Monday, September 29, 2008

Hoe

Hoe kan ek ooit die vergewe wat my herhaaldelik sleg behandel? Weet hulle dan nie dat hulle my seermaak nie? Gee hulle nie om nie?
Ek probeer dit begryp, maar sonder sukses.
Ek is kwaad en deurmekaar!

En alhoewel hierdie dinge nie reg is nie, moet ek seker leer om ander te vergewe. Ek besef dat bitterheid my gees soos n kanker sal verteer as ek nie vergewe nie! Ek wil nie he dat woede en bitterheid ooit weer my lewe moet oorheers nie!

Die Bybel se ek moet 70 maal sewe keer vergewe. Beteken dit ek kan die kere nou maar aftel?
Seker nie ne...

Vader ek vra U om asseblief my wonde te genees.
Help my asseblief om nie wraak na te jaag nie.
Heer, ek weet ek het my bes gedoen. Ek laat alles in U hande.
Gaan U asseblief voor my uit en dek ook my agterhoede
Alles wat in die verlede gebeur het en in die toekoms gaan gebeur, laat ek in U hande oor.
Amen

Tuesday, September 23, 2008

Woorde...

Spreuke 18:21
Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet...

Elke woord wat uit ons monde gaan, gaan of die vrug van lewe, of die vrug van dood produseer.

Die woordeboek se dat kommunikasie is om kennis en informasie oor te dra. So wanneer jy met iemand kommunikeer, is jy besig om inligting aangaande jouself oor te dra. Jou woorde is n refleksie van jou karakter. Wat die hart van vol is, loop die mond van oor!
Jou woorde is dus die verklangking van jou gedagtes!

Hoe jy van jouself praat en van jouself dink, bepaal hoe jy van ander praat.
Te veel van ons woorde aangaande ander is afbrekend!
So loop jy 40jaar lank rond met n seer wat deur iemand anders se woorde van verwerping veroorsaak is.

*Een onsesitiewe woord kan n groot vuur aansteek wat vir jare kan brand.
*Harde kragwoorde is nie n teken van selfvertoue nie...dit is net die teenoorgestelde!
*Wanneer mense onder druk verkeer kom dit uit wat eintlik binne jou is!

Ek wonder...
Hoeveel mense se lewens is al vernietig met woorde.
Hoeveel huwelike het skipbreuk gelei deur woorde.
Hoeveel geesdrif is geblus deur woorde.
Hoeveel mense het al opgehou leef a.g.v woorde

WOORDE KAN NOOIT NOOIT TERUGGEVAT WORD NIE!

DIS NIE HOE BAIE ONS PRAAT NIE... DIS WAT ONS SE!

Thursday, September 18, 2008

Ps 23

Spesiaal aan al ons vroue, n pragtige verwerking van Ps 23

Die Here is my Herder, ek sal geen hartseer vrees nie,
Hy droog my trane, ja, ek is ewig sy dogter-kind!
Wanneer ek, as vrou, die gevoel van 'alleen' wees ervaar,
hou Sy hande myne stewig vas.
Hy vertroetel en Hy vertroos my;
met n oneindige liefde wat net Hy my kan skenk.
Wanneer familie en vriende te ver is vir net gou-n-drukkie-gee,
sal Hy gereed staan, want wie is daar wt beter van my 'vrouwees' weet?
En al gaan my lewe of verhoudings deur donker dae,
sal Hy my altyd teen Sy boesem hou en daaraan herinner:
ek is EKSTRA spesiaal,want ek,
EK IS VROU!

(MANDI KLEINHANS)

Monday, September 15, 2008

Wit armoede

Woon ek en die oom mos tot baie onlangs nog in die stad, en daar het die omvang van wit armoede my soms verstom en ander kere in trane gehad.
In die afgelope paar jaar het daar sowat 38 wit nedersettings in en om pretoria verrys.
Ek het breed hieroor gaan nalees en op my eie n bydrae probeer maak deur n skenking of twee...

Een van die swaarste tydperke in die Afrikaner se geskiedenis was sekerlik die 1930's. Armoede was wyd verspreid en daar is geraam dat meer as 300 000 wittes onder ernstige armoede gebuk gegaan het.
Die wereldwye depressie het tot in die hartjie van Suid-Afrika deurgesyfer en grootskaalse wanhoop tot gevolg gehad.
Meer as 70jaar later staar wit suid afrikaners selfs n ernstiger krisis in die gesig-een wat groot ooreenkomste met die groot depressie toon.
Hulle woon op die randjies van die samelewing, gewoonlik weggesteek uit die openbare oog. Hulle opleidingsvlakke is meestal laag, wat uiteindelik tot die armoede kringloop bydra.

"Today 430 000 whites, of a total white population of 4.5 million, are too poor to live in traditional white areas," het prof lawrence Schlemmer al drie jaar gelede aan die Mail and Guardian gese. Volgens hom word die probleem waarskynlik onderskat en is die bestaande statestieke onbetroubaar en oud.

Wit armes is mense wat hard geval het; platgeslaan deur die lewe. Praat jy met hulle, is hulle oe leeg. Daardie glinstering van menswees is nie meer daar nie. Die bietjie selftrots wat hulle miskien vroer gehad het is daarmee heen!
Kos op die tafel en n dak oor die kop is twee van die mens se mees basiese behoeftes. Tog wakker die huidige prysstygings en hoer lewenskostes asook die drastiese brandstofverhoging en die elektisiteitskrisis vrees by talle aan.

Wit armoede is waarskynlik die enigste soort armoede in die wereld wat nie polities korrek is nie en waaroor daar nie gepraat mag word nie, maar die stilte oor armoede moet verbreek word!

n Mens sou verwag dat maatskaplike besteding op wittes geleidelik sou toeneem soos armoede onder wittes toeneem, maar die teendeel is waar! Maatskaplike besteding het ook n raskleur begin kry!

