Sunday, October 12, 2008

Rose


Op hierdie helder Oktoberdag het ek Rose in my huis...

Ons hetmos maar almal n gunsteling iets...

Van my kinderdae af was rose my gunsteling blom, seker maar omdat rose die heel eerste blomme was waarvan ek bewus geword het!


Die behoefte aan iets moois, glo ek, le diep in elke mens se lewe verborge. Daarom soek elkeen maar op sy eie manier na n brokkie skoonheid wat lig en warmte oor die vaal kolle in sy lewe kan versprei.

Daarom, na my mening, het die roos reg op bestaan!


Vandag is dit moeilik, dikwels onmoontlik om die beginsel van die skoonheid in die lewe raak te sien. Die beeld van die wereld waarmee ons saamleef, is grootliks uit geweld en vrees en aggressie opgebou. Maar dit beteken nie dat alles wat mooi is uit die lewe verdwyn het nie.


So word die rose van hierdie Oktober vir my n wonderlike troos. Ek kyk na hul sagte kleure, hul volmaaktheid van vorm en lyn. Hul geur is om my soos n belofte van iets goeds wat ek nie sal verloor nie...


More of oormore sal hierdie rose verwelk. My blombakke sal weer leeg staan en die geur van die rose sal uit die huis verdwyn...

Maar daar sal weer ander rose wees, net so mooi soos die. En hierdie wete is vandag vir my n groot vreugde...

Ten spyte van verdriet en haat en geweld ten spyte van alles wat skeef en vermink en lelik is - sal daar altyd weer rose wees...

1 comment:

  1. Rose is een van my gunsteling blomme ook en spesifiek vir hulle reuk. Dan natuurlik ook die kosmos in jou vorige skrywe. En lelies ... en eintlik alle blomme!

    ReplyDelete