Tuesday, June 30, 2009

Kalmte


God, skenk my die kalmte om die dinge te aanvaar wat ek nie kan verander nie,
die moed om die dinge te verander wat ek kan en die wysheid om te weet wat die verskil is.


Hemelse Vader,
Ek bid in hierdie oggend dat U vir my die kalmte sal skenk om die dinge te aanvaar wat ek nie kan verander nie, die moed om die dinge te verander wat ek wel kan en die wysheid om die verskil tussen die twee te ken.
Maak asseblief die innerlike onrus wat so deel van my geword het stil en vervang dit met U vrede en kalmte.
Amen.

Monday, June 29, 2009

IS JY...

Borrelend gelukkig?
Babeldadig?
Keelvol?
Alewig bekommerd?Soms baie energiek?Die onskuld vanself?

Jammer vir jouself?Moeg en uitgeput?
Huilerig?
Totaal depresief?
Skuins BETJOINGS?
MOOI!
Dan is jy n vrou en heel NORMAAL!!!

GENIET JOU MAANDAG!

Thursday, June 25, 2009

Twee dinge... Nee - Drie


"Twee dinge moet n mens klein aanleer om bedrewe te wees daarin" het n ou buuroom eenkeer met n vonkel in die oog gese: "En dit is dans en Engels praat"

En daarby wil ek voeg: n liefde vir lees...
Want van een ding is ek oortuig; as jy nie jonk leer lees nie, leer jy nie maklik later nie.
Eintlik moet n mens boeke leer liefkry nog voordat jy self kan lees.
In n tyd van oorwerkte mense is daar meermale nie meer tyd oor om te lees nie.
En dan het die televisie ook natuurlik sy kwota in n tydskaars lewe kom opeis, en mag daar nog minder leestyd, droomtyd, dinktyd en speeltyd wees...
Boeke is nie brekgoed nie, dis instrumente om jou gees en wereld te verruim, jou vlerke te gee sodat jy hoog, hoog bokant verontregting en vooroordeel kan uitstyg.
Die leesgewoonte kan ook dien as ontspanning, die opbou van nuwe kennis, die verbreding van lewensuitkyk en insig...
Tussen al my boekvriende, troon ook die Boek wat n lewenslange vriend is, wat ek elke dag opsoek, die onfeilbaarste raadgewer te alle tye...

Tuesday, June 23, 2009

Sagmoedig maar streng

Ek en Linda is al 28jaar vriendinne, mekaar ontmoet in Evander Hospitaal se kraam afdeling. Ek daar met Marius se geboorte, sy daar met haar derde baba.
Linda is n onderwyseres en gee klas aan spesiale kinders.
Linda was verlede maand in London om te gaan kennis maak met haar eerste kleinkind, n pragtige dogtertjie.
In haar e-pos terug vertel sy my hierdie pragtige verhaal, en met haar toestemming deel ek dit met julle...

Die sewejarige Freddie het sy onderste lip laat dik word. Hy was nie lus om aan te hou om die nuwe wiskundeprobleme te probeer oplos nie. Sy onderwyser Linda het hom weer sagkens, maar beslis deur die stappe gevat. Na baie dae se gesukkel het die twee sukses bereik.
Freddie was hardkoppig, met n sterk wil van sy eie. As mens hom op die verkeerde manier benader, het hy toegeslaan, en niemand het dan gewen nie. Dit het baie geduld geverg om Freddie te onderrig; hy het n aandagtekortsindroom gehad.
Linda het nie sy gees gebreek nie, maar het eerder sagkens die deure van kennis vir hom oopgesluit en hom ingelei.
Freddie het dit baie waardeer. Hy het geleer om haar leiding te volg uit liefde, respek en vertroue.

Verlede maand het n man van byna twee meter homself in n pub in London aan haar voorgestel.
"Juffrou Linda? Ek is Freddie" het hy met n bree glimlag gese. "Ek was in jou klas toe ek sewe jaar oud was. Onthou jy my?"
Linda het deur die jare gereeld aan Freddie gedink. Sy het hom baie goed onthou en was meer as net n bietjie bly om hom te sien.
Freddie (deesdae bekend as "Fred") het sy skoolopleiding voltooi, verdere opleiding ontvang en het n goeie werk in London bekom. Hy het vir Linda gese hy was trots op wat hy bereik het. Hy het ook gese dat hy haar nooit vergeet het nie; en dankie vir al haar liefde en geduld met hom.
Linda is lief vir die Here en bid gereeld vir haar studente. Baie keer help God kinders op n streng, maar sagte manier deur haar onderwys. Linda se elke keer as sy aan Fred dink, kry sy n warm gevoel in haar hart...

Nadat ek hierdie e-pos van Linda ontvang het, het ek al dikwels gewonder hoe Fred se lewe sou uitgedraai het as dit nie vir Linda was nie. Miskien sou God n ander "Linda" oor sy pad gestuur het...

