Wednesday, December 23, 2009

Kersfees - Christusfees

Wat n wonderlike voorreg om Kersfees as n Christusfees te mag vier. Tydens die Kersseisoen wonder ek dikwels oor daardie nag. Die nag toe die ster wat die wyse manne gelok het bo die nederige stal bly talm het. Die nag toe die jong vrou Maria n sagte babakoppie teen haar bors gedruk het. Die nag toe alles verander het vir die wat glo dat Hy vir ons gebore is. Ons herdenk die geboortedag van ons Koning wie waardig is om geprys te word.
Ek bid dat kerstyd vir jou geseënd sal wees, dat dit n tyd van liefde, , vreugde en vrede vir jou sal wees en bo alles bid ek dat die dag jou sal herinner aan die geboorte van die Seun van God wat met Sy lewe joune kom red het.
Mag Kersfees werklik vir jou n Christusfees wees!

Hemelse Vader dankie dat U U Seun mens laat word het. Dankie dat Jesus gebore is om vir ons n nuwe begin te bied. Ons loof U daarvoor.

Saturday, December 19, 2009

Die Nagklerk




" Generous hands are blessed hands, because they give bread to the poor"
- The Message



n Ouerige paartjie kom laat een reënerige aand by n hotel ingestap en vra n kamer. Die nagklerk het gereageer met: Ons is vol bespreek, maar ek het self n kamer hier - dis nie juis iets om oor huis toe te skryf nie. Ek sal Mary ons skoonmaker, vra om die kamer skoon te maak. As julle net so n paar minute sal wag?

n Jaar en n half later, toe die beroemde Waldorf Astoria Hotel in New York klaar gebou is, het John Astor, die bejaarde man van die verhaal en die eienaar van die hotel, gesê: "Ek wil hê daardie nagklerk moet my Hotel Bestuur."...

Friday, December 11, 2009

Dit is maklik om te praat...


"Nee man, vertrou net op die Here"
"More skyn die son weer"
"Jy weet jy mag nie twyfel nie"

Vertroue en geloof in God gaan soms gepaard met slaapeloosheid en n naarheid wat nie wil weggaan nie. Soms self depressie, jy verloor jou vrede en voel dit vir jou God het jou lankal nie meer in sig nie, jy is oorgelewer aan jou eie genade...

VADER, ek bid vir elkeen wat moedeloos is, wat voel om op te gooi. Ek bid dat U verheerlik sal word en ons verbaas sal staan as ons U almag en bonatuurlike werking beleef en aanskou. Spreek die woord Here, want die heelal en alles daarin behoort aan U. U is God en ons aanbid U.

Amen

Wednesday, December 9, 2009

Ware Vriendskap




Ek het vir Piet en Pieternella ontmoet die oggend na ons in die woonstel ingetrek het. En nou na bietjie meer as n jaar kan die vriendskap as wedersyds beskou word. Ons is nou al sulke groot vriende dat ons soggens saam ontbyt geniet. Ek staan in die sitkamer en hulle op die balkon, en ons eet twee toebroodjies: een vir my en een vir hulle.
Hulle daag kort voor agtuur op, hoewel hulle al behoort te weet die etery begin nie voor kwart oor agt nie.
Kaas en konfyt is hulle gunsteling en hulle het ook n voorliefde vir eierbroodjies. Wanneer daar vleissmeer of slaai op die brood is, lewer hulle kritiek.

Nou, verlede week, kom hulle een oggend sewe uur hier aan met n kêreltjie wat op n druppel water na Piet lyk. Hulle kom stel hom as't ware aan my voor: die produk van liefde in n stad waar liefde nie volop is nie.
Pietertjie, soos hy nou heet, het n gesonde eetlus. Wanneer sy ouers die oggend n bietjie draai met die opstanery kom hy sommer sesuur al hier aan. Dan sit hy op die balkon en gesels todat hulle opdaag en die ontbyt voorgesit word.

Hierdie gesin is nie die soort vriende wat verniet wil eet nie. Hulle dring daarop aan om vir hul kos te werk deur die duiwe van die balkon af te verwilder. Ek raak skoon bekommerd wanneer hulle al drie die oggend verslaap en laat opdaag!
Hoe langer ek en Piet en Pieternella en Pietertjie mekaar ken, hoe meer dink ek dit is nie noodwendig van eensaamheid dat baie "oumense" hul brood en hulle geselskap met voëls deel nie...

Monday, December 7, 2009

My vriend die voëltjie

My eerste kennismaking met my nuwe maaitjie los my met n benoudheid. As die voëltjies begin sing en jy sit nog agter die rekenaar beteken dit die nag is verby en die sonsopkoms is nie vêr nie. Wat jou slaap betref, kan jy maak wat jy wil, jy is in die moeilikheid. Of jy nou gaan slaap of nie, maak nie n verskil nie, die dag wat voorlê is nie een van die maklikstes nie. Daardie dag is jy nie een van die skerpstes nie...

My nuwe maaitjie kom ek na n tyd agter, begin stiptelik om drie uur in die oggend met my gesêls. Ek dink hy chat spesifiek met my want daardie tyd van die oggend is dit mos doodstil en ek het nog nooit gehoor dat n ander voëltjie terug antwoord nie. n Paar keer het hy my al deur die dag verras as ek sy bekende fluit hoor. Dan wonder ek of die mannetjie dalk sy dag en nag omgeruil het. Feit van die saak is, hy is altyd op sy pos en reg met sy deuntjie, ongeag wie hom antwoord of watter tyd dit mag wees.

Die voëltjie buite my kamervenster se sang het ek elke vroegoggend nodig om my net weer te herinner dat ons God in beheer is, dat Hy vandag regeer!

Thursday, December 3, 2009

Drie Soorte Mense


Die lewe het my geleer daar is basies 3 tipes mense:

1) Die Gebruikers:
Hierdie mense sal jou sterkpunte benut, maar vermy jou swakhede. Wanneer jy in die moeilikheid is, sal hulle van die toneel af verdwyn, net in geval hulle goeie name dalk skade lei... Moet hulle nie verwyt nie; gebruikers is nie sleg nie, hulle is net onseker en selfdienend.

