Friday, February 27, 2009

Geluk my kind

Ek is vandag hartseer van blydskap!
Ek skryf eintlik vandag om dankie en geluk te se my kind...
Dankie vir die wonderlike kind wat jy nog altyd vir my is... Jy was nooit skaam om my te druk, langs my te sit, of sommer net saam met my in die dorp te drentel nie!

As klein seuntjie al was jy baie "wise". Jy het al my aandag geverg en aangedring op volle antwoorde! Eintlik was jy nog altyd so slim en vol selfvertroue. Van kleintyd af was almal mal oor jou en jy het so graag met hulle almal gesels.

My kind, toe jy op skool was en ek en jy die pad alleen geloop het, toe ons finansieel swaargekry het, het jy my nooit verwyt nie. Jy was tevrede met geen of min sakgeld, met tweedehandse klere. Ek het dit so wardeer my kind!
Toe jy matriek slaag met onderskeiding en vrystelling en ek nie kon bekostig om jou verder te laat studeer nie, was jy tevrede, en jy het jou Diensjaar vir Christus met trots gaan doen!

Ek is trots daarop dat jy al lankal vir jouself sorg. Ek is trots daarop dat jy werk en so lojaal en pligsgetrou is. Soms kry my hart seer oor die lang ure wat jy werk maar tog maak dit my so so trots!

Ek kan nie wag vir jou elke woensdag aand se oproepe nie, en dan se jy altyd so vrolik: Hello my ma...
Ek voel altyd so gekoester by jou my kind! Ek sal nooit maar nooit vergeet toe jy so vyf jaar oud was en dinge tussen my en jou pa so lelik geraak het net voor die egskeiding, het jy altyd jou armpies om my gesit, niks gese nie, net maar my skouer met jou klein handjie gevryf... Daai tyd al het mamma geweet jy sal altyd daar wees vir my. Baie dankie daarvoor!

Ek is so jammer dat ek die slegte dinge van die lewe nie kon keer nie... dat ek jou nie kon beskerm teen die wreedheid van ander mense nie! Ek is jammer dat jy as klein seuntjie al met die wreedheid van die lewe moes kennis maak. Maar ek is so trots op jou... op die manier hoe jy dit hanteer en oorkom het!
Manne ek se so baie vir die Here dankie dat hy iemand soos jy vir my gegee het!

Jy is so pynlik reguit my kind. Vir jou is daar geen ompaaie nie. En dit is ook goed so...

Baie Geluk my kind met jou bevordering!
E
k is so trots op wat jy in net agt maande by so n groot maatskappy bereik het!
Ek en pa Loutjie het gisteraand op die balkonnetjie in die reen gedans vir jou my kind... n dans van dankbaarheid en trots!
Ons is lief vir jou... meer as wat jy ooit sal kan dink, en ons is so trots op jou

Liefde
Mamma

*Vergewe my maar asseblief die ou fototjie hierby!

Wednesday, February 25, 2009

Het jy ook al opgemerk...

Ons leef waarlik in n "kits" wereld. By die meeste kitskosplekke wag jy nie eers drie minute vir jou kos nie. Hare word in n kits gesny. Bankdienste word al hoe beter, en die arme petroljoggies word omtrent gedryf om kitsdiens te lewer...

Jy het seker ook al gesien hoe mense sekere voorwerpe gebruik vir ander doeleindes as waarvoor dit oorspronklik gemaak is... Pak gee met n houtlepel, en dit terwyl dit gemaak is om pap mee te roer! Met jou motor sleutels of die agterkant van n pen in jou oor krap... glad nie sy oorspronklike doel nie!!... Wou die oom my eendag vermoor toe ek in die supermark vir n man een van my oorstokkies uit my handsak haal en aanbied toe hy met sy sleutels in sy oor krap...

Soms gebeur dit dat n mens vier seisoene in een dag ervaar. Jy staan die oggend op en dis ysig koud. Dit maak later plek vir heerlike sonskyn en erge hitte met n goor wind. Later veroorsaak die wind dat wolke saampak en donderstorms laat jou hardloop vir skuiling. Dit is min of meer die beste beskrywimg as jy na sommige mense se buie kyk. Voordat jy hulle benader, moet jy eers bepaal met watter voet hulle uit die bed opgestaan het, anders het jy dalk probleme! Het die buie maar van dag tot dag gewissel. By baie mense wissel dit egter van uur tot uur...

