Friday, December 28, 2007

My kind

Nooit sal ek die dag vergeet, lank gelede, toe ek jou die eerste keer in my arms gehou het nie.
Ek het onmiddelik met jou gebind:
Jy was myne, vir ewig en altyd myne!

Jou afhangklikheid en hulpeloosheid het my hart week gemaak, en ek het hierdie allesoorheersende drang gekry om jou te beskerm!
Ek wou keer dat jy nie verstik, versmoor, of verhonger nie.
Jou behoud was geheel en al in my hande!

Terwyl ek besig was om jou pasgebore lyfie in n nuwe babygro toe te wikkel, het n liefde
soos wat ek nog nooit ervaar het nie oor my gespoel en ek het besef dit is wat hulle MOEDERLIEFDE noem....

Onthou jy nog hoe ons stories gelees het toe jy klein was?
Hoe ons saam biblioteek toe gegaan het, en wanneer ons tuiskom, styf teen mekaar op die rusbank stelling ingeneem en gelees het?
Jy was so lief vir biblioteekdae!

Jy was nog bitter klein toe ons twee se pad stamperig begin raak het:
Ek het begin veg teen die spook van n mislukte huwelik; veg, veg, veg!

Intussen het jy begin skoolgaan, goed presteer, selfs uitgeblink op sommige gebiede!
Skaak gespeel en aan kunswedstryde deelgeneem!

Ek het my geveg teen die mislukte huwelik spook verloor en n nuwe spook het ons lewens binnegekom, die spook van egskeiding!
En daardie spook my kind het groot stukke van ons twee se stralekrans stukkend geslaan...
Weke lank, maande lank, jare lank, het ek net na die egskeiding spook gestaar!
Ek het nagmerries gehad oor die spook
Gehuil oor die spook,
Baklei teen die spook,
Verwyt oor die spook,
Gebid oor die spook,

Die spook het baie name gehad;
Huishuur betaal,
Kos koop,
Klere koop,
Skoolgeld betaal,
Kampgeld betaal,
Baklei, smeek soebat vir onderhoudgeld!

Heeltyd staar ek na die spook, keer ek vir die spook, todat ek jou my kind nie meer raakgesien het nie!

Het jy na my gesoek, my kind, lank gelede toe die spook ons huis beset het, al die weke maande jare toe jou mamma by jou verby gekyk het, dwarsdeur jou gekyk het, en slegs met die spook doenig was?

Het jy na my gesoek my kind, toe jy in jou eie donker rondgetas het, toe jy kalmte en begrip nodig gehad het?
Hoe bang moes jy nie gewees het nie!

My kind voor dit te laat is moet jy weet; ek huil altyd wanneer een of ander begaafde kind, die Antjie Krog se ma gedig voordra:

Ek huil nie uit selfgenoegsaamheid nie,
Ek huil nie omdat iemand ingesien het hoe ondankbaar n ma se lot is nie,
Ek sluk die pyn weg omdat ek weet en besef dat ek die enigste mamma is wat jy ooit sal he!
Ek huil omdat ek nie vir jou die mamma was wat jy verdien het om te he nie!
Ek huil omdat jy jou nie op my wysheid, kalmte, vergiffenis of genade kon beroep nie;
want ek was te besig om na die spoke te kyk.

Ek skryf vir jou kind, omdat ek jou nou sien soos wat jy is, n stukkie van myself, die draer van my gene, en van my tekortkominge.
N unieke wese, los van my, vry en selfstandig...
maar deur my gekneus en verflenter!

Hierdie is sommer n laatmiddag gesprek my kind,
van n jammer se ma,
wat jou wil verseker dat geen spook ooit weer tussen ons sal kom nie!

Liefde Mamma

No comments:

Post a Comment