2) Die Versigtiges:
Hierdie mense is in die meerderheid. Wanneer jy in die moeilikheid is, sal hulle wag en sien of jy nie dalk self daaruit kom nie. En selfs dan sal hulle alle opsies oorweeg. Voordat hulle jou aanvaar, kyk hulle eers wie anders jou aanvaar. Wanneer dit by die versigtiges kom, wees lief vir hulle, maar moenie jou lewe rondom hulle bou nie.

3) Die Toegewydes:
Hierdie is die mense waarvan Salomo praat in Spreuke 17:17 - In die goeie tye ken jou vriende jou, in die slegte tye ken jy jou vriende. As jy slegs n handjievol toegewyde vriende het, is jy werklik geseën want hulle sal altyd by jou staan. Hulle is sterk in geloof en in enige geveg. Hulle is gebore om te help. Beskerm hierdie verhoudings en versorg hulle, want sonder hulle kan jy nie jou doelwitte bereik nie.

Wednesday, December 2, 2009

Marius


Veels geluk my kind met jou 29ste verjaarsdag. Mag die nuwe lewensjaar vir jou waarlik mooi dinge inhou.
Geniet jou dag, wens ons kon die dag saam met jou spandeer. Hoop ons kan kuier in jou vakansie.

Baie liefde vir jou my kind.

Sunday, November 29, 2009

Tyd


Ons dae is soos identiese tasse waarin sommige mense meer pak as ander. Dit is omdat hulle weet wat om in te pak. Ons almal kry vier en twintig ure, maar nie almal se opbrengs is dieselfde nie...
Die waarheid is: jy bestuur nie jou tyd nie, maar wel jou lewe. Tyd kan nie beheer word nie, dit stap aan, maak nie saak wat jy doen nie.
Niemand, ongeag hoe slim, kan minute uit een dag spaar om die volgende dag te gebruik nie. Wetenskaplikes kan nie nuwe minute skep nie. Al het jy hoeveel geld, kan jy steeds nie ekstra ure in n dag koop nie. Ons praat gereeld van tyd "maak", maar ons kan maar ophou, daar lê nie ekstra tyd rond nie.
Vier-en-twintig ure is die meeste wat elkeen van ons gaan kry. Wyse mense verstaan dat tyd hul mees kosbare kommoditeit is. Gevolglik weet hulle presies hoe hulle hul tyd bestee...
Hulle analiseer hulle tydsbesteding en vra gedurig: "Kry ek die beste gebruik uit my tyd?"

In sy boek "What To Do Between Birth and Death: The Art of Growing Up", skryf Charles Spezanno: Eintlik betaal jy nie vir goed met geld nie, jy betaal daarvoor met tyd.Ons sê so maklik oor vyf jaar sal ek genoeg gespaar het om vir n vakansiehuis te betaal. Daarna sal ek rustiger lewe. Dit beteken dat daardie vakansiehuis jou vyf jaar sal kos, n twaalfde van jou volwasse leeftyd...

Omskep eers die waarde van n huis, kar of enigiets anders in tyd en vra jouself dan af of dit nog die moeite werd is...

Tuesday, November 24, 2009

MAAK MY KALM HERE...

Maak my kalm Here, Laat my benoude hartklop tog bedaar...
Kalmeer my gemoed.
Vertraag die dolle pas van my lewe - my lewe, so n klein ratjie in die magtige gang van die tyd...
U sien die spanning wat ek vir niemand anders wil wys nie, die bekommernis oor...
Maak dit stil in my, sodat my siel die musiek van die natuur kan hoor... en die skoonheid daarvan vrede binne in my kan bring-
dat my bewende hande kan saamvou, dat my gespanne spiere kan ontspan.
Help my dat ek weer diep en onbesorge slaap kan geniet, met die wete en die kinderlike geloof dat U sal sorg.
Leer my die kuns om kort-kort tot rus te kom; miskien om n bedinkie blomme te bewonder, om n hond te streel, lekker te sit en lees...
en om te lag en te speel met die wat ek liefhet!
Maak my kalm , Here Jesus...
Laat my opkyk, Here...

Saturday, October 31, 2009

Bid asseblief vir my

Die afgelop tyd voel ek glad nie myself nie, en ek is seker van julle het dit wel opgemerk met my (afgeskeepte) blog inskrywings....
Ek kan nie sê dat ek siek is nie, ek weet net ek voel nie soos ek moet nie - staan sommige dae doodmoeg op en sleep so deur my dag!
Skeep oral goed af... en om die waarheid te sê is ek ook nie veel gesteur daaroor nie.

Die afgelope jaar en n half was/is vir my baie stressvol en ek dink dat ek maar net uitgeput is na liggaam en gees...
Ek weet en bely dat ek soveel het om voor dankbaar te wees maar dit is asof ek net teen die negatiewe bly vaskyk.

Dink asseblief aan my in julle gebede want todat ek myself goed uitgesorteer het sal ek nie bloginskrywings doen nie.
Vir die van julle wat wil kontak hou en nie my e-pos adress het nie - nwlourens@gmail.com

Tot ons weer gesels - God Bless!

Tuesday, October 27, 2009

Dinge van die hart...


Die hart was deur al die eeue heen in alle kulture n belangrike
simbool. In die literatuur en kuns word daarna verwys as die kern van lewe, die bron van intellek, wil, moed, gevoelens en emosies.

Die antieke Egiptenare het met die balseming van n lyk alle organe behalwe die hart verwyder. Dit was vir hulle ondenkbaar dat daar n lewe na die dood kon wees sonder die belangrikste bron van lewe, die hart.

Dit was vir die hartpionier dr Chris Barnard interessant dat die Bybel mees as 300 keer verwys na die hart. Volgens hom het die hart vir ons soveel betekenis omdat dit die enigste orgaan is wat direk op spanning of emosie reageer. As ons kwaad, bang of opgewonde is, klop dit harder en vinniger...

Thursday, October 22, 2009

Moed

In n storie van Alistait Maclean, n gewilde skrywer van lank terug, gesels n groepie mense oor dapperheid. Die mening is uitgespreek dat elke mens iewers in sy of haar lewe dapperheid moet openbaar. n Jong man in die geselskap het na n ou vroutjie gekyk van wie hy nie kon dink dat sy al ooit in haar lewe iets dappers kon gedoen het nie. Hy het haar gevra of sy al ooit n heldedaad verrig het. Die jong man het nie geweet dat haar lewe een groot stuk hartseer was nie.

