Sunday, December 30, 2007

OUJAAR

Loop ek en Stoffel (my ou getroue chowhond) met sonsopkoms vanmore brom brom deur die agtertuin,
want ek en die buuroom se haan is weer haaks vanmore!
toe n vaal voelveer uit die doringboom deur die stil somerlug grond toe dryf.
Op die gras le n verwaaide vinknes, die eiertjies stukkend, verlore tussen die doringtakkies,
en ek besef met n skok dat die dae van nog n jaar besig is om uiteen te spat.

Iewers bokant my koer twee duiwe rustig voort.
Daar was nog altyd vir my iets skrikwekkends in n duif se onversteurbaarheid...

Ek staan met die stukke van die verflenterde nes in my hande en dink net soos die nes is die dae van die jaar uiteen geruk deur tyd,
en al wat oorbly is n sagte veer van herinneringe hier en daar...

Ek stap verder onder die doringbome en droom...
oor die boeke wat ek graag in die nuwe jaar wil lees,
die musiek wat ek graag wil luister,
die mens wat ek graag wil wees...

In die nuwe jaar wil ek graag...

meer doen as omgee, ek wil help.
meer doen as vergewe, ek wil vergeet.
meer doen as gee, ek wil dien.
meer wees as net vriendelik, ek wil n vriend wees...

No comments:

Post a Comment