Tuesday, January 29, 2008

Verbale Geweld

And then I felt sad because I realized that once people are broken in certain ways, they can't ever be fixed, and this is something nobody ever tells you when you are young and it never fails to surprise you as you grow older as you see the people in your life break one by one. You wonder when your turn is going to be, or if it's already happend.
...how often is it we are rescued by a stranger, if ever at all? And how is it that our lives can become drained of the possibility of forgiveness and kindness - so drained that even one small act of mercy becomes a potent lifelong memory?
How do our lives reach these points?...

...Hierdie is n onderwerp wat my baie na aan die hart le en wat ek al baie en diep bepeins het,
Ek het dit al voor my oe oor n tydperk van n paar jaar gesien gebeur, hoe verbale geweld n vrou verander in n stil-lus vir niks-sieklike- wese... en ek kon niks doen om haar te help nie want sy wou nie erken, nie eens teenoor haarself, wat besig is om met haar te gebeur nie...

Verbale geweld is geweld met woorde, dis wanneer iemand woorde gebruik om n ander mee seer te maak... nee...te breek!
Omdat ek nie die verhaal wat ek aanskou het hier kan neerskryf nie het ek begin navraag doen oor ander vroue se verhale...
Ek het n paar vroue uitgevra oor hierdie onderwerp; vroue van alle klasse en rasse, en 80% van hulle kon vir my n verhaal van verbale geweld vertel...
sommige van hierdie verhale sal ek so van tyd tot tyd hier vertel...
Ek het met vroue gepraat wat wissel van ongeletterd tot gegradueerd!

Na my mening is verbale geweld of verbale aanranding soos ek graag daarna wil verwys die ERGSTE soort van aanranding ooit...
want verbale aanranding is n emosionele aftakeling wat BAIE GOED weggesteek word, die slagoffers is 99% van die tyd te skaam om daaroor te praat...

As iemand jou n blou oog gee, kan jy dit wys... As iemand jou vloek... wat wys jy?
Hoe wys jy vir iemand,...
Jy's onossel, of jy"s lelik, jy's nie goed genoeg vir my nie!

Sommige van hierdie vrouens is as kinders deur een of albei ouers so verniel, ander deur vriende, familie, maar meeste van hierdie vrouens leer verbale geweld ken by hulle mans...
... en sommige van hierdie mans kan ek seker 'HEILIGE MANS' noem. Ek wil my amper verstout en hierdie HEILIGE MANS se geweld pront uit 'godsdienstige geweld' noem...
Sulke HEILIGE MANS glo deur die bank; dis God se wil dat vroue die minste moet wees en moet vat wat na haar kant toe kom...

Kom ons noem my navraag oor hierdie onderwerp maar navorsing, in die amper twee maande dat ek hierdie onderwerp nagevors het, het my pad gekruis met n vrou uit n baie gegoede deel van die stad, haar verhaal het my geskok en met afgryse gevul...
Haar man is n welbekende sakeman en n GROOT KERKMAN, wat dikwels Ooste toe moes vlieg vir besigheid. Daar besoek hy prostitute. Hy kom toe moointjies terug met n geslagsiekte, wat later met aaklige simptome by sy vrou uitslaan. Op die einde beskuldig hy haar dat sy vir hom die siekte gegee het en smyt hy haar weg. Die verskriklike woorde waarmee hy dit gedoen het, kan en wil ek nie hier herhaal nie...

Meneer die verbale aanrander, vir jou wil ek graag die volgende se;...
Jou woorde laat jou slagoffer vir jare krom loop van pyn terwyl jy gevoelloos regop by haar verbyloop...
Jou woorde laat haar sleg voel oor haarself, en sleg voel oor jouself maak jou magteloos, slegvoel oor jouself laat jou twyfel aan jou vermoens om die lewe goed en gesond te hanteer.
Slegvoel oor jouself, steel jou trots, en jou energie,dit steel jou selfbeeld, laat jou pateties voel!
Laat jou jou drome verloor...
DIT MAAK JOU MOEG!

Jou woorde plant gedagtes by jou slagoffer, en sy vrees hierdie gedagtes, want dit vat haar waar sy nie wil wees nie. Die gedagtes vat haar na wat JY haar mislukkings noem!
Die gedagtes laat haar eensaamheid groot voor haar staan, dit gryp haar brein vas, tot sy nie weet watter kant toe om te dink nie!
En sulke gedagtes... net soos jy Meneer die aanrander, hou daarvan om jou slagoffer alleen te kry...

Hierdie navorsing van my het my net weer laat besef:
n Vrou se behoefte om lief te he, laat haar soms oordeelsfoute maak...

