
Ek weet... ek sukkel my lewe lank self kort kort met hierdie probleem.

Eetbare dinge word daagliks gebruik om gevoelens van aanvaarding, gasvryheid en liefde uit te druk. Die kerel gee vir sy nooi sjokolade, die gasvrou poog altyd om haar gaste op iets spesiaals te trakteer. Eet is n sosiale funksie, dit is n teken van verwelkoming, vriendelikheid, gasvryheid en warmte.

In ons grootwordhuis was die etenstafel die bymekaarkomplek van die hele gesin,waar ons gedagtes gewissel het.Dit was die lekkerste kuiers om daardie ou eettafel en vir my is dit vandag nog so dat ek kos met mense assosieer.Dit is vir my aangenaam om n maaltyd saam met mense te geniet tot wie ek aangetrokke voel, veral saam met my kinders, want die oom se seun glo nou maar eenmaal dat die disse wat deur sy ma voorberei is (hoe eenvoudig ookal) die beste is!

Hoewel kos n uitdrukking van toegeneentheid kan wees kan dit ook ontaard in n minder mooi situasie waar liefde en toegeneentheid vervang word deur kos...
Wanneer liefde nie verkry of gegee kan word nie word kos as plaasvervanger ingespan, want kos is altyd beskikbaar... dit kan gekoop word!
Omdat ek myself so dikwels skuldig maak aan hierdie ,troos-eet' soos ek dit graag noem, het ek met ander mense hieroor gesels, en meer mense as wat ons besef maak hulle skuldig hieraan.
Sommige troos=eet in n soeke na liefde, ander uit woede, uit wraak, uit selfbejammering, uit ongelukkigheid,uit teleurstelling...

Gesels ek met n mamma van drie baie vet seuntjies wat se ouderdomme wissel tussen twee en agt jaar oud, en ek bedoel vet seuntjies...
erken sy dat sy glad nie in staat is om aan haar kinders emosionele warmte te gee nie en daarom gee sy oorvloedig kos, lekkernye en koekies... hierdeur probeer sy haar angs en skuldgevoelens in verband met haar kinders te sus...
Hoeveel mammas maak hulle in werklikheid skuldig hieraan? Hulle kinders se behoeftes aan emosionele dinge soos liefde en erkenning bly onbevredig en daarom word hulle behoefte aan kos groter!
Om sommer net te eet bly altyd dan n behoefte by die kind!...
En n lewenslange gestoei met gewig n ewige respons op die etery...

Se oom Daantjie, oud bosbouer en tans van Kameeldrif gemeente toe hy my redenasie van eet aanhoor:
Ag nee wat niggie;
ons afrikaners is mos maar altoos aan die eet wat, of ons nou vrolik of hartseer is, kyk nou maar by begrafnisse en troues staan die kakebene mos nooit stil nie. Ons het mos maar altoos n gesaam etery om na uit te sien!
En wat is nou lekkerder as dit niggie?!

Sunday, March 2, 2008

Oornag

Deur die jare het ek al so dikwels gehoor van mense wat 'oornag' trek, en kon ek nooit verstaan hoe op aarde hulle dit regkry nie.
Tot dit my en die oom hierdie afgelope week soos n weerligstraal getref het; ons moes trek en ons moes dadelik trek.

Kyk ek en die oom sukkel mos nou al die afgelope drie jaar met die buuroom se hoenderhaan, slaap geen nag na vieruur soggens nie want dan het die hoenderhaan klaar geslaap. En met die dat die buuroom, naas die hoenderhaan, nog sukkel met n seun wat verslaaf is aan verdowingsmiddels, en hellemal soos in totaal en al van sy kop af gaan wanneer hy die goedjies gerook, gesnuif, gespuit en gedrink het, het ek en die oom in die afgelope drie jaar verskeie kere gevra om na n ander huis verskuif te word. Elke keer sonder sukses.

Staan die oom weer een Maandagmore moeg op want die buuroom se seun het tot drie uur die Sondagnag gevloek en geskree en toe die seun tot ruste kom het die hoenderhaan ontwaak. Besluit die oom net daar-GENOEG IS GENOEG!
Dieselfde Maandag sit die oom n oorplasing in Heidelberg toe.

Heidelberg stel dadelik vreeslik belang in die oom en word hy genooi om n vakmanstoets te gaan afle in Heidelberg. Want sien op Heidelberg word net hoogs gespesialiseerde werk gedoen, bedoelende nou die manne wat daar werk is meesters op die gebied.
Toe die oom se seun nou hoor van die toets, se hy so ewe droog aan my; begin solank pak;
want jy weet my pappie is die beste in die weste!
Slaag die oom die ou toetsie met sulke skokkende uitslae dat die Ingeneur op Heidelberg dieselfde dag nog n vervoerwa saam met die oom wil stuur om die oom sy vrou en die hond te trek!

Donderdag begin die besigheid roer van Heidelberg se kant af en skrik die oom se Padsup haar skoon groen toe sy besef die oom is oppad Heidelberg toe!
Sy begin net daar haar eie planne te maak.
Roep sy my die volgende Maandag na haar kantoor toe en vra baie mooi: 'help my asseblief ek kan nie bekostig om jou man te verloor nie!
Gee sy opslag vir die oom die beste beskikbare huis in die kamp en reel n span van sewe mense om die oom die volgende dag te help trek.
En vra sy die oom moet soos in dadelik trek want sien dis toe die enigste manier wat sy die Heidelberg storie kon keer en sy was desperaat om dit te keer!

So pak ek en die oom daardie nag tot halfeen om die volgende dag te kan trek. Elke hol dingetjie word gebruik om in te pak.
Kom help die oom se seun die Dinsdag ronddra en aflaai, dit vier dae nadat hy twee keer binne veertien dae narkose gehad het.
Kyk ek die oom se seun so tussen die gewoel deur en my hart wil bars van trots en terselfde tyd pyn dit binne in my; want hierdie reus van by die twee meter wat n dubbelbed bassis vat en uitdra by homself, is my seuntjie... wat n man geword het!
Se ek daardie dag vir die soveelste keer vir die Vader dankie vir n kind soos hy.

Kyk so n deurmekaar trek wil ek tog groot asseblief nooit weer in my lewe he nie.
Want was die ongeorganiseerde besigheid nou ook nie sonder skade en verliese nie.
Dokter ek nou al n week lank aan al die oom se seer en kneusplekke. en dokter die oom weer op sy beurt my seer voete en spiere.

En so bly ek en die oom nou in ons nuwe huis sonder n hoenderhaan.
En loop die oom se padsup met n bree glimlag rond!