Sunday, January 15, 2012

Stories...

Ek probeer vreeslik hard om terug te keer na my blog... tyd is nie altyd beskikbaar om hier by die rekenaar te kom sit en kuier nie. Die werk wat ek doen gaan oor tyd... ek werk teen tyd, vyf tot ses huise per dag - elkeen net n sekere tyd, want die klient betaal per uur. Net n sekere hoeveelheid tyd tussen kliente, die verkeer n nagmerrie - die klient vreeslik gesteld op sy tyd - moenie laat wees nie - moenie langer bly nie - moenie minder tyd spandeer as waarvoor die klient betaal nie. Ekself moet 7uur soggens by die kantoor wees om my admin werk te doen vir 10min, 7h15 moet ek die span meisies by die optelpunt kry - dan begin jou geveg teen die oggendverkeer om 8h00 by jou eerste klient te wees... Ek moet ook sorg dat die meisies nie te laat weer by die aflaaipunt kom nie want dan sukkel hulle weer om vervoer te kry huistoe. Ekself gaan dan weer terug kantoor toe om die voertuig te bere, enige kontantgelde inbetaal, kliente se huissleutels weer in die kluis toe te sluit - probleme, versoeke, en sommer net algemene klagtes te rapporteer. Ekself kom dan weer so om en by 18h00 by my huis - dan moet my eie huishouding gebeur... kosmaak, netjies maak, kombuis skoon kry, naweke spandeer ek en manlief Saterdae om ons eie nessie skoon te maak, wasgoed te was, inkopies te doen -- my kaste raak ook vol stof, my vensters moet ook gewas word, my klere gestryk word, my matte ook gestofsuig word... en intussen loop die tyd... Sondae probeer ons tyd maak vir mekaar, lekker rustig raak, die week se dinge met mekaar te bespreek ons probeer om Sondae glad nie op die horlosie te kyk nie...
Ek leer elke dag vreeslik baie by die vier meisies in my span, hulle werk baie baie hard maar het altyd n soort rustigheid aan hulle, is baie lief om te sing terwyl hulle werk, praat onnodig hard, lag lekker, en huil soms ook as die lewe druk, kom met min oor die weg... elkeen van hierdie vier meisies is STERK vroue. Werk hard om ook hulle gesinne aan die gang te hou...

By die kliente leer ek ook daagliks lesse, ek betree elkeen van hierdie mense se persoonlike ruimtes - sien en hoor baie dinge - huil saam met sommige van hulle, bid saam met sommige van hulle en lag saam met sommige van hulle...
Oom Maritz veg nou kolon kanker, hy is moedig en posetief, Mevrou X veg vir haar huwelik - die ander vrou eis meer en meer tyd van Mnr X... Die Y gesin veg saam met hulle tienerdogter die verslawing monster... Die Z gesin gaan maklik en vol geluk deur die lewe, vir hulle maak die terugslae in die lewe niks sleg nie, want hulle is gelukkig en tevrede... Ou Dominee en Tannie Minnaar bly die ewige postoriepaar, ( ek is baie lief vir hierdie twee ou mensies) Tannie Minnie wat elke week eers wil weet hoe gaan dit met Willie, hoe maak sy suiker. By elkeen van my kliente het ek opnuut weer geleer dat elkeen van ons maar net mens is, dat niemand gevrywaar is van die seer in die lewe nie. Jou bankbalans, titel of woonbuurt maak nie van jou wie jy is nie...
Jy is presies net dit wat jy kies om te wees!
Ek kon nie verstaan hoekom die Here hierdie werk vir my gegee het nie, en hoe hard ek ookal probeer het om ander werk te kry, het die een deur na die ander net toegegaan, en intussen het elkeen van hierdie kliente werklik in waarde tot my lewe toegevoeg... my geseen met soveel gesenke - nie net materiele goed nie, maar sielsgoed... ek het besef dat ek nie geld nodig het om goed en eerlik te lewe nie... dat ek nie nodig het om lelik met ander mense te wees om goed oor myself te voel nie...

My kind was baie baie goed vir ons die afgelope twee jaar, familie, vriende en vreemdelinge het hulle harte oopgemaak teenoor ons. Ons het ook geleer om tevrede te wees met wat ons het, nie te bekommer oor die dag van more nie want ons dien n Groot God wat ons nie een dag alleen gelos het nie. Dat ons elkeen hier op aarde is met n doel, dat elke dag sy eie dinge bring, of dit goed of sleg is hang uitsluitlik van jou as persoon af...
Dat n oog vir n oog en tand vir n tand nie altyd die oplossing is nie, dat draai die ander wang werklik werk...
Dat om minder as die volgende persoon te he nie sleg is nie, dat jy dan net dit wat jy het meer wardeer. Dat daar maar in elkeen van ons lewens n traan is ... dat elkeen van ons kosbaar en spesiaal is, dat ons nooit ons eie waarde mag onderskat nie! Dat ons tyd hier op aarde kosbaar is...

Nou vir eers genoeg geklets... tot ek weer tyd het om hier te kuier - God Bless!

3 comments:

  1. Ek's bly jy is weer terug Nims. Ek geniet jou stories en lesse en leer baie by jou. Liefde!

    ReplyDelete
  2. Sandra, jy bly maar my "Liewe Jesus" maaitjie... lief jou baie.

    ReplyDelete
  3. Ek het nou lekker hier by jou gelees Nims. Stem nogal saam oor die tevrede wees met wat mens het...dit maak ons lewensreis net baie makliker. Liefde xx

    ReplyDelete