Haar antwoord was wonderlik: "Ek? Ek verrig die heldedaad van moed, ja, die moed om uit te hou en nie op te hou nie!"
Om moed te hou teen al die hartseer en teleurstellings in, was in haar geval n heldedaad wat miskien baie groter was as die waaghalsige heldedade van baie ander mense.

Om moed te hê, beteken om met die lewe voort te gaan al lyk dit na n doodloopstraat.

Monday, October 19, 2009

Mooi Maandag



Liewe Vader, beskerm asseblief vandag my blog vriende, hou hulle veilig onder U vlerk, en dankie Liewe Heer vir die geleentheid wat ek vandag het om vir elkeen van hulle te kan sê dat hulle spesiaal en kosbaar is, Seën hulle en almal wat hulle aangaan. Seën hulle ook in hulle werk en vir die persoon wat elkeen van hulle is-
in Jesus se Naam

MOOI DAG...

Wednesday, October 14, 2009

Ouderwets.

Word ek in die week daarvan beskuldig dat ek "ouderwets" is...
En dit nadat sy by my kom aanklop het vir raad - aangesien haar ma haar nie verstaan en niks gun nie!
Haar ma keur nie haar verhouding met haar kollega wat "bitter ongelukkig getroud is" goed nie... preek glo tydig en ontydig vir haar daaroor...
Ons leef immers nie meer in toeka se dae nie tannie... daag sy my uit.

Nee, dis waar antwoord ek haar - in die ou tyd was daar baie taboes...
Maar vandag... maak en breek ons die weg oop na die ewige liefde, en so van die een geliefde jol ons deur na die volgende geliefde en die se traumas -

En tog, en tog had toeka se dae se mense nog respek gehad vir mekaar se huwelike en die se genote. Jou eer was op die spel, die mense om jou in ag geneem en die gemeenskap se aansien van allerbelang...
Ouderwtse huwelike het gehou en gehou en gehou...

Jammer jong dat jy nou nie by my gekry het wat jy so graag sou wou hoor nie!

Thursday, October 8, 2009

Anette se verhaal...

Hierdie is n ware verhaal, ek plaas dit met Anette se toestemming.
Dankie Anette vir die vertoue wat jy in my plaas om jou verhaal hier te vertel... ek verseker jou dat elkeen wat hier lees met liefde en deernis kommentaar sal lewer.


Partykeer trou n mens omdat jy 18 en dom is. Dan kom jy agter hoe erg dit is om arm te wees, al is jy saam met die een wat jy liefhet. En dan kry jy werk omdat jy slim is. En dan pleeg jy bedrog. Omdat jy dom is...
Anette pleeg bedrog toe sy sien hoe swaar haar man kry. Sy steel n aardige bedraggie. Haar man begin goed leef. En die twee kinders wat gebore word ook. Maar nou ja, sy word gevang. Dit vat tien jaar, maar hulle vang haar. En sy kry vyf jaar tronkstraf.

Die mense by die kerk kan dit nie glo nie. Sy is ondervoorsitter van die jongvrouevereniging. Diaken en als. Getrou in die erediens en by die biduur... So n klomp geld gesteel? Hulle skud die kop... En tog, sê die dominee, gaan ons vir haar geld gee om in die tronk te studeer. As sy haar graad daar kry is almal beter daaraan toe wanneer sy uitkom...

Sy sit lank voor sy uitkom. Toe sy uitkom, weet sy sommer... Haar man het n vriendin. Hy het die vriendin al gehad voor sy tronk toe is. Dit was toe al die tyd om die vriendin te onderhou dat ek die geld moes steel, vertel Anette my bitter.
Anette is nou veertig , geleerd en vry.
Wat nou? vra sy my met angs in haar oë - Ek het n paar grade, maar ek het nie werk nie. Ek sit hier by die hospitaal vir gratis medisyne. Ek het bloeddruk probleme en is op antidepressante.
SAL DIE HERE VIR MY SORG?

Monday, October 5, 2009

Leef vir vandag


Hoe gereeld hoor mens die volgende in mense se allerdaagse gesprekke -
Waar gaan ons geld kry om die huispaaiement te dek?
Waar gaan ons geld kry om kos te koop?
Wanneer gaan ons weer op ons voete kom?
Waar gaan alles eindig?
AL DIE ONSEKERHEID OOR GELD MAAK MENS MOEG!

Tot n paar maande gelede het ek en Willie ook van maand tot maand geleef, maar deesdae leef ons vir nou, vir vandag.
Om ons elke dag oor die einde van die maand te bekommer is net nie die moeite werd nie!
Ons bekommer, maar weet nie eers of ons more nog leef nie... Ons mors soveel tyd op bekommernisse, dat ons vergeet waaroor die lewe regtig gaan!
Solank ek my man by my het - weet dat my kind gelukkig en gesond is - my klein hondjie kan vertroetel en die Here in my hart en lewe het, het ek niks meer nodig nie!
Die Here voorsien elke dag wat ek nodig het, niks meer en niks minder nie. Solank ek op Hom vertrou - sorg Hy vir my!
Moenie oor die einde van die maand bekommer nie...jy mis op die kosbare dinge van die lewe uit!

Thursday, October 1, 2009

My Hande


Vandag kyk ek na my hande en besef ek het hulle lief.
My hande het al baie van my trane afgevee.
My hande dra met liefde die ring wat my man aan my vinger gesteek het.
My hande het my kind getroos as hy hartseer was en hom met liefde vasgehou.
My hande voed my gesin en sorg dat daar skoon klere en n huis is.
My hande hou my Bybel vas, terwyl ek daagliks pitkos daaruit haal.
Vandag sit ek my hande saam en bid dat die Here my en almal wat ek liefhet, sal vashou en bewaar.
Eendag gaan ek my hande in die Here se hand sit wanneer Hy my na sy ewige woning neem.
Here, dankie vir my hande.

Saturday, September 26, 2009

Moeg en Moedeloos?


Dit is al wat vir my werk!

Wednesday, September 23, 2009

Keuses

Sal graag wil hoor wat jy sou kies...

Tuesday, September 22, 2009

Ons is hier om te leer


Die merkwardige Helen Keller het by geleentheid gesê: "Die lewe bestaan uit n reeks lesse wat op mekaar volg; ons moet dit eers leef om dit te kan verstaan".

