Sunday, November 7, 2010

Mense



Ek word hoe langer hoe meer geboei deur mense.

Mense is n daaglikse avontuur - n Avontuur wat my daagliks meer verwonderd laat, nie alleen oor die liggaam wat jy kan sien en aanraak nie, maar veral oor die ondeurgrondelike misterie dat jy in so n wonderlike verpakking baie naby kan kom en tegelyketyd tog oneindig ver weg en onbereikbaar bly...

Natuurlik is daar die glansmense in die lewe deur wie jy moeiteloos kan sien en natuurlik is daar die gesigloses wat by jou verby haas asof hulle aangetrek word deur n geheimsinnige mag wat hulle geen rus meer laat nie. Dit is mense sonder geskiedenis, sonder diepte in hulle lewe. Van hulle begryp ek baie min, en tog ken ek van hulle en sou ek hulle nie kon ontbeer nie. Hulle is mense. Hulle het my nodig en ek het hulle nodig.

Mense met vraende oe en gespanne gesigte. Mense wat ly. Mense wat wanhopig is, wat verbitterd is tot in die murg van hulle gebeente. Mense wat nie meer in staat is om van enigiets in die lewe te geniet nie. Mense wat nie meer lewe nie, maar hulle bly deel van jou leefwereld.

En dan is daar die mense wat vir jou stof tot nadenke is. Mense wat vir jou blydskap bring, wat jou laat lag, mense wat bly is om jou te sien en dit ook vir jou se.
En die baie goeie eenvoudige mense met n verborge, onbegryplike rykdom in hulle harte...
WAT N FEES OM ONDER SULKE MENSE TE WEES!