Eensaamheid, al is jy tussen n massa mense, is n algemene verskynsel vandag. Dit is hoe baie mense deur die lewe gaan; daar is heelwat mense om hulle maar tog is hulle eensaam. Daar is net geen kwaliteit verhoudings in hulle lewe nie...

Het maar net gewonder of ek dalk die enigste mens is wat hierdie dinge opmerk?

Sunday, February 22, 2009

Klippie

Abba Vader,
soos wat n mens n klippie in n dam gooi en dit uitkring en uitkring op die water, stuur ek in hierdie middag n klippie gebed uit vir elkeen wat hier op my blog kom lees
. God ,mag U liefde deur ons werk, gee asseblief dat almal wat in aanraking kom met ons in die komende week, van ons werksmense tot die man wat ons brandstof ingooi, of die vroutjie wat ons pakkies pak by die winkel, U seun Jesus se liefde deur ons sal ervaar. Gee dat ons vriendelik sal wees, liefde sal uitdra en al die vrugte van die Gees sal openbaar elke oomblik van elke dag. Vader ons is dalk die enigste persoon wat in maande vriendelik was met n ander persoon. Gee dat ons hoopdraers sal wees in n donker wereld. Gee asseblief dat ons "kringe" sal uitkring en uitkring tot eer van U Heilige naam.
Amen

Thursday, February 19, 2009

As die lewens storms woedend om jou draai...

Het jy al ooit gevind dat jy van een dag na die volgende ploeter sonder om bewus te word van die eenvoudige seeninge wat God na jou kant toe stuur?
Forseer jy jou soms om te glimlag, en wens jy mense mistroostig n goeie dag toe? Kompleet nes Eeyore, Winnie the pooh se depressiewe donkie - maaitjie.

n Baie ou liedjie, " tel jou seeninge" is vir my wonderlike terapie as ek voel soos die afgelope paar weke... Vir my skud dit al die ou brommerigheid en stres af... Die woorde draai soos n denkbeeldige draaitafel in my kop.
Na ek so n dag of twee hierdie ou liedjie loop en sing of neurie het; sien ek weer die reenboog na die storm raak.. word ek weer wakker en sien die sonsopkoms raak, hoor weer die voeltjies buite my venster kwetter...

Besef ek weer watter vreugde dit is om die verwondering op n kind se gesig te aanskou wanneer hy n eenvoudige ontdekking gemaak het, hoe verfrissend dit is om n bejaarde man en vrou hand aan hand te sien loop...
Wardeer ek weer n mooi boodskap op my foon van n ou vriendin, staan ek weer n oomblik stil om te luister na my geliefkoosde liedjie op die radio...
Besef ek opnuut sulke dingetjies is God se alledaagse seeninge. Koester ek dit weer opnuut.
Wanneer iemand my dan harde woorde toevoeg, of voor my indruk op die snelweg, of wanneer die bekommernisse aanhou ophoop; diep ek hulle uit my herinnerings op en maak hulle so dubbele seeninge...

Tel jou seeninge, noem hul een vir een,
en jy sal verstom staan oor die Heer se seen!

Friday, February 13, 2009

Vrydag, die 13de...

PARASKEVIDEKATRIAFOBIA...

Moet eerlik erken dat ek die woord glad nie kan uitspreek nie! en dit is dus een fobie waaraan ek gelukkig nie ly nie.

Volgens die geleerdes is n fobie n oorheersende en sinlose vrees wat met n bepaalde situasie of voorwerp verband hou wat normaalweg nie vreeswekkend behoort te wees nie...
Fobies verskil van gewone vrees daarin dat dit lank duur en sinloos is en dat die voorwerp of situasie wat die vrees uitlok, vermy word.
Die vrees vir Vrydag die 13de is een van die mees algemene fobies en verkeer baie mense in groot ongemak op die dag...
Mense wat aan hierdie fobie ly is buitengewoon versigtig op hierdie dag want hulle glo dat slegte dinge met hulle kan gebeur.
n Jarelange vriend van my ( ek sal maar nie sy naam noem nie) gaan al die jare wat ek hom ken glad nie op hierdie dag werk toe nie...