WEET JY DIE VOLGENDE?

* Twee mense kan na presies dieselfde ding kyk, maar elkeen kan iets anders sien.
* Dit is nie net nodig dat ander jou soms moet vergewe nie. Jy moet ook leer om jouself te vergewe.
* Jy is in beheer van jou eie geluk, niemand anders nie.
* Al is n situasie hoe sleg, dit gaan verander.
* Ware vriendskap hou aan om te groei, al word dit deur afstand geskei. Dieselfde geld vir ware liefde.
* Jy kan iets in n oomblik sê of doen wat jy vir n leeftyd gaan berou.
* Soms het jy die reg om kwaad te word, maar jy het nooit die reg om wreed te wees nie.
* Jou lewe kan in n oogwink verander word deur mense wat jy nie eers ken nie.
*
Dit neem jare om iemand se vertroue te wen, maar net sekondes om dit te vernietig.
* Dit maak nie saak hoeveel jy vir iemand anders omgee nie, partykeer gaan hulle net nie dieselfde voel nie.
* Ons agtergrond en omstandighede het n invloed op wie ons is, maar ons is self verantwoordelik vir die mens wat ons uiteindelik word.
* Slegte dinge gebeur soms met goeie mense.
* Tyd genees alle wonde, dit maak nie saak hoe stukkend jy op die oomblik is nie.
* Glo in wonderwerke.
* Maak vrede met jou verlede, en moenie toelaat dat dit jou hede opmors nie.
* As n verhouding geheim gehou behoort te word, moet jy nie in daardie verhouding wees nie.


Wednesday, September 16, 2009

Armoede

Nadat ek nou al dae lank spook met die vroutjie by die verkeerslig... moes ek gister baie teen my wil skeidsregter en vredemaker speel tussen n ma en dogter wie se griewe handuit geruk het.
Seermaak woorde is heen en weer geslinger - jare se seerkry is in woorde en verwyte omgesit...
Op n stadium kon ek net hulle staar en wonder...

Hoeveel grade van armoede is daar nie in die ou lewe nie? Die een as gevolg van te min geld. Die ander as gevolg van te min begrip en aanvaarding. Dan ook as gevolg van te min nederigheid en meelewendheid. Ook as gevolg van n gebrek aan lewensvreugde om te deel met n milde hand van liefde. Te min tyd vir God en sy gebod in die binnekamer wanneer jy hand in eie boesem moet steek - dit maak van die mens die armoedigste skepsel denkbaar!

Tuesday, September 15, 2009

Huiswerk

Ek is so effens agter op die blogs en vra groot verskoning dat ek nou eers by my huiswerk uitkom.
Ek is deur Charmaine en Sonja getag om hulle in EEN woord te beskryf...

Charmaine:
Ek is bevoorreg om Charmaine al persoonlik te kon ontmoet en dit is regtig vir my onmoontlik om haar in net een woord te beskryf - so ek gaan probeer om van n klomp woorde een te maak...
Sy is n ...
steunpilaar in pyn
n vuurhoutjie en n olielamp wanneer jy in die donker rondstrompel
n skouer om op te huil wanneer die wereld jou soms druk
n hand wat weet wanneer om jou vas te hou, en wanneer om vir jou n roos te pluk
Saamgevat...
sy is n houtbruggie bo-oor alleenheid.
Lief jou vriendin!


Sonja:
Ken ek nog nie lank op die blog nie maar sy is vir my soos my ouma se ou opgepofde vere kombers... werklik n sagte landings plekkie.
Dankie vir al die liefde wat jy so ongevraagd gee Sonja!

Omdat Oom Petrus al blog maat is wat my werklik ken tag ek hom om my in net een woord te beskryf.

Tuesday, September 8, 2009

Hoe sê ek vir God dankie?


Ek is oppad om vir Willie werk toe te vat en die oggend verkeer sloer. My oog vang die vrou wat by die verkeerslig staan, sy hou n kartonbord krampagtig vas, en dit lees:
"Ek het nie werk nie, het drie kinders. Help my asseblief!"...
Die verkeer sleep voort en die kartonbord-vrou bly in my gedagtes. Sy dwing my om na my eie lewe te kyk en in die oomblik oorval die wete van God se genade my.
Sy guns was my beskore my hele lewe lank en ek is so dankbaar daarvoor!
Maar hoe sê mens dankie vir God? Ek kan Hom niks gee wat nie reeds Syne is nie. Hy is immers die Skepper van die heelal. Vir n vriendin kan ek blomme of gevleulde woorde stuur, maar hoe gemaak met die Skepper van die heelal?

Matteus 25 kom onwillekeurig by my op "Dit verseker ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringstes van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen."
Ek sien die kartonbord-vrou se gesig flussies voor my. Jesus identifiseer in hierdie gedeelte met hulpbehoewendes, ellendiges en geringstes. Wat ek vir hierdie mense doen, doen ek vir Jesus!
So kan ek konkreet dankie sê, tref die gedagte my.
Wat ek gee hoef ook nie noodwendig goed of geld te wees nie, dit kan ook liefde, geduld en diensbaarheid wees wat ek uitdeel...

Here dankie vir al die onverdiende voorregte wat my eie is, gee my n hart vir mense wat behoeftig is en gee my asseblief die vermoë om hulle te help.

Tuesday, September 1, 2009

Versoek van n kind

* My handjies is klein, moet asseblief nie van my verwag om so sterk soos pappa of mamma te wees nie.
* My vingertjies is nog bietjie dom en dalk sal ek iets laat val, moenie op my skree nie.
* My ore het nog nie baie gehoor nie, praat tog mooi saggies met my.
* My bene is nog kort en swak, loop net n bietjie stadiger.
* My arms is nie so groot en sterk soos julle arms nie, verstaan tog as ek sukkel om groot goed te dra.
* My klein probleme is vir my groot probleme, moenie daavoor of daaroor lag nie.
* My hartjie is baie klein, piets my as ek stout is, maar raas maak my baie bang.
* My denke is oop en teer, beskerm my tog van verkeerde invloede.
* My hartjie is nog rein en vertrouend, moet tog nie vir my jok nie.
* My magie is klein, skep net n bietjie kos vir my in my bordjie.
* My hele lewe is nog teer en ongevorm, vorm my tog met baie soentjies en drukkies.

