Wednesday, December 9, 2009

Ware Vriendskap




Ek het vir Piet en Pieternella ontmoet die oggend na ons in die woonstel ingetrek het. En nou na bietjie meer as n jaar kan die vriendskap as wedersyds beskou word. Ons is nou al sulke groot vriende dat ons soggens saam ontbyt geniet. Ek staan in die sitkamer en hulle op die balkon, en ons eet twee toebroodjies: een vir my en een vir hulle.
Hulle daag kort voor agtuur op, hoewel hulle al behoort te weet die etery begin nie voor kwart oor agt nie.
Kaas en konfyt is hulle gunsteling en hulle het ook n voorliefde vir eierbroodjies. Wanneer daar vleissmeer of slaai op die brood is, lewer hulle kritiek.

Nou, verlede week, kom hulle een oggend sewe uur hier aan met n kêreltjie wat op n druppel water na Piet lyk. Hulle kom stel hom as't ware aan my voor: die produk van liefde in n stad waar liefde nie volop is nie.
Pietertjie, soos hy nou heet, het n gesonde eetlus. Wanneer sy ouers die oggend n bietjie draai met die opstanery kom hy sommer sesuur al hier aan. Dan sit hy op die balkon en gesels todat hulle opdaag en die ontbyt voorgesit word.

Hierdie gesin is nie die soort vriende wat verniet wil eet nie. Hulle dring daarop aan om vir hul kos te werk deur die duiwe van die balkon af te verwilder. Ek raak skoon bekommerd wanneer hulle al drie die oggend verslaap en laat opdaag!
Hoe langer ek en Piet en Pieternella en Pietertjie mekaar ken, hoe meer dink ek dit is nie noodwendig van eensaamheid dat baie "oumense" hul brood en hulle geselskap met voëls deel nie...

5 comments:

  1. Sweet!! Jou inskrywing het nou 'n breë glimlag op my gesig gesit!

    ReplyDelete
  2. Dit is nou n mooi storie! Dit is wat die lewe die moeite werd maak. Ek moet se, soms wens ek ek is n voeltjie,want hulle lewe lyk so vry en eenvoudig,maar selfs hulle het uitdagings en gevare.
    En tog bly hulle vrolik en vol moed!

    ReplyDelete
  3. Stem Thea!

    Ek sou 'n vlieg teen die muur wil wees om die geselskap te volg :-)

    ReplyDelete
  4. Kostelik Nims! Geniet die vriendskap!

    ReplyDelete
  5. Die diereryk is propvol van wysheid en voorbeelde vir ons om te aanskou. Ek leer daagliks die kuns van tevrede afhanklikheid by Poepies, ons hondjie. As ons maar so deeglkik op ons Vader ingestem kon wees, was baie angs oorbodig! Dankie vir jou stories.

    ReplyDelete