...FOUTE SOOS JY!

Antie

Ek stap rustig deur die winkels by ons plaaslike winkelsentrum, 'minding my own business' toe n vrou op my afpyl.
Goeie more Antie, weet Antie miskien waar n Apteek is?
Ek kyk erg verontwaardig na die vrou; so by die dertig of miskien vyf en dertig en wonder (amper hardop) WATSE GE-ANTIE IS DIT HIERDIE?
Ek is skaars ses en veertig!
Erg stywe lipperig beduie ek haar in die rigting van die apteek, en sy se so ewe beleefd;
Dankie Antie!
Ek gaan net daar en dan huistoe...

Ek bedink hierdie Antie storie diep en deeglik...
Het ek nie ook maar as dertigjarige gereken, ooms en tantes van ses en veertig is van die mark af nie?
Maar dan dink ek verder;
ons gaan mos nou deur die antiselluliet - antidepressant - antioksidant - antiveroudering -stadium.
Dan moet ons nog ons kinders sterk maak teen die antichris...
Is ons nie eintlik eksperte in die anti bedryf nie?

Ek bekyk myself van alkante af in die groot spieel, en besluit;
Dit is slegs en ek bedoel SLEGS...
my onfatsoenlike borste en boepie wat my laat glo ek is die "Antie-titel" werd...
want my bloed skop nog soos die van n jong bok!

Skree dus hard hoera vir alle Anties - ons is professore van leefkunde!

Van nou af lig ek my dubble ken, konsentreer op my wysheid en dapperheid, pleks van vervalle velle en kreukels!

Wednesday, January 23, 2008

Wat mense alles weet

Ek kan my so verstom oor die wonderlike dinge wat mense weet, soos wanneer n waatlemoen ryp is, hoe om n rooiwynvlek uit n sybloes te haal en waar n mens n los deksel vir n latrine kan kry.
Dis dinge wat mense weet! vra maar...

Dit lyk my daar is mense wat sommer vanself weet wanneer n souffle gaar is, hoe n mens n motor se bak oopmaak, en uit watter rigting die wind moet waai om reen te bring.
Die mense imponeer my. Hulle het beslis iets wat ek nie het nie:

Ek weet nooit wanneer iets behoorlik gaar is nie, ek weet nooit hoe n mens n ding oopmaak nie, en ek weet nooit watter winde hoe moet waai nie.
Die ergste is dat daar altyd weer n nuwe ding is wat ek moes geweet het en nie geweet het nie.

Dit moet n mens seker n heerlike gevoel van selfvertroue gee om sulke dinge te weet...
Die oom weet byvoorbeeld, hoe n mens die geslag van n parkiet kan vasstel; jy kyk na die bokant van sy bekkie- as dit helderkleurig is is dit n mannetjie; as dit vaal is, is dit n wyfie. Jammer dat die wyfie altyd die vale moet wees, maar nietemin iets wonderliks om te weet, veral vir mense soos ek, wat hulle al keer op keer vasgeloop het met die geslag van gewone huiskatte.

Soms kan ek my stom verwonder aan wie wat weet. Die hertogin van Windsor weet waar n mens 70,000 haaitande teen n afslag kan koop. Dit lees ek nou die dag in n artilel oor haar. Sy lees elke dag nege koerante in drie verskillende tale om sulke wetenswaardighede op te diep!

As ek wil weet hoe om n nuwe roosboom te snoei, vra ek my buurman, en as ek wil weet hoe om n fles blatjang oop te maak dan roep ek die oom.

Die ongeluk is dat ek aan niks kan dink wat ek sommer weet nie. Ek bedoel nou lekker nuttige dinge waarmee ek mense kan beindruk nie...
Dit smaak my soms ek weet niks!

Sunday, January 20, 2008

Smart

n Maand terug het ons vir haar n babatee gehou.
Gelag en gesels, geskenkies gegee. Drie en dertig jaar oud en ses maande swanger...
en nou is sy dood, en die baba n dogtertjie ook dood...
Lou se vrou en babadogtertjie, Jan en Nicolene se mamma en sussie... dood...
En hulle weet nie waaraan nie... moet wag vir die bevinding van die pataloog met die nadoodse ondersoek.
Ons gemeenskappie van vier en veertig huisgesinne is stom!

Ons staan almal rondom hom en sy kinders met ons beskermende deernis. Ons probeer opreg om die regte woorde uit te spreek en vertroostend op te tree. En elkeen van ons kom weer tot die besef dat, droefheid, lyding, pyn, en die dood n integrerende deel van die menslike lewe is... en dat NIEMAND teen droefheid gevrywaar is nie!