Vader help my asseblief om in hierdie lentemaand U liefdesinstrument in n seer kindjie se lewe te kan wees.

Monday, August 31, 2009

Die Meesterhand


Daar is dinge in die lewe wat n mens stom maak...

Die dood van n geliefde is een van daardie dinge. En in sulke tye leer ons almal om die knie te buig voor die Groter Mag wat beheer oor ons lewens het.


Baie dankie aan elkeen vir julle gebede en boodskappe van bemoediging - dit word opreg wardeer.
Daar is nog baie trane by ons - maar dit is stil trane; trane sonder verset, en daarom helend.

Ek sal nog n tydjie lank stil wees hier op my blog...
Ons moet almal maar eers weer terugkom na die son toe en kom vrede maak met die Meesterhand.

Tuesday, August 25, 2009

Doodstyding

Snaaks hoe n skielike doodstyding jou met daardie lam, winduit gevoel op die krop van jou maag laat...
My sus se man is baie skielik gistermiddag by sy werk aan n hartaanval oorlede.

Susan, Jacques, Vicky , Kobus en klein Dewet:
Ons innige simpatie met jul groot verlies. Mag julle God se liefde en vrede ervaar in die dae wat voorlê. Ons bid julle sterkte toe.

Aan almal baie dankie vir julle liefde en simpatie, ons wardeer dit opreg - bid asb vir hierdie gesin die begrafnis is vrydag.

Thursday, August 20, 2009

Geduld

Thomas A Kempis, n priester en skrywer, het gesê: "As jy nie die lewe met vreugde kan leef nie, doen dit ten minste met geduld".

Toe ek dit lees kon ek nie help om te wonder of soveel van ons landgenote se ongeduld nie juis toe te skryf is aan die feit dat hulle sielsongelukkig en onvergenoegd is nie.
My eie lewe het my geleer hoe ongelukkiger ek met my omstandighede is en hoe meer ek met n Martie Martel houding rondloop, hoe minder tyd - en geduld - het ek vir ander mense en die daaglikse eise van die lewe.
Wanneer ek egter my kop skoonmaak en myself met n kombers van kalmte, liefde en welwillendheid toevou, hoe minder ontsteld raak ek oor dinge.

Ons onvergenoegdheid en gepaardgaande selfsug slaan oor in arrogansie en ongeduld wat gesien kan word in die wyse waarop ons bestuur, die respek (of gebrek daaraan) wat ons vir ander mense openbaar en die onverskilligheid waarmee ons deur die lewe gaan.
Ons almal droom van n utopia waar liefde, respek en omgee teenwoordig is, maar ons verwag dat ander mense hul houdings en denke moet verander ten einde ons te akkommodeer, sonder dat ons bereid is om self iets daaraan te doen.

Die eerste stap na sukses/genesing/nuwe denke/gewoontes, begin altyd by jouself. Gaan soek daardie plekkie in jou binneste waar jy vrede en genoegdoening ervaar en begin met dankbaarheid en liefde leef. Sodra jy die lewe se vreugdes kan sien en ervaar, sal daar beslis n groter behoefte wees om met omgee deur jou dag te gaan, wat beteken jy sal ook met meer geduld funksioneer...

"Die vrug van die Gees daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing".
-Gal 5:22-23

Tuesday, August 18, 2009

Laat sak tog die maskers...

In ons daaglikse lewe skuil ons so dikwels agter n masker. Hierdie maskers is nie die soort wat jy met n maskerade gaan opsit nie - Dit is bloot n mens wat jyself skep en waaragter jy skuil.

Ons neem van vroeg af alles wat ons hoor in, posetief sowel as negatief, en dan internaliseer ons mense se reaksie op ons aksies en ons weeg onsself daarteen op.
Omdat 80% van mense se terugvoer negatiewe terugvoer is, is dit geen wonder ons persepsie van onsself sluit dinge in soos: "Ek is dom", "Ek is lelik", "Ek is n mislukking".

Hoe dikwels dra gewone ordentlike, vredeliewende, beskaafde mense maskers - hulle ry die duurste motors, bly in die mooiste huise, het universiteitsgrade, verdien goeie salarisse.
Maar voorkoms is soms misleidend...
Want agter die masker van fatsoenlikheid, sukses en beskaafdheid, skuil daar leegheid, innerlike doodsheid, sluimer die vrees van: "Ek is nie goed genoeg nie"!

Wil mense hulself bloot emosioneel "beskerm" deur die dra van n masker? Ons leef immers in n stukkende wereld. n Wereld wat vuisvoos geraak het van emosionele slae en psigiese manipulasie. Wil mense van die trauma ontkom deur maskers te dra... of wil mense bloot net die gevoel van :"Ek is nie goed genoeg nie" wegsteek?
Wil hulle ten alle koste keer dat die wereld nie die rou seer moet raaksien nie... want in die oe van die wereld is jy mos n "swakkeling" as jy nie kan "cope" nie!...
En daarom laai ons deur die jare net meer bykomstighede by - dinge wat die maskers meer geloofwaardig moet maak... nog n graad, miskien n blinker motor of groter huis...
Maar uiteindelik word die maskers so swaar, ons kan dit nie meer dra nie!

Friday, August 14, 2009

"Faith"

Meeste van julle het seker al van "Faith" gehoor of gelees - maar ek glo nie n 2de keer sal skade doen nie!

Dit is "Faith"



Hy is op Kersaand 2002 gebore met 3 bene - 2 gesonde agterbene en 1 abnormale voorbeen wat geamputeer moes word. Sy ma het hom probeer versmoor toe hy gebore is.
Sy eerste eienaar wou hom laat uitsit...

... maar toe kruis sy pad met Jude Stringfellow. Sy het hom aangeneem en was oortuig dat sy hierdie hond kan leer om op sy eie oor die weg te kom.
Sy het hom "Faith" gedoop.
In die begin het sy "Faith" met n lepel vol "peanut butter" geleer om op sy agterbene te staan en te spring vir beweging.
Na slegs 6 maande se intense afrigting in die sneeu, kon "Faith" op sy agterbene loop soos n mens.Daar is maar altyd onverstaanbare dinge in die lewe...Hierdie hond se verhaal het my weer laat besef:
"With a little faith"!

Wednesday, August 12, 2009

Veels Geluk Willie



Vandag bevind jy jou op die drumpel van n nuwe lewensjaar...

Ek sou die heeldag saam met jou wou deurbring en seker maak jy's gelukkig en veilig, toe sê die Heer ek moet terugstaan...
Hy doen dit elke dag!

Baie Geluk met jou verjaarsdag my liefste man, mag hierdie lewensjaar jou beste nog wees!


Hemelse Vader,
Dankie dat ons nog n nuwe lewensjaar saam met Willie kan ingaan, vat U asseblief in hierdie nuwe jaar sy hand en loop U saam met hom.
Vader, U ken my onrus vanmore oor die vreeslike hoë bloedsuiker waarmee hy weer sukkel, ek gee dit nou vir U my Vader.
Amen

Tuesday, August 11, 2009

Uitnodiging



14 Augustus '09
19h00
Cornwall Hill College
Nellmapius Drive, Irene

15 Augustus '09
19h00
Unisa
(zk mathews hall - previously old mutual hall)

Free entrance

INFO:
Amanda 0822223338
Cisca 0825902244

Sunday, August 9, 2009

Vrouedag

Hy bring my na waters waar daar vrede is. Hy gee my nuwe krag.
(Psalm 23:2-3)

Vandag kom sê die Hemelse Vader vir jou:
Liewe vrou - van - vandag,
Ek het jou lief! Kom na My toe en vertel My van al jou vrou - wees - stoei,
jou besig wees en al die eise wat jou lewe soms onmoontlik maak.
Omdat jy vir My kosbaar is, wil Ek jou help swem in jou sroomversnellende lewe...
en jou na waters waar vrede is, lei!

Friday, August 7, 2009

Etiket



Veral in Suid - Afrika waar ons soveel verskillende kulture met hul eie etiket het - wonder mens dikwels wat is onbeskof en wat is goeie maniere?
Tye het egter verander en net soos alles moet etiket seker ook aanpas.
Maar...


Asseblief en Dankie:
Sal nooit uit die mode raak nie en hoort in elke opgevoede mens se woordeskat.

Respek:
Die grootste onderliggende beginsel van goeie maniere is respek vir ander - dan sal dit nie saak maak as julle kulture en begrip van etiket verskil nie.

Groet:
In alle kulture is groet n belangrike manier om respek te betoon. "Aangename kennis" by n eerste ontmoeting klink nog steeds soveel beter as "Hoezit , Bra"

Persoonlike higiëne:
Hoort in privaatheid gedoen te word. Moet dus nie in die openbaar in jou neus, ore, tande of ander plekke krap nie!

Stiptelikheid:
Deur betyds vir n afspraak op te daag, respekteer jy die ander persoon se tyd. Laat weet as jy laat gaan wees.

X@#$:
Vuiltaal of vloek is nooit etiket nie. So ook suggestiewe opmerkings!

Tye het verseker verander, maar goeie maniere bly belangrik!


Thursday, August 6, 2009

Wie is ek ?



Stop hier gereeld n vreeslike "fansy" kar voor ons gebou - (ek vermoed hy kuier by een van die woonhuise aan die oorkant van die pad) - maar dit is nie die "fancy" kar wat my vandag hier laat skryf nie - nee dit is die nommerplaat... daarop staan: "Who am I?"

Dat iemand wat in so n "fancy" kar ry moet wonder wie hy is - is vir my een te veel...
Ek wou al n paar keer vir die persoon by sy kar wag en sé: "My liewe mens, ek het geen idee wie jy is nie. Kan jy nie dalk vaagweg onthou waar jy grootgeword het nie, of jy broers en susters gehad het nie, of jy dalk al getroud was nie, indien wel wat jou vrou se nooiensvan was nie - of net iets - want ek is bereid om jou te help soek na wie jy nou regtig is"

Wie weet, dalk het die man sy naam weggegooi? of dalk het hy dit op n weddenskap verloor, of dalk n oneerlike saketransaksie? Ek het nou al die scenaroi's deurgetrap - baie antwoorde oorweeg - maar ek weet ook nie wie hy is nie!

Jou al self in die spieël gekyk en gewonder - WIE IS EK?
Satan jou ook al die gevoel van "WHO AM I" laat ervaar?
Gister vir hom die volgende nota in sy "fancy" kar se ruitveer gelos -
Dit gaan nie oor wie jy is nie, dit gaan oor wie jy in Jesus is...
Jy is n Koningskind, n begenadige, iemand vir wie Jesus gesterf het!



En daarmee vir myself gevra - En jy? Weet jy wie jy is?

Tuesday, August 4, 2009

Eerlikheid

Ek moes so n tydjie terug een van die buurvroutjies neem vir noodsaaklike inkopies. Besig om haar sakkies in die motor se kattebak te pak - nader hy ons...

Jy sien sy motiewe sommer met die eerste oogopslag. Daardie kyk in sy oë draai geen doekies om nie. Jy kan maar voorgee dat hy nie bestaan nie en selfs geen verdere oogkontak maak nie, maar daar is geen manier dat jy nie gekonfronteer gaan word nie...

"Madam' skop hy af.
"Kan ek asseblief net iets vir die madam vertel?"
Hy sê: "Madam weet, dinge is baie tuff hierdie dae. Ek het kinders in die skool wat moet boeke, klere en kos kry. Soos madam seker self weet is hierdie dinge baie duur en my geld is nou op"
"Ek wil graag vir my net n sixpack koop, vir die stress madam weet. Wil madam nie asseblief help nie?"

Ek is sprakeloos toe sy sowaar die man in sy kwaad help!
Dalk moes jy eerder vir hom n sespak melk gekoop het... sê ek hardop.
Nee sê sy sowaar - die man het nie doekies omgedraai nie, hy was blatant eerlik oor sy behoefte...

En net daar besef ek dit gaan veel dieper as dit.
Want eerlikheid het een vername eienskap... DIT MAAK VRY!
Vry van skuldgevoelens, vry van emosionele bindinge.
Dit bring heling. Breek mure af. Bou verhoudings en vertroue. Gee nuwe geleenthede.

Solank jy nie eerlik is nie, is jy n slaaf, n gevangene, vasgeboei in kettings...