Ken ek ook n paar mense wat aan verskillende fobies ly;
*akrofobie - hoogtes
*kloustrofobie - geslote ruimtes
*agorafobie - oop ruites
*akwafobie - water
*pirofobie - vuur

Die ou mense het hierdie fobies sommer net bygelowe genoem...
Paddas gee jou vraaitjies
Swart katte is "evil"
As jy n spieel breek wag daar sewe jaar se ongeluk op jou
As jy onder n leer deurloop gaan jy ongelukkig wees.

Ek wil geensins hierdie dinge as onsin afmaak nie... ek het net geen persoonlike ondervinding dat vrydag die 13de n ongelukkige dag is nie, vir my nog al die jare maar net soos elke ander vrydag, dus bly ek oortuig dat hierdie vrees net soos enige ander vrees... n persoonlike oortuiging is!

Lekker Vrydag en geniet die naweek...

Thursday, February 12, 2009

Valentyn

Die meeste van ons het nog nie herstel van Desember, Kersfees en "Back to School" nie. En hier is Valentynsdag alweer bo-op ons!
Oral waar ek in die winkels kom ( tot by die ou Griek op die hoek) is dit net: rooi blomme, rooi harte, rooi balonne, rooi bekertjies, en beertjies...

Hier is n paar wenke vir lekker Valentynsdinge wat min kos maar tog baie spesiaal kan wees -

LIEFDESDINGE:

*Onthou, vir die meeste van ons is dit die eenvoudige dinge wat die lewe pret maak.
* Eet roomys saam of drink n melkskommel uit een glas... vergeet die kilojules en fokus op die genot van saamwees.
* Bid of mediteer saam.
* Vergeet vir n naweek van al jou verpligtinge en spandeer tyd saam.
* Kyk saam hoe die volmaan opkom - selfs in die stad is dit nog spesiaal.
* Kry n plekkie waar julle gereeld oor n koppie koffie rustig kan sit en kuier. Bel hom/haar en vra: Kan jy my ontmoet by ons plekkie...

Se dit in n ander taal:

Ti amo (italiaans)
Je t'aime (frans)
Ik hou van je (nederlands)
Ich liebe dich (duits)
S agapo (grieks)

Hoop elkeen van julle geniet n wonderlike liefdesmaand!

Tuesday, February 10, 2009

Die Skoenlapper

Jare terug, toe Marius so vyf of ses jaar oud was, het hy dikwels op die eenvoudige wonderwerke van die natuur afgekom.
Eendag het ons n klein, groen ruspe in die tuin gesien. Hy het dadelik n groot glasbottel uit die huis gaan haal en ek het n klein takkie van n boom afgebreek. Ons het die takkie naby genoeg gehou sodat die ruspe daarop kon klim. Toe sit ons die takkie versigtig in die bottel en steek gaatjies in die deksel voordat ons dit toemaak.

Ons het elke dag druppels water op die takkie gesit en die groen gedroggie dopgehou.
Hy was oorstelp toe die ruspe onverpoos sy kokon begin spin... Ons het ons verwonder oor hoe hy geweet het presies wat om te doen. Dit was amper of God se vinger die onderpunt van die kokon balanseer terwyl dit so om en om tol.
Daarna het ons nog intenser oor die proses gewaak sodat die skoenlapper sou kon leef en wegvlieg wanneer die tyd aanbreek om uit sy kokon te kom.
Marius het angstig deur die glas na die lewelose, grys papie gestaar. Hy het gewonder of enigiets gaan gebeur...

Uiteindelik het die dag aangebreek. Die uitgeswelde kokon het begin wriemel. Marius het my dadelik kom roep.
Ons het die bottel uitgevat tuin toe en versigtig die deksel afgehaal. Stadig en sagkens het ek die takkie uit die bottel gehaal en dit op die rand met my duim en wysvinger gebalanseer. Die kokon het eenkant toe gehang, steeds gewriemel, en toe stadig begin oopbreek.
Marius het na sy asem gesnak en gefluister van vreugde, bang dat hy die wonderlike proses kan versteur.
Kort voor lank het n lieflike skoenlapper te voorskyn gekom. Hy was nat en het moeg gelyk. Die pasgebore insek het sy indrukwekkende nuutgevormde vlerke vreeslik stadig oopgemaak. Hy het hulle opgelig en dan weer afgebring met ritmiese, vermoeiende bewegings. Met elke beweging het die skoenlapper sterker gelyk.
Ek kon amper sien hoe God die helder kleure oor die lieflike wese gespat het en hom help om sy vlerke op en af te beweeg todat hulle droog is.
Nuwe krag het in die voormalige ruspe ingestroom. Met een kragtige bewe
ging het dit die lug in geskiet. Ons het aanhou kyk so asof ons n jong vriend vaarwel toeroep.

