Tuesday, May 27, 2008

Voorwaarts Mars!!!

Is jy een van die rusbrigade wat glo dat ambisie en harde werk net bedoel is vir vroue wat gou oud en lelik wil lyk, wat nie in die minste belangstel in hulle voorkoms nie en buitendien deel is van n eiesoortige groepie waarin jy nie belangstel nie?
Moenie glo nie! Uitdagings en ambisie, en sommer baie hiervan, is die allerbeste regmakertjies wat jy jou kan indink. Dit is juis die Eva wat so n vol program handhaaf dat daar beswaarlik tyd is vir dinge soos onbelangrike vergaderings, skoonheidsalonne, en haarkapsters, wat die langste mooi bly, die jare trotseer met n lig in die oe en n veerkragtigheid in die stap, en lank verby die kritieke mylpaal van oumaskap nog beskou word as n werklike pragtige vrou.

Dit rym oenskynlik nie dat die vrou wat al in haar twintigerjare haar hande en breinkrag die saligheid belowe om kamtig haarself goed op te pas en te versorg, juis met die verloop van jare nie kan kers vashou vir haar energieke suster nie.
Wat agter hierdie verskynsel le, is baie moeilik definieerbaar.

Ons is in n oorlewingstryd gewikkel, ons het die inflasietydvak betree en die kanse is skraal dat hierdie moordende pas ooit weer sal verslap. Soos dinge nou gaan, moet n mens alreeds oople om by te bly, wat nog te se aan die wenkant wees. In die lig hiervan kan ons net sowel die resies voluit hardloop en allerlei vrese oor wat dit aan ons vroulikheid en voorkoms sal doen, besweer.

Dit mag miskien klink of daar te veel eise aan die ambisieuse vrou gestel word, maar dis nie waar nie. Dit gaan met ambisie soos met die drafgier. Hoe meer jy draf, hoe n groter stamina bou jy op sodat jy al hoe langer afstande kan afle sonder om moeg te word.
Presies dieselfde gebeur met die ambisieuse vrou - hoemeer sy haarself verryk en die sterkte van haar vlerke toets, hoe groter en hoer is die vlugte wat sy onderneem.
Ambisie is n doodnatuurlike instink.
Maar gedurende latere jare laat baie mense toe dat hierdie kosbare eienskap verlore gaan.

Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie. Met n vrou vol ambisie bedoel ek nie die uitgesoekte groepie topvroue in die sake - beroeps - akademiese - of sportlewe nie. Ek juig oor vroue wat wel daardie hoogtes bereik het, maar n ambisieuse vrou kan nie in n kategorie ingeprop word nie. Dit is sy wat immer gereed is is om n nuwe uitdaging aan te pak - op welke terrein van die lewe dit ook mag wees, om dit deur te voer en om n sukses daarvan te maak.

Om in haar geselskap te wees, is heerlik - sy vonkel, sy sprankel, sy kan nie uitgepraat raak hieroor en daaroor nie. en dit is al hierdie lewenslus wat haar jonk hou, wat haar mede Evas wat in jare veel jonger is as sy sommer dekades ouer laat lyk en klink. Hoekom? Omdat dit nie net n vrou se voorkoms is wat haar jonk hou nie, maar ook n varsheid wat haar hele wese deurstraal. En dit is weer die gevolg van die feit dat sy bevrediging put uit alles wat sy doen.

Onthou altyd - as jy ambisieus is, is jy nie soseer besig om jou loopbaan, jou vermoens, jou vakman - of kunstenaarskap, jou optrede of wat ook al te verbeter nie. Nee, veel meer is op die spel, want daaragter le jou begeerte om volkome mens te wees, om jou ten volle uit te leef!

Dus susters, kom laat ons voorwaarts Mars!!!

Sunday, May 18, 2008

Diabetes

Leer ek die siekte ken by die oom...
Dit is ook ouboet se siekte en was ook oupa Loutjie se siekte.
14jaar gelede toe my pad met die oom s'n kruis was dit vir my n vreemde siekte, n BANGMAAK siekte!

Besluit ek op so n bang dag dat ek eintlik bang is omdat ek niks weet van die siekte nie, en net daar begin ek kennis inwin oor hierdie siekte, want sien kennis is mag!
En so leer ek al die afgelope 13jaar elke dag iets nuuts oor die siekte;
Ek lees oor die siekte,
Ek vra oor die siekte,
Ek woon diabetes praaitjies by,
Ek luister na die siekte:
En steeds verstaan ek nog nie 'suikersiekte' heeltemal nie.

Die oom is tipe 1 diabeet; insulien afhangklik, en dit is n ernstiger vorm van diabetes.
Hy moet homself 2x per dag inspuit voor etes - hierdie inspuitings is lewensnoodsaaklik!, omdat sy liggaam geen insulien vervaardig nie.