Monday, August 3, 2009

Wonder wat sou hy in vandag se tyd gemaak het?

Bill Norton, the bathing beach policeman, measuring the distance between knee and bathing suit on woman in Washington D.C.
Sherrell the Superindent of Public Buildings and Grounds, issued an order that bathing suits at the Washington bathing beach must not be over six inches above the knee.

Photo from the National Photo Company Collection. 1922

Saturday, August 1, 2009

Huwelike



Ek doen n ernstige beroep op elkeen wat hier lees om in hierdie maand spesiaal te bid vir huwelike.
My persoonlike oortuiging is - die duiwel se gunsteling iets om aan te val is die huwelik.
Hoeveel pyn en hartseer veroorsaak hy net nie daardeur nie!
Kom ons vat hierdie Augustus hande en bid vir almal se huwelike -
Die wat goed is en die huwelike waar daar probleme is.

Liewe Vader, ek kom voor U vandag en vra dat U ons huwelike sal seen en sal beskerm teen alle aanvalle wat die satan mag uitdink.
Seen elkeen van ons se huweliksmaats. Ek bid vir die huwelike waar daar probleme is, hulle kom lê ek spesiaal aan U voete - hou ons veilig en trek vir ons die beskerming aan wat ons nodig het.
Ek bid ook vandag vir die mense wat alleen staan en wie se huweliksmaats U nie aanbid nie.
Ek bid U seen, voorspoed, krag, liefde en die BLOED VAN JESUS oor almal van ons se Huwelike.
Dankie Liewe Vader vir al U Genade en Seen oor en in elkeen van ons se lewens en huwelike.
Dankie dat U altyd ons Rots en Toevlug is.
Amen

Thursday, July 30, 2009

Klein Rakker

Ek kry vreeslik baie navraag oor hoe dit met hierdie klein stouter - kabouter gaan. En daarom gee ek gou n "update" hier.

Hy is nou 4maande oud en baie lewendig, hy is versot op sy mandjie en steek ook al sy gunsteling goedjies daar weg.
Ek het al daar uitgehaal: - my selfoon, battery laaier, pantoffels, sokkies...
Sy gunseling kuierplekkie is bo-op Willie se skouer en ek noem dit sy "Lazy-Boy"
Dit gaan baie goed met hom en met ons. Hy hou my goed besig en ek slaap sommige aande al lank voor hy onder sy kombersie inwoel!

Wednesday, July 29, 2009

Smeer salf aan...


Ek merk die pyn op haar gesig en hoe mank sy stap terwyl sy tussen die tafels rondbeweeg om kliënte te bedien.
Ek hoor hoe iemand vir haar vra wat makeer. Sy het haar voet geswik. Ek sien dit moet erg wees aan die manier hoe sy stap...
"Jong jy moet iets aansmeer of n pilletjie drink" sê een van haar kliënte - "Ja" sê sy met n verleë glimlag.

Iemand verskoon haarself van n ander tafel en loop uit. Minute later kom sy terug met n pakkie in haar hand. Seker gou iets gaan koop , dink ek. Die persoon oorhandig die pakkie aan die kelnerin en sê; "Hierso smeer die salf aan, dit sal help"

My gedagtes is stilgeruk, ek dink aan die woorde in Jacobus - en sê nou een van julle sou vir hulle sê: Mag dit met julle goed gaan, trek warm aan en eet genoeg, maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan?

Hoe maklik sê ons nie ook soms - "laat dit met julle goed gaan, slaap warm en eet genoeg" - dan draai ons bloot om en gaan aan met ons lewens.
Hierdie meisie werk in die Wimpy, verdien dalk n tip van R5.00 per tafel - moet die hele skof met n pynlike enkel rondloop ...
Maar iemand kom en sit woorde om in aksie en iets gebeur; - pyn word verlig!

Tuesday, July 28, 2009

Liefde


Hoe lyk liefde Here? vra iemand.
Jesus glimlag en antwoord:


Liefde het gewillige hande om laste te dra.
Voete om vertrapte mense na die troon van liefde te dra.
Oë om stukkendes raak te sien.
Ore om die noodkreet van verdwaaldes te hoor.
n Mond om te vertroos en stukkend weer heel te soen.
Kniee om maklik te buig.
Arms om te omhels met warmte.
Harte wat plek maak vir verwerptes.
Lippe wat Sy woord oordra met sagtheid!

Mag jy elke dag Liefde ervaar.

Monday, July 27, 2009

Kom ons lag n slag!

Na al die beswaardhede op my blog die laaste tyd het ek gedink julle sal hierdie een ook geniet...Ek kyk my vrou op n dag so en se: "Liefie, toe ons 30jaar gelede getroud is, het ons n goedkoop woonstel en n goedkoop kar gehad. Ons het op n sofabed geslaap en na n swart en wit TV stel gekyk. Maar ek het elke aand by n vuurwarm blondine in die kooi geklim. Nou het ons n mooi huis, n mooi kar en n plasma TV skerm. Maar ek slaap elke aand by n vrou van 55. Ek dink nie jy bring jou kant nie."

My vrou is n baie redelike mens. Sy se toe ek moet gaan en vir my n warmbloedige 25-jarige blondine soek. Dan sal sy wat my vrou is, seker maak dat ek weer in n goedkoop woonstel bly, in n goedkoop kar ry, op n sofabed slaap en na n klein swart en wit TV kyk.

Ouer vroue is briljant! Hulle weet presies hoe om jou middeljare krisis op te los!

Friday, July 24, 2009

Liané

Hierdie Pragtige klein Liefsteling is Dinsdag 21Julie 2009 gebore. Sy is Oom Pertus en skoonsus se eerste kleinkind.

Baie Geluk Stefan en Madie met die bondeltjie vreugde wat deur ons Almagtige Vader aan julle geskenk is.
Min slaap en sukkel gaan gelukkig gou verby - maar die vreugde bly!
Sterkte met julle huislike en ouer take.

Wednesday, July 22, 2009

Die krag van gebed

Jacobus het geweet hoe groot die krag van gebed is. Ongelukkig ervaar ons dit nie meer so nie - nie omdat gebed kragteloos geword het nie, maar omdat ons geloof so klein is dat ons huiwer om God in gebed uit te daag om ons versoeke te laat waar word! Niemand kan glo hoe kragtig gebed is en wat dit kan laat gebeur nie, behalwe hulle wat persoonlike ervarings daarvan het.

