Tuesday, August 12, 2008

Om heel te bly

In die lig van vroue dag wat ons so pas gevier het, en al die debatte wat in tydskrifte en op radio stasie oor hierdie onderwerp "vrouwees" gevoer is, lug ek graag my beskeie mening hieroor!

Lees ek in n gewilde tydskrif van n nuwe teorie waarom die mans die vrouens nog voor is op letterkundige, wetenskaplike, filosofiese en ander gebiede; Algemeen word aangeneem dat mans n meerdere intelligensie en aanleg het in bepaalde rigtings, byvoorbeeld die meganiese. Ek gaan nie waag om van die geleerdes te verskil nie! Wie wil nou met n kous oor die kop huis toe gestuur word? Statestieke bly statestieke!

Omdat ek self in die huisvrou katagorie val wil ek graag vandag by hierdie susters van my stilstaan...
Want sien ons huisvrouens moes nog altyd as groep die bewys lewer dat die vrou die eweknie van die man is...
Daar is een gebied waarop die huisvrou wel presteer, en dis op filosofiese gebied. Sy mag miskien nie nuwe beskouings en denkrigtings die wereld instuur nie, maar op praktiese vlak kan selfs meesterfilosowe vir haar terugstaan!

Breek kleinboet een van haar mooiste blompotte, moet sy na n paar trane ( en n oorveeg vir boet ) filosofeer: Dis wereldsgoed! Droom sy van n nuwe somersrokkie en sus se skoene gee skielik in, moet sy maar droom van n nuwe winterspakkie!

Ook op wetenskaplike terrein waag sy haar wanneer sy moet help om motortjies te herstel of vliegtuigies te bou... of die naaimasjien lol en die strykyster raak kapot. Om nie by te voeg dat sy nog verpleegster, ekonoom, beplanner, kok, tuinier, kleremaakster en algemene weerligafleier ook moet wees nie!
Dink net... as sy haar voltyds op een van bogenoemde gebiede kon toele, watter sukses kon sy nie behaal het nie! Aangesien sy egter so n veelsydige persoonlikheid het en uiteenlopende arbeid moet verrig; haar tyd so so versplinter word; sy n wandelende woordeboek en ensiklopedie moet wees, kan daar nie van haar verwag word dat sy die gelyke van die man kan wees nie waar hy al sy tyd, kragte, onverdeelde aandag en energie kan wy aan een groot taak!
Dit le in die vrou se aard om huis skoon te maak, kos te kook, al die toutjies te trek en trooswoorde en soene uit te deel waar nodig.
Dis net nie in n man se geaardheid om sy aandag so te verdeel nie!

Wil ons ruil met die mans? Moenie glo nie! Vergeet maar van daardie roman wat jy wil skrywe suster! Bly maar worstel met die probleem om heel te bly elke dag... en alles en almal om jou heel te hou!

No comments:

Post a Comment