Hierdie wondermiddel (insulien) is deur Dr Frederick Banting van Kanada ontdek, en word elke dag oor die wereld heen deur miljoene diabete gebruik.

WAT IS DIABETES?
Wanneer ek en jy eet, haal ons dunderm voedingstowwe uit die kos wat ons eet. Een van hierdie voedingstowwe is glukose. Glukose gee vir ons energie.
Insulien word vervaardig deur n spesiale klier naby die maag - die pankreas.
Insulien is n belangrike hormoon omdat dit help om die proses te reguleer waarmee ons liggaam kos afbreek, as energie gebruik en opberg.
By mense met diabetes vervaardig die pankreas te min of geen insulien nie. Die liggaam gebruik energie vir al sy funksies. Dus benodig ons liggame insulien!

Die oom moet daagliks sy bloedsuikervlak toets met n spesiale masjientjie, hy prik sy vinger en drup n druppel bloed op n toetsstokkie.
Normale bloedsuikervlak is tussen 4 en 8.
Die oom s'n al by 27 gedraai...

Die oom se dieet moet ook noukeurig dopgehou word. As iemand in die gesin diabetes het moet die helle gesin reg eet...
ONS ALMAL EET;
Minder vet;
Minder verwerkte koolhidrate;
Minder suiker;
Minder sout,
MAAR ONS MOET.... meer gereeld oefen!

As daar nie noukeurig na diabetes gekyk word nie hou dit inderdaad BAIE gevare en komplikasies in...
mense met diabetes is blootgestel aan verlaagde bloedsirkulasie; blindheid; hart en hartvatsiektes; nierversaking.
In uiterste gevalle kan tipe 1 diabetes lewensgevaarlik wees.
Dit is hoekom diabete altyd hulle bloedsuikervlakke so konstant moontlik moet hou!

Met hierdie kennis is suikersiekte nie meer vir my iets negatiefs nie...
Dit is wel iets waarvan ek daagliks bewus is...

Saturday, May 17, 2008

Dwarrelwind

Verander die oom toe mos so drie weke gelede ons lewens in n dwarrelwind...

Skoonsus bel hom die vrydag oggend oor n pos wat in hul dorp geadverteer word; die oom bel vir n afspraak; kry n onderhoud vir dieselfde middag; word die pos aangebied en moet die maandag al begin werk by die nuwe maatskappy...
En so verander ons lewens in n dwarrelwind...
Pak en verhuis in n naweek se tyd...
Met baie hulp van skoonsus, die oom se seun, sy lewensmaat, die nuwe maatskappy en ouboet...

n Dwarrelwind is mos n skielike wind...
Dit ruk om die hoeke van jou huis, en loer by elke oop skrefie in.
Hy kom dring hom ast ware op aan elkeen en alles wat in sy pad kom...
Hy kom krap alles deurmekaar...

Waar die dwarrelwind sy draai kom maak het, laat hy n duidelike spoor-
al is dit net deur die fyn stoflagie op my stoel voor die venster of n skewe gordyntjie wat net nou nog reg gehang het.

So is my gedagtes soms ook n regte dwarrelwind, wat speels en onverskillig die dag ingaan.
Is dit nie heerlik om party dae net te lewe soos jy wil nie? Om te doen en te dink net soos jy wil nie...
Sonder om werklik te gaan stilstaan en te diep oor een gedagte te top nie.

Sulke dae laat ek met graagte toe dat die dwarrelwind selfs my hare deurmekaarkrap, want ek weet hy is tog nie ernstig nie...
en saam dwarrel ons vorentoe!

Friday, May 2, 2008

Tolbos

Soos n Tolbos, so is ook ons lewensdae.
Ja, n warrelbos, n versamelbos!

Dis nou hierdie kant toe, dan weer daardie kant toe, dis die een oomblik in volle vaart vorentoe net om weer netnou op ons spore terug te loop.

En so ver ons gaan, waai soveel indrukke teen ons vas - te veel om op te noem, maar met die warrelgang van die jare verloor ons weer baie hiervan.
Tog was die verloop van ons dae nie vergeefs nie, want n ietsie van alles bly onherroeplik aan ons vaskleef.

Soos die tolbos vorder op sy pad, tel hy oral flenterjies hiervan en daarvan op wat stille getuienisse is van oral waar hy was.
So dra elke mens in homself n tere nagedagtenis, maar ook n litteken: gelukkige oomblikke, maar ook tye van weerlose smart of verwerping of eensaamheid.

Dit alles maak die somtotaal uit van wat ons is.
Dit spel ons menswees uit.
Hierin le ons dae opgesluit.
Die tolbos van ons lewens is al tasbare bewys wat ons het van die dinge wat verbygegaan het en wat nooit weer sal wees nie...