Saturday, July 24, 2010

Jy kan as jy wil!


Hy is een van die ouer garde. Trek al n paar jaar in die sewentig. Een van daardie mense wat op n onderhoudende manier stories vertel " uit die ou dae" , sy verteltrant so boeiend dat jy vir ure kan sit en luister as hy op dreef is. n Man met n baie besondere sin vir humor wat tussen sy vriende bekend is daarvoor dat hy n staaltjie kan vertel soos min ander. Maar n man wat ook die ander kant van die lewe ken. Iemand wat weet waarom dit werklik gaan. n Man van integriteit, van durf en daad, van vasbyt en koershou en klaarmaak.

Hy't grootgeword in die jare van die groot droogte van 1933 en depressie wat daarop gevolg het. Sy pa was n boer wat bitter swaar gekry het om te voorsien in sy gesin se behoeftes.
Hy skuif so n bietjie vorentoe in sy stoel en kyk my waterpas in die oe, hierdie verfynde man wat dit ver gebring het in die lewe omdat hy die wil gehad het om te wen!... hierdie man wat geweier het om iewers in n obskure hoekie van die lewe te bly sit. " jy kan van my vertel daar op jou "blokkie" se hy toe ek hom daarna vra, maar jy mag nie my naam noem nie hoor - wat is ek dan nou anders as ander mense? ek het mos niks besonders gedoen nie".
Maar terwyl hy gesels, ontvou daar n verhaal van een van die merkwaardigste mense wat ek ooit in die lewe leer ken het. dis die verhaal van n hegte boeregesin in daardie swaarkry jare. Van n moeder wat haarself soggens afgesonder het om hardop tot die Here te bid vir hulp en leiding en krag vir die eise van elke dag. Van n Vader wat alles veil gehad het vir sy gesin en gedoen het wat hy menslik moontlik kon om die mas te probeer opkom. Ons het swaargekry... ons het twee pragtige karperde gehad, en my pa was so lief vir sy diere. Maar eendag het hy, sonder om iets te se, net dorp toe gery met die kar en perde en sonder hulle teruggekom op die plaas, want ons moes geld he om van te lewe.
Ek luister met aandag en soveel deernis na hierdie lewensverhaal. Dit gryp my aan die hart, veral omdat daar geen selfbejammering in die vertelling daarvan te bespeur is nie. Inteendeel... veel van die verhaal van swaarkry is derspek met dieselfde humor waarvan ek reeds vertel het: die lekkerkry en vreugde van broers en susters wat grootgeword het in n huis waar hulle van jongs af die regte lewenswaardes geleer is.

Hy't na matriek gaan werk by n fabriek en n fiets op skuld gekoop. "My salaris was twaalf pond n maand en die fiets het ek oor n tydperk van n jaar afbetaal teen n pond per maand". Hy't skofte gewerk en het redelik ver van sy werksplek loseer. Hy was nog maar jonk en die skofure het geen genade geken nie. In die felle son, in die middernag, deur wind en weer, gesond of olik - moes hy sy fiets trap. Stukke van die pad was opdraand. ek moes maar hard trap om bo uit te kom, veral as die wind van voor was. Dit was maar vermoeiend. Maar dit was goed vir my, jy moet verstaan dat ek nie kla nie hoor, dit was goed vir my!
Sy oom wat op Vereeniging woon, het hom laat weet dat hy n beter werk daar kon kry. Hy het dus sy werk bedank en met sy karige besittings en sy fiets tydelik intrek geneem by die oom en tante van hom. Toe hy die eerste dag by die "nuwe beter werk" aankom, was daar n misverstand en die persoon wat hom sy werk moes aanwys, gee hom n taak as slyper. Hy moes vir twee maande slypwerk doen! Op n dag is die ongelooflike misverstand uit die weg geruim en het hy n klerklike pos by een van die groot fabrieke in Vereeniging gekry. Daar het hy gewerk vir drie jaar. Todat hy geweet het, helder en seker geweet het: hier wil ek nie bly nie. Hier gaan ek nie my lewe slyt nie. "In my hart was n droom. Ek wou n dokter word" Saam met my het n Engelsman gewerk. Sy naam was Robbie McIntosh. Op n dag loop ek na hom: Robbie, can you lend me fifty pounds, please? I want to go and study medicine. I want to become a doctor...
Met daardie vyftig pond is hy na die universiteit om hom te gaan inskryf en met behulp van verdere lenings kon hy sy studies as geneesheer voltooi. Na sowat nege jaar in n praktyk het hy weer gaan studeer en gespesialiseer.
Hy't die hoogste sport in die lewe bereik, hierdie man wat hard moes trap om bo uit te kom, hierdie man wat die wind van voor gehad het. Hy't bo uitgekom omdat hy die wil gehad het om bo uit te kom... Van hom sou ek in die woorde van n bekende digter wou se: "Stil broers, daar gaan n man verby, bekyk hom goed, daar is maar net een soos hy!"
En watter boodskap van oom kan ek vir die mense wat my blog lees opsit vra ek hom.
Se vir hulle: n mens kan as jy wil. Dis die hele geheim. Jy moet wil om te wen in die lewe. En hiermee dra ek sy boodskap aan jou oor. Handel daarvolgens. Dis louter wins!

5 comments:

  1. Hi Mimsi, wat 'n wonderlikke voorbeeld is die Oom nou vir ons almal. Dankie vir die deel. Lekker naweek vir jou groete Rina

    ReplyDelete
  2. Hi Rina, altyd lekker as jy kom inloer vriendin. Hierdie oom het in n kort tydjie sommer baie baie diep in my hart gekruip, een van my kliente se oupa - sy pas hom op - of nee, hy woon by hulle.

    ReplyDelete
  3. Ai is dit nou nie mooi nie....wat 'n wonderlikde insperasie veral vir my vandag wat so bietjie afgehaal voel... waar daar 'n wil is, is daar 'n weg. Dankie Nimsi nou kan ek my dag weer ten volle aanpak met die mooi boodskap in my gedagtes.

    ReplyDelete
  4. Spesiale storie Nims dankie vir die vertel daarvan. Liefde

    ReplyDelete