Baie dankie aan elkeen wat saam met ons gebid het die afgelope maand... Willie het gister werk gekry en het al vanoggend begin werk!
GOD IS MIGHTY SLOW... BUT HE IS NEVER LATE!
Marius was al besig om ons trek te reel na sy huis in Pretoria - stoorplek vir ons meubels te reel - My twee Engele uit die woestyn het al die trek betaal...
Maar God se tyd is nie ons tyd nie!
Willie het werk in sy ambag gekry - ons hoef nie te verhuis nie - en toe ek gisteraand vir Marius se dat ons dit nie verdien nie, was sy antwoord net: GENADE IS VERNIET MY MA!
( Hierdie kind van my gaan ook nou deur n baie moeilike en seer tyd - en ek vra dat julle asseblief vir hom ook sal intree by die Vader.)

Hemelse Vader,
ek loof U vir die voorreg om tot U in gebed te mag nader. Ek dank U dat U steeds wonders doen vir mense wat volgens U wil bid.
Dankie vir die bevestiging dat ek deur gebed die wereld om
my posetief kan verander - omdat absoluut niks vir U onmoontlik is nie.
Amen.

Kom ons bly asseblief bid vir die groot aantal mense in ons land wat steeds sonder werk is.


n Nuwe lewe:
Baie Geluk Oom Petrus, Skoonsus, Stefan en Madie met die pragtige dogtertjie wat gister vir julle gebore is. Mag sy vir julle n groot vreugde wees!
Ons bid haar toe - Liefde, Geluk en Gesondheid heel haar lewe!

Tuesday, July 21, 2009

My Handskrif

Ek is deur Thea ge-tag om my handskrif te wys. Ek gebruik my selfoon kamera so ek hoop en vertrou dat dit wat ek hier geskryf het leesbaar sal wees.
Ek tag vir Miekie as sy nog nie getag is nie.

Monday, July 20, 2009

Engele om ons


Daar is oral Engele om ons!
Want ons lewenspaaie loop nie altyd gelyk.

Daar is Engele gestuur om ons te help as ons val,
om te troos in ons donker dal.

Daar is n Engel in n...
Kleuter se lag
Vriend se arms
Vriendin se verstaan
Ma se oe
Op n broer se skouer
Suster se hart...
Die teerheid waarmee n seun jou vashou.

Ons moet net ons oe oopmaak en kyk!

Tuesday, July 14, 2009

Werk

Omdat ek maar skaars is hier op my en ander se blogs, bring ek net gou vir almal wat belangstel en navraag doen n "update" van ons vordering met die werksoek...

Ongelukkig het ons nog nie reggekom met werk nie - ons gee egter nie op nie, ons bly soek!

Baie dankie aan almal wat e-pos, sms of bel om ons te bemoedig. Baie dankie ook aan almal wat saam met ons uitkyk vir iets... ons wardeer dit baie!
Daar is wel diegene wat ons nou totaal en al ignoreer - ons verstaan en hou dit nie teen julle nie!
Dan is daar die wat probeer om ons positiewe gesindheid te veroordeel...
Een so n persoon het gister gevra of ons dan nie besef dat ons - "down and out" is nie? en dat as ons aanhou met hierdie "don't care" houding van ons, ons binnekort in die "gutter" gaan beland!
Hierdie persoon se woorde aan my was: Julle is sonder werk en sonder inkomste mens!, positief gaan julle nie vol maak of julle rekeninge betaal nie...

Ons besef maar terdee dat ons en baie ander, sonder werk is... en glo my - almal van ons is diep bekommerd oor basiese dinge soos verblyf en etes.
Maar ek kies egter om positief te bly - om my geloof te behou!
Werk is identiteit... Ek weet!

Sunday, July 5, 2009

Baie Dankie

Aan almal - vriende, familie en blogvriende wat navraag doen en belangstelling toon in ons huide dilemma...

Ons is vir die derde keer binne n jaar sonder werk. Ons is bekommerd want dit is net menslik, maar ons is nie moedeloos en sonder hoop nie.
Ons vra dat julle ons asseblief sal dra in gebed want dit is die grootste liefdesdaad wat ons aan mekaar kan betoon.

Willie en myself sal dit baie wardeer indien julle ons sal kontak by my e-pos adress ; nwlourens@gmail.com sou julle dalk moontlik van werk hoor in die Gauteng gebied.
Willie kan die volgende doen:
Grader
Backactor
Tipper Trok
Hy het n kode 14 + pdp (publieke) lisensie
Kan ook -
Milling Machine
Pofile cutter
Procision grinder

Ekself het redelik baie admin ondervinding.

Weereens dankie aan elkeen van julle vir die liefde wat julle ons mee toevou.

Vader,
ek is nie baie goed om verandering in my lewe te hanteer nie. Hierdie huidige verandering is vir my uiters stresvol.
Ek besef dat ek nou kan kerm en kla of U kan loof vir die goeie dinge wat nog kan kom.
In plaas daarvan om te brom en my te bekommer wag ek eerder op U hulp en leiding.
U ken ons behoeftes en begeertes tydens hierdie verandering, en ons vertrou op U om ons te lei volgens U wil.
Amen

Tuesday, June 30, 2009

Kalmte


God, skenk my die kalmte om die dinge te aanvaar wat ek nie kan verander nie,
die moed om die dinge te verander wat ek kan en die wysheid om te weet wat die verskil is.


Hemelse Vader,
Ek bid in hierdie oggend dat U vir my die kalmte sal skenk om die dinge te aanvaar wat ek nie kan verander nie, die moed om die dinge te verander wat ek wel kan en die wysheid om die verskil tussen die twee te ken.
Maak asseblief die innerlike onrus wat so deel van my geword het stil en vervang dit met U vrede en kalmte.
Amen.

Monday, June 29, 2009

IS JY...

Borrelend gelukkig?
Babeldadig?
Keelvol?
Alewig bekommerd?Soms baie energiek?Die onskuld vanself?

Jammer vir jouself?Moeg en uitgeput?
Huilerig?
Totaal depresief?
Skuins BETJOINGS?
MOOI!
Dan is jy n vrou en heel NORMAAL!!!

GENIET JOU MAANDAG!