Die mees onlangse navorsing wat ek onder oe gehad het toon dat byna 50% van alle Suid Afrikaners in relatiewe armoede leef!

Ons almal het n morele plig om teen armoede... ook wit armoede te veg!

Wednesday, September 10, 2008

Monday, September 8, 2008

Maar net een talent

Ek is so geneig om myself met ander te vergelyk wat meer talentvol as ek is.
So n vergelykery maak my gewoonlik of meerwaardig of bitter!
Dit het moed gekos om te erken dat ek eintlik heel gemiddeld is.
Ek het n vreeslike probleem met my skryfwerk. Ek moet nog die feit verwerk dat ek nooit n groot skrywer sal wees nie...
Wanneer ek van die groot skrywers hier in die blog wereld se werke lees, het ek elke keer so minderwaardig gevoel, dat ek gedreig het om nooit weer naby hierdie ding te kom nie!

Todat ek die saak vir myself uitgemaak het:
Daar is bitter min mense wat werklik geniaal is. Die grootste gros van ons het maar een talent gekry!
Die Engelse skrywer Madeleine L'Engle skryf in haar boek Walking on Water:
'The important thing is to recognise that our gift, no matter what the size, is indeed something given us, for which we can take no credit, but with which we may humbly serve, and, in serving, learn more wholeness, be offered woundrous newness'

Hemelse Vader,
dankie dat U nie een van U kinders oorgeslaan het toe U vir ons talente gegee het nie.
Vergewe my dat ek baiemaal ontevrede is omdat my talente nie so groot soos ander mense s'n is nie.
Dankie dat ek vandag vir die eerste keer besef dat my talent n gawe van U is waarvoor ek geen krediet mag neem nie.
Gee dat ek nooit daarop sal roem nie, maar dit altyd sal gebruik om U te dien.
Amen

Wednesday, September 3, 2008

Soos Miere

Ons lewe is op die oomblik soos miere voor die reen, ons skarrel van die een plek na die ander, van die een dorp na die ander!
Binne vier maande het ons vier keer verhuis!

Ons omstandighede het die afgelope twee maande veel te wense oorgelaat!
Die een teenspoed op die ander het ons getref!
Die oom het sy werk verloor...
Ons motor het gebreek - R3000.00 verder en ons is weer mobiel...
Ons moes verhuis na n ander dorp...
Ons motor breek weer... in die middel van n swart woonbuurt!
Ons staan langs die pad met n vrag agter die stukkende motor gehak, en die rookbolle wat oral uitborrel...
Ons is altwee stom!
Tweelingsus hou kop! Boet kom sleep ons na ons nuwe dorp!

Mens se lewe verloop gewoonlik gelykmatig todat n ramp jou uit die bloute tref.
Wanneer n mens teen n steil berghelling stap en jou voete onder jou uitgly, moet daar tog iewers n bos of tak wees om na te gryp! Dit voel vir ons, ons gryp in die lug rond...

Die helfte van ons aardse besittings is by ons in die nuwe dorp en die ander helfte is nog in die ou dorp...
Ons sit sonder vervoer...
Ek wens ek het vlerke om na n eensame nessie iewers in die woestyn te vlieg waar ek in vrede en stilte alleen kan wees!
Maar wegvlieg bied hellaas nooit n oplossing vir probleme nie! Om van jou probleme weg te vlug het dit nog nooit laat verdwyn nie!
Dit is maar die beste om stil te staan, die probleme onder oe te sien en haalbare oplossings daarvoor te probeer vind!

Ons is finansieel, geestelik en liggaamlik platgeslaan!
In die spreekkamer van die tandarts wat ek in my laerskooljare besoek het was daar n geraamde spreuk wat my al die jare nog bybly...
GOD, SKENK MY DIE KALMTE OM DIE DINGE TE AANVAAR WAT EK NIE KAN VERANDER NIE,
DIE MOED OM DIE DINGE TE VERANDER WAT EK KAN
EN DIE WYSHEID OM TE WEET WAT DIE VERSKIL IS...
Ek bly hierdie spreuk oor en oor bid die afgelope weke...

Dit voel vir my of die lewe sy "gatkant" vir my gedraai het, en daarom voel ek weer baie lus om my "gatkant" op die lewe te draai...
Maar die lewe bly kosbaar, ten spyte van die omstandighede wat ons op die vlug wil laat slaan...

Aan al die mense wat ons bygestaan het die afgelope week/twee weke...BAIE DANKIE.
My kind; dat julle spesiaal van Pretoria gekom het om ons rond te ry!
Tweelingsus en Boet; dat julle van die werk afgevat het om ons vrag verder te kom sleep!
Vriendin en Bill; vir al die lekker kos en rondry, al moes julle uit n siekbed uit opstaan om ons by te staan.
Muriel(Wippie) vir al jou e-posse wat se jy is bekommerd oor my al het jy niks van die omstandighede geweet nie... Dankie vir jou vriendskap en liefde wat jy my so onverdiend skenk!

Here Jesus,
Ek aanbid U as die outeur en gewer van kalmte en vrede.
Hier in die middel van my oorvol, onrustige, besige lewe
weet ek self nie hoe ek alles gedoen gaan kry nie
of watter dinge eerste gedoen moet word nie
want ek is so gespanne en onrustig
Help my asseblief om heeltemal stil te word by U
en al die stukkies van my lewenslegkaart voor U uit te pak
sodat U elke stukkie op sy regte plek kan inpas
Dankie vir die stilte en rustigheid wat U teenwoordigheid vir my bring
en vir U vermoe om orde in my omgekrapte wereld te skep.
Amen