Sunday, February 10, 2008

Om kalm te word

Beland die oom se seun toe mos heel onverwags hierdie week in die hospitaal...

Bel hy my vroeg oggend; kom help my ek het n onbeskryflike pyn; en omdat ek die oom se seun so goed ken soos ek myself ken weet ek die oomblik toe ek sy stem hoor; hierdie pyn is erg...
...maar die vroegoggend verkeer na die oom se seun toe nog erger!

Einde ten laaste na n velle worsteling met die verkeer, stop ons voor die nonne hospitaal, en bewonder ek weereens die oom se bestuursvernuf! alhoewel ek nie altyd in normale omstandighede daarmee saamstem nie!

Binne in die hospitaal se ongevalle afdeling tref die manier van die personeel my...Hulle het n manier om ander rustig te maak, so n tipe van n kalmerende uitwerking op die bekommerde mense om hulle!
Alles gebeur vinnig...
Dokters ondersoek, binne aarse drup, x-straal plate, scan; en daar het hulle dit... n niersteen...
ek wil paniekerig raak maar die personeel bly kalm, rustig...

Vinnig word die oom se seun oorgeplaas na die Urologiese Hospitaal waar hulle glo goed weet wat om hierdie steen te doen...
daar gekom begin die papierwek; vorms by ontvangs; vorms by die spesialis; vorms in die saal; wonder ek so by myself...
waar beland al die papier?
Die oom se seun word rustig en gemaklik gemaak, die teater bespreek vir 18h00 die middag en ek bly steeds bekommerd;
vra die suster ewe kalm; Is dit jou enigste kind mevrou? toe ek bevestigend antwoord, se sy nog steeds kalm dat sy dit kan sien!
moet ek seker op hierdie punt net byse; die oom se seun is al 27jaar oud en het die kalm sustertjie seker gedink hy verdien nie n ma wat soos n broeis hen al om hom kloek nie, veral nie met soveel pyn in hom nie...

Ek moet teen 15h00 die oom se seun met n baie swaar hart daar by die kalm sustertje los om vir die oom n aandetetjie te gaan voorberei...
Tuisgekom skarrel ek gejaagd en onrustig rond, wil n duisend dinge gelyk doen en kom tot die besef dat;
In hierdie wereld vol stres, beproewings, pyn en onsekerheid, n kalm gemoed iets ongewoons is, en dat vrede werklik nie van omstandighede afhangklik is nie, dat dit eerder n gemoedstoestand is wat uit die hart moet kom!

Terug by die hospitaal is die oom se seun nog in die teater en die onrustigheid dreig weereens om my keel toe te druk, hoekom is hy al n uur in die teater?
Ek stap uit op die balkon en vra die Vader:
Help my asseblief om nie besorg en bang te wees nie.
Ek glo in U
Want U is my God
My bron van kalmte!

Terug uit die teater is die oom se seun vol pyn en ongemak en die personeel wat hom moet versorg steeds rustig en kalm...
Die ou Dokter besoek sy bed, rustig, onverstoord na n lang dag in die spreekkamer en daarna nog die teater, ek verstom my aan die amperse vonkel in sy oe na die lang dag wat agter hom le!
Rustig en glad nie haastig verduidelik hy aan die oom wat hy gedoen het en hoekom dit nodig is dat die oom se seun oor 2weke weer n opvolg operasie moet he...

Op pad huistoe laataand nadat die oom se seun rustig geraak het, le my trane vlak oor my kind se dag vol pyn...
Kalm kwoteer die oom vir my uit Johannes 14:27
'Vrede laat Ek julle na, My vrede gee Ek julle.Die vrede wat Ek julle gee, is nie die soort wat die wereld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie en julle moet nie Bang wees nie'...

No comments:

Post a Comment