Sunday, May 30, 2010

Beplanning vir die week...

Maandag: Here, Help my om vandag al my selfsugtigheid en eie wil weg te was, sodat ek U die res van my lewe met nederigheid kan dien.




Dinsdag: Here, stryk vandag al die plooie, wat deur die jare versamel het, uit my gees sodat ek net die mooi in ander sal sien.








Woensdag: O God, Help my dat ek sal regmaak waar ek ander te na gekom het.




Donderdag: Heer Jesus, help my om met die stoflap van U GENADE die klein sondetjies, wat in my hart skuil, weg te vee en skoon te maak.





Vrydag: O God, gee my asseblief die wysheid om die dinge te koop wat nodig is nie wat ek begeer nie, omdat ek weet Here, geen aardse skatte weeg op teen dit wat in die Hemel wag nie.





Saterdag: Help my, my Vader om die vrugte van die Gees: Liefde, Vriendelikheid, Hulpsaamheid, Sagmoedigheid,Getrouheid en Selfbeheersing aan my naaste voor te sit.






Sondag: O God, ek het my huis vir U voorberei. Kom woon asseblief daarin sodat ek die res van my lewe in U teenwoordigheid kan deurbring.

Saturday, May 29, 2010

Hoe Wonderlik...

...
Kan jy jou indink hoe wonderlik hierdie omhelsing gaan wees?

Friday, May 21, 2010

Littekens...


Die meeste van ons loop met die een of ander litteken rond... ekself loop met so n litteken waar n mes in my voet geval het toe ek klein was, gelukkig vir my is dit aan die binnekant van my voet en min mense weet daarvan... ander is nie so gelukkig nie en hulle littekens sit op plekke waar dit baie opvallend is en hulle gedurig vrae daaroor moet beantwoord...
So loop Willie met lelike littekens aan sy bene rond, tekens wat gewoonlik vrae uitlok en hy die storie van sy ontelbare beenoperasies as kind al verskeie kere moes vertel...

Ek het n goeie vriendin wat n merk aan haar gesig het en daagliks bestee sy tyd om hierdie teken toe te smeer met allerhande toor goedjies... ek het al gewoond geraak aan hierdie merk in haar gesig omdat ek haar al deur die jare verkeie kere moes help toesmeer aan hierdie litteken vir spesiale geleenthede - dus sien ek glad nie meer hierdie merk raak nie en het haar toesmeerdery my al per geleentheid effens geirreteer...
na een so n vererg sessie en omdat geen toormiddel haar daardie dag kon tevrede stel dat die merk nie sigbaar is nie het dit my getref hoeveel mense daar rondloop met littekens wat hulle probeer wegtoor...

Nie altyd uiterlike littekens nie - maar littekens diep binne in jouself, merke wat ons met allerlei toorgoedjies vir onsself probeer wegsteek...
Het jy al opgemerk hoe sommige mense - sonder enige rede net ongeskik, ongeduldig, luid, hard, wreed en somtyds skoon uitbundig en laf kan wees...
Dit het al met my gebeur dat mense se reaksies my skoon winduit laat, my vir dae laat tob en wonder hoe hulle so heftig kon reageer op iets (vir my) klein en onbenullig...
en dan besef ek maar net weer... maak nie saak hoe hard n mens n litteken probeer toesmeer nie - daar kom n tyd dat jy nie anderpad kan kyk nie - dat geen toormiddel - geen salfie - goed genoeg is nie... die merk is daar!

So het ek ook onlangs nodig gehad om van my eie littekens skoon te was... die toorgoedjies het vir my ook net nie meer gewerk nie...
ek moes hierdie littekens skoonwas... moes aan hulle voel ... met hulle praat... moes uiteindelik erken dat meeste van hulle tog nie so erg is soos wat ek hulle deur die jare vir myself wou maak nie... dat die meeste van hulle al so mooi genees het dat ek jare lank al verniet bly toesmeer...
Ek is opreg dankbaar vir elkeen van hierdie "binne" littekens van my, want dit het van my gemaak die mens wat ek vandag is - die vrou wat ek vandag is.
Dit het gemaak dat ek met Liefde en deernis, saggies aan ander se littekens kan raak...

Tuesday, May 18, 2010

Ek is so MOEG...

O, Here, ek is so moeg van mislukking, teleurstelling,pyn en skokke.
Ek is moeg gejaag, gepraat,gesukkel,gewanhoop.
Ek is moeg van weer begin, moeg van onsekerheid, moeg gesoek.

Gee my die moed om terug te kruip na U toe, om by die fontein van die Lewe te drink en om alles wat die daad agterna van my gaan verg, met n lied op my lippe te vat.

Amen

Thursday, May 13, 2010

Hemelvaart


Vandag is Hemelvaartdag...
Ek is dankbaar, Soos Hy opgevaar het, so gaan Hy weer verskyn op die wolke, nie gebroke of gekneus en verwerp nie, maar as die grootste OORWINNAAR OOIT!!

Saturday, May 1, 2010

Loop op die water...


Soms tref die TSUNAMIES van die lewe ons en ALLES spoel net eenvoudig weg...