Monday, June 22, 2009

My bondeltjie Liefde

Kyk net hoe groot het ek geword Tannie Charmaine en Tannie Sandra.
My mense mamma se heeldag ek is die liefste dingetjie wat lewe, en sy soen my seker seshonderd keer op n dag!
Ek bly baie lekker hier in Krugersdorp.
My twee seuntjie maaitjies het al vir my n klomp speelgoed gebring en my dogtertjie maaitjie stoot my graag in haar pop se stootkarretjie...
Ek sal gereeld van my laat hoor, maar intussen moet julle almal maar lekker lees hier by my mense mamma se plekkie.

Thursday, June 18, 2009

WENRESEP

Spreuke 3:6

"Ken Hom in al jou wee en Hy sal jou paaie gelyk maak".

Tuesday, June 16, 2009

Piet se verhaal

Hy is hoog op in die polisie. n Generaal of iets. Kom ons se sy naam is Piet, en hy soek iets in die lewe om aan vas te hou.
Sy seuns is weg uit die huis uit, elkeen in sy eie rigting, pynlik anders as wat hy as pa dit sou wou.
Sy vrou is dapper en daar, maar sieklik. En werk het lankal vir n wit man opgehou om n plesier tewees, dink hy.
Watter sin het sy lewe? vra hy vir sy dokter vir wie hy oor sy maagkrampe en hoofpyne gaan spreek.
Toe Piet met verlof is, kry hy een oggend sy hondjie dood in sy mandjie. Dis n verlies erger as wat Piet kan dra. Dae lank sit Piet net in sy stoel, sy nat gesig in sy groot hande.
Net voor sy verlof om is, stap Piet die oggend na waar sy hondjie altyd onder die boom gele het. Voor hom spring n paddatjie. Hy merk dat die padda se een been af is. Voor hy mooi weet hoekom hy dit doen, vang Piet die paddatjie en sit dit in n hok.
Dan bel hy rond om uit te vind wat paddas eet. Todat hy n vlieg gevang kry, gee hy die paddatjie solank brood en water.
Sy vrou stel belang en sny stukkies maalvleis op. Hy koop viskos, so asof dit n goudvissie is. Hy sit n groot klip in die paddahok. Hy maak seker daar is nat en droog vir die padda om in te lewe.
Die paddatjie word beter. En Piet word heler.

En dit is dan ook wat Piet doen noudat hy vroeg afgetree het...
Hy gee praaitjies oor hoe die versorging van diere mense weer gesond kan maak. Veral mense vir wie die lewe sinloos lyk.
Hy vertel watter goeie geselskap diere vir senior mense kan wees. Hy hou selfs diere aan wat hy tydelik of permanent aan mense gee wat die diere goed sal versorg, en wat dan op die manier self emosioneel goed versorg word...

Friday, June 12, 2009

Poedingapostel


n Poedingapostel is n aanhanger van die poeding! Vir hom is n maaltyd n wenteltrap van gewone ou eet na n toring van voleindiging - die poeding.
Vir n poedingapostel is poeding eintlik onvervreembaar deel van sy lewensbeskouing.
In ons huis is Willie die hoepriester van alle poedingapostels! Vir Willie is niks so lekker soos n lekker poeding nie.
Maar - dan moet dit n poeding wees, nie sommer n nagereg nie.
Hy het sterk opvattings oor wat poeding is en wat nie...
Vrugte is nie poeding nie, of dit nou vars vrugte, vrugteslaai, gestoofde vrugte of ingelegde vrugte is - vrugte is vrugte!
Roomys is ook nie poeding nie!
En die mens wat meen dat jellie poeding is - hoort in die hospitaal.
Nee, in Willie se oe is n poeding n gereg van soliede omvang en durabele kwaliteit wat n maaltyd met waardigheid en finaliteit afsluit.
Hy hou van... melkpoedings, gebakte poedings, gestoomde poedings.
Hy hou van... pannekoek, poffertjies en terte.
Hy hou van... vla vat met eiers gemaak is, van kaneelsous, wynsous, roomsous...
Bo alles hou hy van twee poedings liewer as een!

Simson moes darem maar lief gewees het vir soetigheid. Kyk hoe het hy hom verlustig in die heuning wat hy uit die dooie leeu uitgehaal het.
So n nagloed het hierdie heuning by hom gewek dat hy glad n raaisel daaroor uitgedink het om aan die dertig twyfelagtige vriende te stel wat die huweliksmaal vir die vrou uit Timna kom bywoon het.
Die heuning het duidelik so n indruk op hom gemaak dat hy selfs op daardie uithangerige huweliksmaal nog daaraan gedink het...
En dis daardie Simsoniese heuninghonger, waaraan n mens n poedingapostel kan uitken!

Wednesday, June 3, 2009

Ek vat n breuk....

Ek het so effens agter geraak met die dinge in my lewe wat regtig saakmaak, en daarom neem ek nou n tydjie af van die blog...

Dit is wanneer ons onsself vergeet dat ons dinge doen waarvoor ons onthou word!

Tot ons weer hier gesels: God bless!