Een van die moeilikste dinge wanneer iemand sterf, is wat om vir klein kindertjies te se. Hoe kan hulle die dood van n ma wat hulle liefgehad het, verstaan?
Mense is onbekwaam om mekaar te troos...

Toe dit my en die oom se beurt was om iets aan hierdie bedroefde mense te se was dit die volgende:
Ons weet dat geen woorde van mense jou nou kan troos nie, al het ons al self deur hierdie donker vallei gegaan.
Jy moet dit self deurworstel en ontdek dat God altyd by jou is. Daarom kom sit ons vandag net stil by jou om jou smartgenoot te wees en te bid dat God jou krag sal gee in jou traumatiese en emosionele stryd. Dat Hy jou sal help om te verstaan en dat Hy aan jou vrede en gemoedsrus sal gee.Ons weet dat jou hart gebroke is, en dat jy nie teologiese verklarings of hoogdawerende redenasies nodig het nie, maar die genesende en vertroostende teenwoordigheid van God.

Here Jesus,
Dankie dat U ons hulpgeroep hoor.
Dankie dat U ons smarte ken dit vir ons dra.
Amen.

Saturday, January 19, 2008

Hoe lank?

Vra Tessa my gisteroggend hierdie vraag:
Hoe lank mag n mens treur?

Hierdie is die verhaal van n vrou wat flenters geslaan is deur die lewe, en ek skryf nie ligtelik hieroor nie, ek staan respekvol voor haar pyn.
Ek loop die pad al agt jaar saam met hierdie vrou...

Begin ons gesprek gisteroggend so:
Twee dinge in die lewe maak my gedaan se sy; Die een is wanneer jy niemand het om te vertel dat jy swaarkry nie,
Die ander is wanneer jy niemand het om te vertel dat dit met jou goed gaan nie...

Tessa kon altyd vir haar man vertel hoe dit met haar gaan. Meeste van die tyd was dit juis oor hom dat sy goed gevoel het, en sy het hom dit graag vertel;
Dan het hy haar laggend vertel dat sy dit vir hom ook doen.
Dit was altyd haar lekkerste tyd van die dag wanneer hulle middae van die werk af kom en vir mekaar vertel wat hulle daardie dag reggekry het, en die een was bly oor die ander se regkry.
Saam was hulle suksesvol in hulle beroepe en die samelewing. Hulle het graag onthaal, het n groot vriendekring gehad, vol invloedryke mense.
En dan was daar die kerk...
Daar was hulle ook hoog aangeskryf. Hy was ouderling, sy orrelis; Gholf met dominee, shopping en tee met Mevrou...
en seks met die vrouediaken...
Dis nou Tessa se man, die ouderling, wat toe al die tyd saans na kerkraadvergadering sy ding gedoen met die sexy diaken-vrou...

Daardie dag toe sy hulle uitgevang het (ek dink dit sal aan haar hart bly pluk vir ewig) dit was die dag toe die goedvoel tussen Tessa en haar man opgehou het, om dit sag te stel.
Haar man wou nie loop nie, maar Tessa wou nie bly nie, nie eens in die kerk nie.
Sy wou net haar bed vat en loop!

Hoe kon God dit aan my doen? het sy vir my geskree-vra die volgende oggend. God het al die tyd geweet- alles geweet- terwyl sy soos n gek by die huis gesit en wag het met haar skraps 'nighty' aan. God en die hele gemeente het die hele tyd geweet- terwyl sy met n geluksalige uitdrukking op haar onwetende gesig agter die orrel vroom musiek sit en uitkraam het!
Haar man en God; die twee saam met wie sy altyd feesgevier het wanneer dit met haar goed gegaan het. Hulle was nou skielik weg uit haar lewe...

En toe is haar seun net so skielik en sonder waarskuwing weg. Een aand van die werk af gekom, sy vriend (hulle het n huis gedeel) se vuurwapen gevat en homself geskiet. Toe hulle haar daarvan kom se... ek was eerste by haar daardie nag... sy het net die hele tyd gese dit is nie waar nie, God help my dit kan nie waar wees nie.
Hulle wou haar nie sy liggaam wys nie. Haar seun wat na haar gekyk het, wat met sy lag en die pret in sy lyf gemaak het dat sy nie heeltemal van die pad af geloop het na die ding met die diaken-vrou nie... nie meer daar nie...

Tessa se man met-die-diaken-vrou was haar tweede man. Haar eerste man en pa van haar kinders, het haar verlaat nadat sy besigheid bankrot geraak het. ( haar die skuld gegee daarvoor)

n Jaar lank woon hartseer en woede by haar, en die een maak die ander om die beurt groter. