Thursday, March 6, 2008

Sin vir Humor

Die lewe is nou eenmaal so dat n mens gedurig blootgestel word aan minderplesierige gebeurtlikhede, sommige van hierdie gebeurtlikhede het jy geen beheer oor nie, maar dit het n ongunstige neerslag op die res van jou lewe!
Tensy ons die nodige geesteskrag en vermoe het om die onberekenbaarheid van die lewe te oorkom, kan klein gebeurtenisse abnormale afmetings aanneem en kan ons in baie ongelukkige mense ontaard...

Gesels ek en tweelingsus baie en dikwels oor die diep en seer dinge van die lewe, en leer ek op hartseerdae baie by haar.
So glo ek al die jare dat tweelingsus die slae van die lewe baie beter as ek hanteer en daarom nie juis daardeur geraak word nie.
Maar nee, verduidelik sy aan my, die verskil le juis daarby dat sy geseen is met n humorsin en daarom kan sy lag al gaan dit soms met n traan gepaard!

Dadelik kom die vraag by my op-wat word alles onder die begrip; n sin vir humor ingesluit?
Vir tweelingsus persoonlik beteken n sin vir humor om te lag! en veral om vir jouself te kan lag; al huil dit binne in jou!
En dadelik besef ek dat hierdie vermoe wat sy besit om te kan lag en veral vir haarself te kan lag emosionele volwassenheid is.
En daarom het sy nog altyd hierdie lewensbeskouing wat op geluk afstuur!...

Soos dit
waar was vir Salomo dat n vrolike hart die aangesig bly maak, so is n vrolike hart seker nou nog vir elkeen van ons van die grootste belang.
n Glimlag is soos n druppel olie wat die ratte van die lewe vinniger en gladder laat draai...

Nog al die jare bewonder ek hierdie krag en vermoe van tweelingsus wat haar in staatstel om altyd op n behoudende en geslaagde manier te reageer op die wisselvalligheid van die lewe.
En gaan ek hierdie vermoe sonder twyfel nastreef en aankweek...
Sal seker nie n maklike taak wees nie.
Inteendeel...
As ek so om my rondkyk dan val dit my op dat emosionele volwassenheid eintlik n eienskap is wat maar baie selde voorkom...

En wonder ek;
Is dit maar die rede waarom so min mense kan lag?

No comments:

Post a Comment