Ek is so moeg van wakker le en wroeg...
My hart is vol kommer oor my kinders se toekoms
Toe hulle klein was
Kon ek hulle teen my vasdruk as hulle seerkry
En pleisters plak en spoeg aansmeer
Todat hulle weer lag.
Nou is hulle groot en hulle seerkry is anders
Ek kan hulle nie meer vasdruk nie
Ek voel so magteloos
Ek kan niks meer vir hulle doen nie
Ek kan maar net vir hulle bid en hulle aan U opdra
GROOT KONDUKTEUR
Ek laat hulle vanaand op U trein
Neem hulle asseblief saam met U op reis
Laat my rustig aanvaar dat ek nie meer kan saamgaan
En neem sommer my bagasie van skuldgevoelens
Waaraan ek so swaar dra ook met U saam
Ek dank U dat U hulle eintlike Vader is, hulle Bloedpa
Dit, omdat U seun hulle met sy bloed gekoop het
Lig U hande seenend oor my kinders Here
En laat hulle opkyk na die hande wat hulle seen
Laat hulle hulle name onuitwisbaar sien in U handpalms
En laat U bloed wat daaruit vloei hulle reinig van alle -
Ja regtig alle sonde
Ek wuif vir hulle terwyl U met hulle verder
Op hulle lewensreis vertrek
Dankie tog Here, dat ek kan weet
U is hulle Redder - ek dank U daarvoor
AMEN