Tuesday, December 23, 2008

Kersboodskap 2008

Die jaar 2008 eindig op n interessante en uitdagende noot. Wereldwyd steier ekonomiee, en word woorde soos resessie en depressie reeds (versigtig) gebruik.

Voedselpryse het ongekende hoogtes ingeskiet en Jan en alleman sukkel om te midde van hoe inflasie, rentekoerse, heffings en brandstofpryse kop bo water te hou.
Dit is egter veral verwikkelinge op politieke gebied wat die vloeibaarheid van ons situasie onderstreep.
Ons staatspresident is oornag vervang en nuwe rolspslers het portefeuljes oorgeneem. Die party wat nou regeer tot en met die wederkoms van Jesus Christus (volgens hul eie uitspraak) steier tans onder die aanslag van nuwe politieke bewegings.

Maatskaplike probleme soos misdaad en geweld, armoede en werkloosheid, behuisingsprobleme en omgewingskwessies, Vigs geletterdheid ens, is steeds met ons. Volgens n onlangse berig in die Beeld is die lewensverwagting van S A mans skaars 47 met vroue effe gesonder.
Ons geletterdheidspeil is selfs laer as die van Zimbabwe.

Zenofobiese aanvalle verraai mense se onsekerheid en navorsing nav onnatuurlike sterftes in Suid Afrika wys op die onsekerheid, vrees en aggressie onder ons mense.

Aan die ander kant is daar tekens van n geestelike ontwaking
Verskeie stadionbyeenkomste laat gesoute teoloe en predikers vra wat n "gewone" boer se geheim is dat tienduisende mense saamtrek om God te aanbid.
Duisende manne daag op vir n saamtrek op Greytown terwyl nagenoeg 200 000 mans by volgende jaar se Mighty Men Conference verwag word.
Woorde soos herlewing word kwitsig gebruik en sommige gelowiges glo dat die wederkoms voor die deur is...

Oor twee dae is dit kersfees, eerder Christusfees.
Ons word opnuut bewus van God wat Sy hemelse woning verlaat om met ons in ons nood te identifiseer.
Ons leer Hom ken wat die belange van die wat swaarkry in besonder op die hart dra. Ons hoor Sy roepstem dat ons in en deur die Krag van sy Gees Koningkryksverteenwoordigers sal wees. Soos Sy Vader Hom gestuur het en Hy gehoorsaam was word ons geroep om eweneens te gaan en te vertel, te versorg en te genees.
Die swier en uitspattigheid wat menige kersjoligheid kenmerk is ver verwyderd van die eenvoud van n onwelriekende stal.
Hy kon gekies het om in goudgedrapeerde linne in n paleis sy verkyning te maak. Hy het egter nie.
Hy het in ons eenvoud kom indaal en ons kom uitnooi om Hom te volg.
Mag ons hierdie kerstyd met al sy uitdaginge die ware kersstemming uitdra.

Aan al ons vriende, familie en blogvriende:
n Geseende Christusfees.

2 comments:

  1. Dankie Nimsie, hoop julle het ook 'n lekker kerstyd gehad.

    Voorspoed vir 2009 vir jou en al jou geliefdes. Mag die geluk jou verveel en liefde volop wees!!!

    ReplyDelete