Tuesday, May 27, 2008

Voorwaarts Mars!!!

Is jy een van die rusbrigade wat glo dat ambisie en harde werk net bedoel is vir vroue wat gou oud en lelik wil lyk, wat nie in die minste belangstel in hulle voorkoms nie en buitendien deel is van n eiesoortige groepie waarin jy nie belangstel nie?
Moenie glo nie! Uitdagings en ambisie, en sommer baie hiervan, is die allerbeste regmakertjies wat jy jou kan indink. Dit is juis die Eva wat so n vol program handhaaf dat daar beswaarlik tyd is vir dinge soos onbelangrike vergaderings, skoonheidsalonne, en haarkapsters, wat die langste mooi bly, die jare trotseer met n lig in die oe en n veerkragtigheid in die stap, en lank verby die kritieke mylpaal van oumaskap nog beskou word as n werklike pragtige vrou.

Dit rym oenskynlik nie dat die vrou wat al in haar twintigerjare haar hande en breinkrag die saligheid belowe om kamtig haarself goed op te pas en te versorg, juis met die verloop van jare nie kan kers vashou vir haar energieke suster nie.
Wat agter hierdie verskynsel le, is baie moeilik definieerbaar.

Ons is in n oorlewingstryd gewikkel, ons het die inflasietydvak betree en die kanse is skraal dat hierdie moordende pas ooit weer sal verslap. Soos dinge nou gaan, moet n mens alreeds oople om by te bly, wat nog te se aan die wenkant wees. In die lig hiervan kan ons net sowel die resies voluit hardloop en allerlei vrese oor wat dit aan ons vroulikheid en voorkoms sal doen, besweer.

Dit mag miskien klink of daar te veel eise aan die ambisieuse vrou gestel word, maar dis nie waar nie. Dit gaan met ambisie soos met die drafgier. Hoe meer jy draf, hoe n groter stamina bou jy op sodat jy al hoe langer afstande kan afle sonder om moeg te word.
Presies dieselfde gebeur met die ambisieuse vrou - hoemeer sy haarself verryk en die sterkte van haar vlerke toets, hoe groter en hoer is die vlugte wat sy onderneem.
Ambisie is n doodnatuurlike instink.
Maar gedurende latere jare laat baie mense toe dat hierdie kosbare eienskap verlore gaan.

Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie. Met n vrou vol ambisie bedoel ek nie die uitgesoekte groepie topvroue in die sake - beroeps - akademiese - of sportlewe nie. Ek juig oor vroue wat wel daardie hoogtes bereik het, maar n ambisieuse vrou kan nie in n kategorie ingeprop word nie. Dit is sy wat immer gereed is is om n nuwe uitdaging aan te pak - op welke terrein van die lewe dit ook mag wees, om dit deur te voer en om n sukses daarvan te maak.

Om in haar geselskap te wees, is heerlik - sy vonkel, sy sprankel, sy kan nie uitgepraat raak hieroor en daaroor nie. en dit is al hierdie lewenslus wat haar jonk hou, wat haar mede Evas wat in jare veel jonger is as sy sommer dekades ouer laat lyk en klink. Hoekom? Omdat dit nie net n vrou se voorkoms is wat haar jonk hou nie, maar ook n varsheid wat haar hele wese deurstraal. En dit is weer die gevolg van die feit dat sy bevrediging put uit alles wat sy doen.

Onthou altyd - as jy ambisieus is, is jy nie soseer besig om jou loopbaan, jou vermoens, jou vakman - of kunstenaarskap, jou optrede of wat ook al te verbeter nie. Nee, veel meer is op die spel, want daaragter le jou begeerte om volkome mens te wees, om jou ten volle uit te leef!

Dus susters, kom laat ons voorwaarts Mars!!!

No comments:

Post a Comment