Wednesday, September 3, 2008

Soos Miere

Ons lewe is op die oomblik soos miere voor die reen, ons skarrel van die een plek na die ander, van die een dorp na die ander!
Binne vier maande het ons vier keer verhuis!

Ons omstandighede het die afgelope twee maande veel te wense oorgelaat!
Die een teenspoed op die ander het ons getref!
Die oom het sy werk verloor...
Ons motor het gebreek - R3000.00 verder en ons is weer mobiel...
Ons moes verhuis na n ander dorp...
Ons motor breek weer... in die middel van n swart woonbuurt!
Ons staan langs die pad met n vrag agter die stukkende motor gehak, en die rookbolle wat oral uitborrel...
Ons is altwee stom!
Tweelingsus hou kop! Boet kom sleep ons na ons nuwe dorp!

Mens se lewe verloop gewoonlik gelykmatig todat n ramp jou uit die bloute tref.
Wanneer n mens teen n steil berghelling stap en jou voete onder jou uitgly, moet daar tog iewers n bos of tak wees om na te gryp! Dit voel vir ons, ons gryp in die lug rond...

Die helfte van ons aardse besittings is by ons in die nuwe dorp en die ander helfte is nog in die ou dorp...
Ons sit sonder vervoer...
Ek wens ek het vlerke om na n eensame nessie iewers in die woestyn te vlieg waar ek in vrede en stilte alleen kan wees!
Maar wegvlieg bied hellaas nooit n oplossing vir probleme nie! Om van jou probleme weg te vlug het dit nog nooit laat verdwyn nie!
Dit is maar die beste om stil te staan, die probleme onder oe te sien en haalbare oplossings daarvoor te probeer vind!

Ons is finansieel, geestelik en liggaamlik platgeslaan!
In die spreekkamer van die tandarts wat ek in my laerskooljare besoek het was daar n geraamde spreuk wat my al die jare nog bybly...
GOD, SKENK MY DIE KALMTE OM DIE DINGE TE AANVAAR WAT EK NIE KAN VERANDER NIE,
DIE MOED OM DIE DINGE TE VERANDER WAT EK KAN
EN DIE WYSHEID OM TE WEET WAT DIE VERSKIL IS...
Ek bly hierdie spreuk oor en oor bid die afgelope weke...

Dit voel vir my of die lewe sy "gatkant" vir my gedraai het, en daarom voel ek weer baie lus om my "gatkant" op die lewe te draai...
Maar die lewe bly kosbaar, ten spyte van die omstandighede wat ons op die vlug wil laat slaan...

Aan al die mense wat ons bygestaan het die afgelope week/twee weke...BAIE DANKIE.
My kind; dat julle spesiaal van Pretoria gekom het om ons rond te ry!
Tweelingsus en Boet; dat julle van die werk afgevat het om ons vrag verder te kom sleep!
Vriendin en Bill; vir al die lekker kos en rondry, al moes julle uit n siekbed uit opstaan om ons by te staan.
Muriel(Wippie) vir al jou e-posse wat se jy is bekommerd oor my al het jy niks van die omstandighede geweet nie... Dankie vir jou vriendskap en liefde wat jy my so onverdiend skenk!

Here Jesus,
Ek aanbid U as die outeur en gewer van kalmte en vrede.
Hier in die middel van my oorvol, onrustige, besige lewe
weet ek self nie hoe ek alles gedoen gaan kry nie
of watter dinge eerste gedoen moet word nie
want ek is so gespanne en onrustig
Help my asseblief om heeltemal stil te word by U
en al die stukkies van my lewenslegkaart voor U uit te pak
sodat U elke stukkie op sy regte plek kan inpas
Dankie vir die stilte en rustigheid wat U teenwoordigheid vir my bring
en vir U vermoe om orde in my omgekrapte wereld te skep.
Amen

1 comment:

  1. Ai Nims julle was hel toe en terug.
    Sterkte vir jou vriendin!

    Ek gaan vanaand vir jou 'n gebedjie doen!

    Die lewe maak partykeer snaakse draaie. En as die probleme eers begin, hou dit aan, hulle sĂȘ dit kom in drie?

    Mooi bly!
    Mag dit gou weer beter gaan!

    ReplyDelete