Sunday, March 2, 2008

Oornag

Deur die jare het ek al so dikwels gehoor van mense wat 'oornag' trek, en kon ek nooit verstaan hoe op aarde hulle dit regkry nie.
Tot dit my en die oom hierdie afgelope week soos n weerligstraal getref het; ons moes trek en ons moes dadelik trek.

Kyk ek en die oom sukkel mos nou al die afgelope drie jaar met die buuroom se hoenderhaan, slaap geen nag na vieruur soggens nie want dan het die hoenderhaan klaar geslaap. En met die dat die buuroom, naas die hoenderhaan, nog sukkel met n seun wat verslaaf is aan verdowingsmiddels, en hellemal soos in totaal en al van sy kop af gaan wanneer hy die goedjies gerook, gesnuif, gespuit en gedrink het, het ek en die oom in die afgelope drie jaar verskeie kere gevra om na n ander huis verskuif te word. Elke keer sonder sukses.

Staan die oom weer een Maandagmore moeg op want die buuroom se seun het tot drie uur die Sondagnag gevloek en geskree en toe die seun tot ruste kom het die hoenderhaan ontwaak. Besluit die oom net daar-GENOEG IS GENOEG!
Dieselfde Maandag sit die oom n oorplasing in Heidelberg toe.

Heidelberg stel dadelik vreeslik belang in die oom en word hy genooi om n vakmanstoets te gaan afle in Heidelberg. Want sien op Heidelberg word net hoogs gespesialiseerde werk gedoen, bedoelende nou die manne wat daar werk is meesters op die gebied.
Toe die oom se seun nou hoor van die toets, se hy so ewe droog aan my; begin solank pak;
want jy weet my pappie is die beste in die weste!
Slaag die oom die ou toetsie met sulke skokkende uitslae dat die Ingeneur op Heidelberg dieselfde dag nog n vervoerwa saam met die oom wil stuur om die oom sy vrou en die hond te trek!

Donderdag begin die besigheid roer van Heidelberg se kant af en skrik die oom se Padsup haar skoon groen toe sy besef die oom is oppad Heidelberg toe!
Sy begin net daar haar eie planne te maak.
Roep sy my die volgende Maandag na haar kantoor toe en vra baie mooi: 'help my asseblief ek kan nie bekostig om jou man te verloor nie!
Gee sy opslag vir die oom die beste beskikbare huis in die kamp en reel n span van sewe mense om die oom die volgende dag te help trek.
En vra sy die oom moet soos in dadelik trek want sien dis toe die enigste manier wat sy die Heidelberg storie kon keer en sy was desperaat om dit te keer!

So pak ek en die oom daardie nag tot halfeen om die volgende dag te kan trek. Elke hol dingetjie word gebruik om in te pak.
Kom help die oom se seun die Dinsdag ronddra en aflaai, dit vier dae nadat hy twee keer binne veertien dae narkose gehad het.
Kyk ek die oom se seun so tussen die gewoel deur en my hart wil bars van trots en terselfde tyd pyn dit binne in my; want hierdie reus van by die twee meter wat n dubbelbed bassis vat en uitdra by homself, is my seuntjie... wat n man geword het!
Se ek daardie dag vir die soveelste keer vir die Vader dankie vir n kind soos hy.

Kyk so n deurmekaar trek wil ek tog groot asseblief nooit weer in my lewe he nie.
Want was die ongeorganiseerde besigheid nou ook nie sonder skade en verliese nie.
Dokter ek nou al n week lank aan al die oom se seer en kneusplekke. en dokter die oom weer op sy beurt my seer voete en spiere.

En so bly ek en die oom nou in ons nuwe huis sonder n hoenderhaan.
En loop die oom se padsup met n bree glimlag rond!

No comments:

Post a Comment