Tuesday, September 8, 2009

Hoe sê ek vir God dankie?


Ek is oppad om vir Willie werk toe te vat en die oggend verkeer sloer. My oog vang die vrou wat by die verkeerslig staan, sy hou n kartonbord krampagtig vas, en dit lees:
"Ek het nie werk nie, het drie kinders. Help my asseblief!"...
Die verkeer sleep voort en die kartonbord-vrou bly in my gedagtes. Sy dwing my om na my eie lewe te kyk en in die oomblik oorval die wete van God se genade my.
Sy guns was my beskore my hele lewe lank en ek is so dankbaar daarvoor!
Maar hoe sê mens dankie vir God? Ek kan Hom niks gee wat nie reeds Syne is nie. Hy is immers die Skepper van die heelal. Vir n vriendin kan ek blomme of gevleulde woorde stuur, maar hoe gemaak met die Skepper van die heelal?

Matteus 25 kom onwillekeurig by my op "Dit verseker ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringstes van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen."
Ek sien die kartonbord-vrou se gesig flussies voor my. Jesus identifiseer in hierdie gedeelte met hulpbehoewendes, ellendiges en geringstes. Wat ek vir hierdie mense doen, doen ek vir Jesus!
So kan ek konkreet dankie sê, tref die gedagte my.
Wat ek gee hoef ook nie noodwendig goed of geld te wees nie, dit kan ook liefde, geduld en diensbaarheid wees wat ek uitdeel...

Here dankie vir al die onverdiende voorregte wat my eie is, gee my n hart vir mense wat behoeftig is en gee my asseblief die vermoë om hulle te help.

6 comments:

  1. O dit is so waar!! Party mense is so moedeloos en dink niks meer van hulleself nie, en as iemand dan net n opregte glimlag gee, maak dit daardie persoon se hele dag!
    Om iemand wat so arm soos daardie vrou is net soos n mens te behandel en vir haar iets moois of vrouliks te doen saam met die res van haar vele behoeftes kan vir haar onvergeetlik wees! Dankie dat jy dit gedeel het!

    ReplyDelete
  2. Hallo Nimsi,
    Alles wat ons het en ontvang is net genade. Ja dit is so dat ons niks vir God kan gee om dankie te sê nie, behalwe die woord dankie en om so te lewe dat Hy op ons lewe glimlag.
    As ons iets kon gee, sou die bose mens probeer het om Sy genadegawes te koop. Nou kan ons nie! Nie koop nie en ook nie verdien nie. Alles is net genade.
    Geniet die dag

    ReplyDelete
  3. Hi Nims, dis so waar dat ons nie weet hoe om ons seeninge te tel as ons om ons begin kyk nie. En soos Oom Petrus tereg se, alles net genade. Die mense by die robotte kan my net so bybly. Mens voe eintlik magteloos. Daar is so baie van hulle en soveel nood.

    ReplyDelete
  4. Ek dink deur elke geleentheid te sien as 'n manier om vir Hom dankie te se in dit wat ons doen en hoe.

    ReplyDelete
  5. Dit gaan baie swaar daarbuite. Dit word ook elke dag erger. Werk is skaars en ek hoor weekliks van mense wat afbetaal word.
    Dis regtig vreeslik hartseer om mense te sien bedel. Hulle moes hulle trots in hulle sakke gesteek het ter wille van hulle kinders wat honger is. Nie almal behandel hierdie mense met respek nie, hulle word lelike dinge toegesnou.

    Mag ek altyd so bietjie geld oorhê om te deel met minderbevoorregtes.

    Baie mooi inskrywing Nimsi!

    ReplyDelete
  6. Hi Nimsi
    Ek dink nie ons kan regtig besef hoe GROOT God se genade is nie. 'n Mens kan so maklik vra: "Hoekom ek?" - kan net sowel wees "Hoekom nie ek nie?" My Ouma het altyd gese: "But for the grace of God,there go I..." Ons kon die sonverskroeides met die kartonborde gewees het.

    ReplyDelete