Sunday, November 9, 2008

Die Duif

Sit ek vroegmore met sonsopkoms op ons balkonnetjie (piepklein maar darem) en uitstaar oor die ander mense se agter plase. Ek kyk nie na iets in die besonder nie, meer na die prentjies wat my geheue optower.

Skielik merk ek tog iets wat my aandag trek. Op die telefoondraad wat oor een van die huise se grens loop, sit daar n duif met n takkie in sy bek...
Dadekik dink ek, broeis moet hierdie duif beslis wees, want die enigste verskoning vir n takkie in sy bek is om n nes te bou. Nie dat n duif juis iets weet van nesbou nie. Hy pak sommer net n paar takkies hier en daar in n mik van n boom en verbeel hom dan hy het n nes. Geen wonder dat so baie duifeiers op die grond beland nie!

Ek merk dat die duif vir n lang ruk op die telefoondraad sit met die takkie in sy bek. Hy besin seker eers ernstig oor die nesbouery, of dalk hou hy eers die geelvinke dop, wat in n palmboom ook besig is met nesbou, om te sien of hy iets van hulle kan leer - net soos mense dink ek - altyd besig om by ander of in n tydskrif idees te kry van mooi huisbou!
Maar anders as die vinke wat knaend kan aanhou vleg en uitrafel, neem dit hom net sewe sekondes (het getel) om sy takkie op die regte plek neer te sit.

Gelukkig is n duifma nie jaloers of afgunstig nie. Maak nie saak hoe mooi of deftig haar vinkbure se nessies is nie, sy sal nooit soos n vinkwyfie haar nes kom uitmekaarpluk nadat dit moeisaam aanmekaargeplak is nie.

Dink ek so by myself; is die mens nie maar ook - of n duif- of n vink nie. Kan ek nie maar by die duif iets leer vanoggend nie, die duif mors nie tyd nie, en is nie afgunstig nie... "LIVING UP TO THE JONSE'S" is nie vir hom nie!

So pluk ek nou al vir twee weke my nuwe nes uitmekaar, skuif hier iets weer reg, hang daar weer iets anders....

2 comments:

  1. Mens kan so baie uit die natuur leer deur net stil te raak en na hulle te kyk. Hoop jy het nou klaar die nessie rondgeskuif!

    ReplyDelete
  2. Haai Nimsie, dis waar ons kan verseker by die duif leer. Dankie vir weereens 'n lekker inskrywing! Ek het so lekker deur die jaar by jou gelees!

    x x

    ReplyDelete