Friday, December 14, 2007

vrouwees

Vir die afgelope 3jaar kraai die buuroom se hoenderhaan my elke oggend 4uur wakker, en ek bedoel elke oggend.... 4uur!!!

En so gebeur dit toe dat ek n winter en somer hoekie het vir 4uur in die oggend.
In my winterhoekie is n lekker gemakstoel, gehekelde kombersie, verwarmer, en n stapeltjie boeke en tydskrifte......

My somerhoekie is die boonste trappie by my agterdeur. In my somerhoekie word daar met n sterk koppie swart en bitter koffie baie gedink en oor baie dinge gepeins......
en so bedink ek al n geruime tyd die wonder van vrouwees......
Deur die loop van my lewe het my pad al met baie soorte vroue gekruis en het ek tot die slotsom gekom dat alle vroue uiteraard geskape is om te wil dien............

So deurmekaar soos my gedagtes half vyf soggens op my stoeptrappie is, so deurmekaar gaan hierdie skrywe seker wees, maar glo ek elke vrou wat hier lees sal weet dit is waaroor vrouwees gaan.!

My dagtaak is maar die doodgewone huiswerk, en wil dit my voorkom of alles waarmee ek in my lewe te doen het, n magnetiese veld vir stof en vullis is, en in my opinie bly die vrou maar die aankantmaker van die wereld.

In elke huishouding is daar iemand wat soggens opstaan en die huishouding aan die gang kry en gewoonlik is dit maar die vrou.....
En dit kan maar n eensame taak wees om op te staan terwyl almal nog warm slaap, n vrou se werk is trouens een groot eensaamheid.............

Watter vrou ken nie die volgende nie:
n Inkomstebelastingsertifikaat word vermis.....
Boeta se skoolboek vroeg in die more.....
Die telefoonrekening, die biblioteekboek.
Die hele huis word omgekeer, is dit moontlik dat iets so kan wegraak?
En op die ou end voel ma verantwoordelik,
wanneer die ding eindelik uitkom, is dit dalk nie meer so nodig nie maar ma se beeld is in elk geval geskaad, haar huishouding is deurmekaar......


Nou is dit die tyd van die more dat die res van die huis moet koffie kry en ek maak die ketel vol water.....
Ek besef die klassieke beeld van die vrou met die waterkruik is nog lank nie uitgedien nie.!
Die vrou se roetine in die huis is ewig verweef met water, so veel so dat sy self verlore is sonder
die spoeg waarmee sy seerplekke dokter en reddingswerk aan vuil gesiggies doen. Vat nou maar die Samaritaanse vrou wat oor die jare heen vir SES MANS moes water aandra van die fontein af!

So sit ek nou een oggend, koffie en al op die trap, skuins voor vyf, en hoor ek die allervreeslikste rusie oorkant die pad plaasvind. Vrou se bussie tel haar so net na vyf soggens op om haar Johannesburg toe te neem vir haar dagtaak.....
Besef ek weer dat verbale aanranding sekerlik een van Die ergste aanrandings ooit is.......
Maar daaroor gesels ek n volgende keer........
Vrou kom uit om vir haar bussie te wag op die sypaadjie, en ons oe ontmoet.....
Ek sien op haar gesig sy verstaan die boodskap wat my oe aan haar stuur..........
Ek voel jou pyn ook in my hart!
En wens ek inniglik dat sy tyd gehad het sodat ek vir haar n stukkie Esther kon lees............

My lewe lank vandat ek die verhaal van Esther in die Bybel kon verstaan, wou ek so bitter graag soos sy wees......
Die mooie Esther, Bybelse Aspoesterjie, het meer wysheid in haar pinkie gehad as baie vroue in hulle hele lyf......
Toe sy voor n vuurproef te staan gekom het, het sy instinktief hierdie beleid beoefen:
Loop tot waar jy kan sien, en as jy daar kom, sal jy verder kan sien............

Ek is nog lank nie klaar gedink oor vrouwees nie, maar tot ons weer daaroor gesels los ek julle met die volgende gedagte:

As ek n leuse vir vrouwees kon maak, sou dit so gelees het:
BID EN WERK

Tot n volgende keer.

No comments:

Post a Comment