Monday, April 28, 2008

Werk- straf of seen:

As ek dink aan al die moontlike faktore in die lewe wat kan mee-help om ons gelukkig of ongelukkig te maak, dan is die werk wat ons doen seker een van die belangrikste!
Want die werk wat ons doen is iets wat nooit ophou nie, ons bly bewustelik of onbewustelik daarmee besig...
Ons verdien ons leeftog deur die werk wat ons doen, ons bestee n groot deel van ons liggaamskragte en geesteskragte daaraan. Ons werk maak vir ons die verskil tussen selfstandigheid en afhangklikheid. dit kleur ons hele lewe...

Een van die jammerlikste verskynsels van ons tyd is dat die werk wat ons van dag tot dag moet doen, vir so baie mense n straf en n vloek geword het in plaas van n seen. Vir baie mense verdwyn die skeppingsvreugde en arbeidsgenot uit hulle werk. In plaas dat hulle arbeid vir hulle n lus is, bejeen hulle dit met traagheid en n gebrek aan geesdrif...

Dit is wel nie vir elkeen moontlik om die soort werk te doen waarvoor hy aanleg het of waarin hy belangstel nie. Baie soorte werk is eentonig en vervelig, en dit is n feit wat ons nie kan ontken nie. Maar nou kan ons ons ook nie van die feit losmaak dat ons, indien ons gelukkig en geestesgesond wil bly, op die een of ander manier moet probeer om bevrediging in ons werk te vind nie!

Omgewigsfaktore speel beslis hier n groot rol. Die stryd om te bestaan is swaar en die lewenskoste is abnormaal hoog. Dit beteken dat mense dikwels moeg en ondervoed is as hulle werk toe gaan. Hulle lewe in ongunstige omstandighede en werk dikwels in nog ongunstiger omstandighede.
Hierdie faktore skep n onvermoe en n onwilligheid om te werk.

Ons moet tog almal werk om te lewe. Dit is n voorreg om te kan werk en n regverdiging vir n mens se bestan. En as dit nie die geval is nie, is dit lewensnoodsaaklik om n verandering te probeer maak...

No comments:

Post a Comment