Saturday, October 31, 2009

Bid asseblief vir my

Die afgelop tyd voel ek glad nie myself nie, en ek is seker van julle het dit wel opgemerk met my (afgeskeepte) blog inskrywings....
Ek kan nie sê dat ek siek is nie, ek weet net ek voel nie soos ek moet nie - staan sommige dae doodmoeg op en sleep so deur my dag!
Skeep oral goed af... en om die waarheid te sê is ek ook nie veel gesteur daaroor nie.

Die afgelope jaar en n half was/is vir my baie stressvol en ek dink dat ek maar net uitgeput is na liggaam en gees...
Ek weet en bely dat ek soveel het om voor dankbaar te wees maar dit is asof ek net teen die negatiewe bly vaskyk.

Dink asseblief aan my in julle gebede want todat ek myself goed uitgesorteer het sal ek nie bloginskrywings doen nie.
Vir die van julle wat wil kontak hou en nie my e-pos adress het nie - nwlourens@gmail.com

Tot ons weer gesels - God Bless!

Tuesday, October 27, 2009

Dinge van die hart...


Die hart was deur al die eeue heen in alle kulture n belangrike
simbool. In die literatuur en kuns word daarna verwys as die kern van lewe, die bron van intellek, wil, moed, gevoelens en emosies.

Die antieke Egiptenare het met die balseming van n lyk alle organe behalwe die hart verwyder. Dit was vir hulle ondenkbaar dat daar n lewe na die dood kon wees sonder die belangrikste bron van lewe, die hart.

Dit was vir die hartpionier dr Chris Barnard interessant dat die Bybel mees as 300 keer verwys na die hart. Volgens hom het die hart vir ons soveel betekenis omdat dit die enigste orgaan is wat direk op spanning of emosie reageer. As ons kwaad, bang of opgewonde is, klop dit harder en vinniger...

Thursday, October 22, 2009

Moed

In n storie van Alistait Maclean, n gewilde skrywer van lank terug, gesels n groepie mense oor dapperheid. Die mening is uitgespreek dat elke mens iewers in sy of haar lewe dapperheid moet openbaar. n Jong man in die geselskap het na n ou vroutjie gekyk van wie hy nie kon dink dat sy al ooit in haar lewe iets dappers kon gedoen het nie. Hy het haar gevra of sy al ooit n heldedaad verrig het. Die jong man het nie geweet dat haar lewe een groot stuk hartseer was nie.

Haar antwoord was wonderlik: "Ek? Ek verrig die heldedaad van moed, ja, die moed om uit te hou en nie op te hou nie!"
Om moed te hou teen al die hartseer en teleurstellings in, was in haar geval n heldedaad wat miskien baie groter was as die waaghalsige heldedade van baie ander mense.

Om moed te hê, beteken om met die lewe voort te gaan al lyk dit na n doodloopstraat.

Monday, October 19, 2009

Mooi Maandag



Liewe Vader, beskerm asseblief vandag my blog vriende, hou hulle veilig onder U vlerk, en dankie Liewe Heer vir die geleentheid wat ek vandag het om vir elkeen van hulle te kan sê dat hulle spesiaal en kosbaar is, Seën hulle en almal wat hulle aangaan. Seën hulle ook in hulle werk en vir die persoon wat elkeen van hulle is-
in Jesus se Naam

MOOI DAG...

Wednesday, October 14, 2009

Ouderwets.

Word ek in die week daarvan beskuldig dat ek "ouderwets" is...
En dit nadat sy by my kom aanklop het vir raad - aangesien haar ma haar nie verstaan en niks gun nie!
Haar ma keur nie haar verhouding met haar kollega wat "bitter ongelukkig getroud is" goed nie... preek glo tydig en ontydig vir haar daaroor...
Ons leef immers nie meer in toeka se dae nie tannie... daag sy my uit.

Nee, dis waar antwoord ek haar - in die ou tyd was daar baie taboes...
Maar vandag... maak en breek ons die weg oop na die ewige liefde, en so van die een geliefde jol ons deur na die volgende geliefde en die se traumas -

En tog, en tog had toeka se dae se mense nog respek gehad vir mekaar se huwelike en die se genote. Jou eer was op die spel, die mense om jou in ag geneem en die gemeenskap se aansien van allerbelang...
Ouderwtse huwelike het gehou en gehou en gehou...

