Saturday, July 5, 2008

Kola uit n Klip

Met die huidige brandstofpryse stap ek nou deesdae na die supermark om die nodigste aanvullings te kry...

So loop ek my op die parkeerterein vas in n paartjie, wat by my verbyry met n motortjie wat klink soos iets met n "primusenjin"
Hoekom maak hy so? vra die vrou
Hy maak maar so, se die man met kalme aanvaarding van een wat weet daar is nie geld om na geluide te laat kyk nie...

In die supermark stuur ek neus-in-die-lug by Spaanse olywe, Duitse wors, Engelse marmelade en "fancy" sardientjies verby. Ek mik vir grofgemaalde mieliemeel, "geen-naam"grondboontjie botter, ongewate artappels en enigiets eetbaar en kraakvars op "special"

Ek tref die vroutjie van die kloko-kloko motortjie aan die verbruikerskant van die slaghuis afdeling aan. Sy is in gesprek met die fronsende slagter en haar nek is opvallend rooi: Die slagter probeer haar oorreed om te kies uit die groot hoeveelheid klaaropgemaakte pakkies maalvleis. Maar sy veg moedig voort: Die klaaropgemaakte pakkies is vir grypers Meneer en ek kan dit nie bekostig om te gryp en betaal nie! Sal u asseblief so gaaf wees om vir my vyftien pakkies R20.00 maer maalvleis af te weeg en op te maak... Die slagter is n man wat seker van n ordentlike stukkie vleis op sy bord hou, want hy brom iets in sy snor "Goed Dame" se hy styf. U kan solank die res van u "shopping" afhandel, u bestelling sal oor 10minute gereed wees...

Die vroutjie loop met haar trollie in myne vas... Ek moet n bloeddrukpil drink se sy ontstoke: om deesdae uit te kom met jou kruideniersware toelae, is om "kola uit n klip te tap"...
Ek maak agt frikkadelle uit R20.00 se maalvleis: twee elk vir Hans en Herman, een vir my en een elk vir die meisiekinders en nog een vir die kat, en dan staan die slagter met my en stry!
Sy wag nie eers om te hoor of ek enige kommentaar het nie en storm die groente afdeling met Hans of is dit dalk Herman agterna...

Toe ek met my twee sakkies weer deur die parkeer area stap kom hulle van agter verby gery... kloko-kloko...

Hoe meer ek oor die werklikheid van ons daaglikse bestaan nadink, hoe meer onwerklik word die werklikheid van wat vroue vermag vir my...
Is ons koppe reg aangeskroef?...
Ons dokter onsself met "Disprins" en knoffelpille teen griep en die oorgangsjare-dokter toe gaan is te duur-Ons verrek ons nekspiere in n poging om ons eie hare met die naaldwerksker te knip- met n sker en n truspiel kan jy R70.00 spaar-Ons eet aanbrandsels en skraapsels sodat die res van die gesin genoeg kry, ons trek ons broekie-kouse so aan dat die leer aan die binnebeen opklim, ons verduur bandjies wat afgly en oor die elmboog wil loop le... sodat ons kinders kan bly glimlag, sodat ons mans daardie tevrede suggie na ete kan gee...

Jy sien Meneer die slagter...
Vrou staan vir WONDERWERK... want dis gewone vroue wat buitengewone dinge doen meneer die slagter, dieselfde vrou wat rooi in die nek bly aandring op R20.00 pakkies maalvleis, staan vir die een wese op die aarde wat kola uit n klip kan haal, wat soveel glasies daaruit tap dat geeneen van die wat hulle bekertjies hou, ooit sal vermoed hoe oud haar nagrok en hoe vaal haar eens pienk pantoffels nou al is nie....

Staan vir ons regop, Mevrou-in-die-vaalblou-nagrok...
JY VERDIEN DIE APPLOUS!!!

2 comments:

  1. Pragtige possie! Ek sien ek gaan lekker kuier hier by jou, moet net nog gaan opvang met jou ander. :wink:

    ReplyDelete
  2. Dit is 'n baie besonderse stukkie skryfwerk hierdie!

    ReplyDelete