Saturday, April 12, 2008

Die stil diktator...

Besluit ek en n vriendin hierdie afgelope week ons voel ewe moeg en papgeslaan deur die gesukkel van die lewe, ons dollie ons op, verf ons lippe stopstraat rooi en gaan doen 'windowshopping' in n ou deel van die stad...
Nie een van ons eers geld vir n koppie koffie nie, maar ons gaan 'shop'!

In die oudste deel van die stad stap ons n winkeltjie binne wat stink van die geskiedenis. Net binne die ingang loop ek my byna didnis teen n dogtertjie, sy het n rooi strik in haar hare en n ballon in haar hand. Nadat ek haar weer mooi staangemaak het op haar plek, vertel die vriendelike winkelmeisie aan ons die ou dingetjie is deur die genade gespaar en sy is vanjaar 81jaar oud. Sy het haar kinderskoene nog nooit ontgroei nie...
Sy is n winkelpop!
Op die volgende hoek staan nog een en sy het n paar koue, groot, plastiek oe, ons word vertel sy is vanjaar vyftig jaar oud en haar naam is Heidi.
Sy is uitgedos volgens die jongste mode, haar vel is rosig, glad en sonder plooie. Dit tref my dat sy oor nog vyftig jaar steeds so mooi en elegant sal wees...
Haar lyf sal sy immerjeugdigheid behou en haar vel sal glansend bly, haar mond sensueel en sonder om n oog te knip, sal sy, dienswillig die uwe, voortgaan met haar taak...
Sy is n stil diktator, n winkelpop wat aan ander voorskryf wat hulle moet dra terwyl sy onverskillig deur die winkelvenster kyk, waar n ganske wereld bedags op sy tone verbytrippel.

Wie is sy? wonder ek, sy wat nooit moeg word nie. Hoeveel keer het sy die jakarandabome sien pers word? Hoeveel kersvakansies het sy al sien verbymasjeer? Wie is haar skepper? En wie is die slaaf, sy of ons? Wie hou wie gevange?
Dra ons nie die klere wat sy voorskryf nie, staan ons uit in n bondel. Sy rus in elk geval nie voordat sy ons nie almal eenders geklee het nie.
Ons luister en ons verstaan haar stil taal.
Op haar manier is sy n belangrike en selfs noodsaaklike terapie vir ons vroue. met haar voorskrifte beroof sy die psigiater sonder om n woord te se...

Op pad huistoe dink ek so by myself...
n Pop is maar n pop, hol van binne... n regte ware pop kan n mens uitken.

Die werklike probleem is eintlik-kan n mens nog n mens, n werklike mens, uitken?

1 comment:

  1. Hello. This post is likeable, and your blog is very interesting, congratulations :-). I will add in my blogroll =). If possible gives a last there on my blog, it is about the TV de Plasma, I hope you enjoy. The address is http://tv-de-plasma.blogspot.com. A hug.

    ReplyDelete