Thursday, March 13, 2008

Muggies of Kamele

Hoekom mense my uitsonder vir hierdie tipe van gesprekke kon ek nog nooit verklaar nie!
Maar klokslag gebeur dit met my...
Maak nie saak waar ek my bevind nie , dit gebeur.
Tot voor die operasie teater deure waar ek vir die oom se seun wag, bespring n vrou my met haar huweliksprobleme, ken haar van geen kant nie.
Ek troos maar, want wat is seerder as n ontroue lewensmaat...

Word ek uitgenooi na n 50ste verjaarsdagtee, waar die verjaarsdag meisie haar gaste moet oortuig dat sy wel 50 word en nie 30 nie, beland ek weer in die middel van so n gesprek of laat ek dit liewer"geveg" noem!
n Ou kerkdame (70jr+) en n jonger vrou wat haarself dadelik bekendstel as Mevrou Dominee X raak in n amper bloedige geveg betrokke oor...
HOMOSEKSUALITEIT!...

Kort voor lank loop die gemoedere hoog op die partytjie.
Die klompie gaste by die geleentheid dink almal anders oor die kwessie...
Een tannie probeer die gemoedere kalmeer met:
Homos gaan reguit hel toe die Bybel is tog mos duidelik daaroor!
teen die tyd is die debat al in drie gedeel...

Groep twee voel:
Ons het almal gesondig en is slegs deur die genade van die Here gered!
Hulle is wel oortuig dat die Bybel dit as sonde brandmerk maar is effe versigtig om sommer te verdoem!

Groep drie is nie so seker dat die Bybeltekse wat oor homoseksualiteit handel, werklik bedoel is om getroue liefdesverhoudings tussen mense van dieselfde geslag te veroordeel nie.
Die verjaardag meisie se ouma se ewe kalm:
Ag shame die ou goedjies is dan so gebore...
Dadelik reageer Mevrou Dominee heftig met:
Nee tannie dit is aangeleerde gedrag en alles wat aangeleer is kan weer afgeleer word...

Dit is op hierdie punt dat Mevrou Dominee die fout van haar lewe maak; deur my direk aan te spreek en my mening te vra, want tot op hierdie punt het ek nie deelgeneem aan hierdie geveg nie!

Antwoord ek haar so:
Mevrou, hierdie is beslis nie n debat wat ons kan voer sonder om ons woorde te tel nie!
Want as ons oor hierdie saak praat, praat ons bloot net oor ander mense, of praat ons oor medegelowiges en hulle kinders?
Praat ons dalk oor die seerkry van broers en susters?
Het hulle nie die reg om op ons barmhartigheid aanspraak te maak nie?

Vir Christus was barmhartigheid teenoor hulle op wie die Fariseers van die samelewing neergesien het, ONONDERHANDELBAAR!
Hierdie Fariseers met hulle selfvertroue oor wat die wet vereis, het Hy in Matt 23:23 kortgevat:

Julle het Hy gese:
Is soos mense wat n doek oor die wynbeker span om die wyn daardeur te syg sodat julle nie per ongeluk n onrein muggie insluk nie.
Maar intussen kom julle nie eens agter dat daar al klaar n hele kameel in die beker is nie.
en dit sluk julle sonder om n oog te knip, heel af!

Mevrou sien, die gevaar is wesenlik dat ons as gelowiges in openbare en persoonlike gesprekke so besig gaan wees om te sif aan die muggies dat ons nie gaan agterkom dat ons die kameel van onbarmhartigheid heelhuids afsluk nie!!

Dadelik stel mevrou Dominee voor dat ek dringend en ernstig met Dominee oor hierdie onderwerp moet gesels, want na haar mening is Gay- wees beslis nie n muggie nie!
Stel ek voor dat Dominee dringend met my n afspraak maak want na my mening is onbarmhartigheid beslis ook nie n muggie nie!

En hierby volstaan ek todat ek klaar met Dominee gesels het...

1 comment:

  1. Die een wat nie sonde het, gooi die eerste klip.
    Dit is sekerlik 'n sonde en so ook is baie ander dinge wat ander mense doen, dus kan ons maar net staat maak op vergifnis en genade.
    Moet ons alle sondaars as melaats behandel? Nee, want Jesus het juis vir die sondaars gekom en dit is ons almal.

    ReplyDelete