Ek sal nooit die seeninge van daardie skoenlapper en die les vergeet wat God my geleer het nie: hou vir n oomblik op met dit waarmee jy besig is en geniet die klein dingetjies...

Dankie vir die lekker kuier oor die naweek my kind; jy is nou al n groot man maar steeds seen jy my met die klein dingetjies van die lewe... n lieflike bos rose, omdat dit my gunsteling blom is!

Friday, February 6, 2009

Jou Naam

Dit was die groot Engelse dramaturg William Shakespeare wat gemeen het dat name nie so belangrik is nie.
"O, be some other name! What is in a name? That witch we call a rose, by any other name, would smell as sweet" se Juliet vir Romeo (bedryf 2 toneel2)

Desnieteenstaande is name steeds vir almal van ons belangrik. Alhoewel familiename vandag net by uitsondering vir kleinkinders gegee word, is dit tog opmerklik hoe n ouma blom as haar kleindogter "haar" naam kry of hoe n oupa breebors rondstap as sy kleinseun die "familienaam" gegee word...

In Hitler se konsentrasiekampe is mense se name met nommers vervang. Wie weet, miskien was die onmenslike behandeling in daardie strafkampe makliker om uit te deel omdat die inwoners nie name gehad het nie!

n Mens se naam se altyd iets van jou. In die Bybel se tyd is mense se name dikwels verander as daar belangrike dinge met hulle gebeur het. God self verander Abram se naam na Abraham, omdat hy die vader van baie nasies sou word; na Jacob se worsteling met God by die Jacobspruit word sy naam Israel; en Naomi het self haar naam na Mara verander toe sy uit Moab na Betlehem teruggekeer het, omdat God die lewe vir haar bitter gemaak het.

Let maar op - dat sodra jy vir n dier n naam gegee het - hetsy dit n kat, hond, vis of voel; raak jy lief vir daardie dier!
Geen wonder dat boere ook nie name aan die diere wat geslag gaan word gee nie...

Ek onthou nog soos gister die Sondag in my laerskooljare toe my pa in n grap vir my gese het dat ons bruingebraaide Sondaghoender in der waarheid my mak hoender, Katryn was! Ek was met totale afgryse vervul en kon daardie Sondag nie n mondvol eet nie, alhoewel die hoender toe nie regtig Katryn was nie!

Hoe wonderlik vir my die wete dat God my naam ken, en omdat Hy my naam ken, ken Hy my persoonlik en kan Hy my nooit vergeet nie!

Thursday, February 5, 2009

Jenny

My dierbare suster, baie baie geluk met jou verjaardag.
mag hierdie nuwe lewensjaar vir jou waarlik net groot en mooi dinge inhou...

Baie dankie vir my boodskappie vroegoggend, soos dit maar deur die jare was/is het ek dadelik geweet dit is jy toe my foon sy deuntjie speel!

In die jare wat kom sal jou oe verdof, jou hare uitval, jou gums krimp, tande uitval, plooie sigbaar wees, maar ek sal altyd daar wees vir jou deur dik en din: Ek sal jou lei met n knopkierrie, n pruik vir jou opsit, my kunstande vir jou leen, jou toonnaels reguit saag, en beesmis op jou plooie smeer - COZ tHATS WHAT SISTERS ARE FOR!

Dierbare Hemelse Vader,
baie dankie dat U my sussie nog n jaar vir my gespaar het.
Dankie dat U elke behoefte en begeerte elke bekommernis van haar ken.
Hemel Vader, hou haar asseblief styf aan U dierbare bors gedruk in hierdie nuwe lewensjaar van haar.
Seen haar en bewaar haar asseblief.
Amen


Om die waarde van n suster te besef: VRA IEMAND WAT NIE N SUSTER HET NIE!