Jammer jong dat jy nou nie by my gekry het wat jy so graag sou wou hoor nie!

Thursday, October 8, 2009

Anette se verhaal...

Hierdie is n ware verhaal, ek plaas dit met Anette se toestemming.
Dankie Anette vir die vertoue wat jy in my plaas om jou verhaal hier te vertel... ek verseker jou dat elkeen wat hier lees met liefde en deernis kommentaar sal lewer.


Partykeer trou n mens omdat jy 18 en dom is. Dan kom jy agter hoe erg dit is om arm te wees, al is jy saam met die een wat jy liefhet. En dan kry jy werk omdat jy slim is. En dan pleeg jy bedrog. Omdat jy dom is...
Anette pleeg bedrog toe sy sien hoe swaar haar man kry. Sy steel n aardige bedraggie. Haar man begin goed leef. En die twee kinders wat gebore word ook. Maar nou ja, sy word gevang. Dit vat tien jaar, maar hulle vang haar. En sy kry vyf jaar tronkstraf.

Die mense by die kerk kan dit nie glo nie. Sy is ondervoorsitter van die jongvrouevereniging. Diaken en als. Getrou in die erediens en by die biduur... So n klomp geld gesteel? Hulle skud die kop... En tog, sê die dominee, gaan ons vir haar geld gee om in die tronk te studeer. As sy haar graad daar kry is almal beter daaraan toe wanneer sy uitkom...

Sy sit lank voor sy uitkom. Toe sy uitkom, weet sy sommer... Haar man het n vriendin. Hy het die vriendin al gehad voor sy tronk toe is. Dit was toe al die tyd om die vriendin te onderhou dat ek die geld moes steel, vertel Anette my bitter.
Anette is nou veertig , geleerd en vry.
Wat nou? vra sy my met angs in haar oë - Ek het n paar grade, maar ek het nie werk nie. Ek sit hier by die hospitaal vir gratis medisyne. Ek het bloeddruk probleme en is op antidepressante.
SAL DIE HERE VIR MY SORG?

Monday, October 5, 2009

Leef vir vandag


Hoe gereeld hoor mens die volgende in mense se allerdaagse gesprekke -
Waar gaan ons geld kry om die huispaaiement te dek?
Waar gaan ons geld kry om kos te koop?
Wanneer gaan ons weer op ons voete kom?
Waar gaan alles eindig?
AL DIE ONSEKERHEID OOR GELD MAAK MENS MOEG!

Tot n paar maande gelede het ek en Willie ook van maand tot maand geleef, maar deesdae leef ons vir nou, vir vandag.
Om ons elke dag oor die einde van die maand te bekommer is net nie die moeite werd nie!
Ons bekommer, maar weet nie eers of ons more nog leef nie... Ons mors soveel tyd op bekommernisse, dat ons vergeet waaroor die lewe regtig gaan!
Solank ek my man by my het - weet dat my kind gelukkig en gesond is - my klein hondjie kan vertroetel en die Here in my hart en lewe het, het ek niks meer nodig nie!
Die Here voorsien elke dag wat ek nodig het, niks meer en niks minder nie. Solank ek op Hom vertrou - sorg Hy vir my!
Moenie oor die einde van die maand bekommer nie...jy mis op die kosbare dinge van die lewe uit!

Thursday, October 1, 2009

My Hande


Vandag kyk ek na my hande en besef ek het hulle lief.
My hande het al baie van my trane afgevee.
My hande dra met liefde die ring wat my man aan my vinger gesteek het.
My hande het my kind getroos as hy hartseer was en hom met liefde vasgehou.
My hande voed my gesin en sorg dat daar skoon klere en n huis is.
My hande hou my Bybel vas, terwyl ek daagliks pitkos daaruit haal.
Vandag sit ek my hande saam en bid dat die Here my en almal wat ek liefhet, sal vashou en bewaar.
Eendag gaan ek my hande in die Here se hand sit wanneer Hy my na sy ewige woning neem.
Here, dankie vir my hande.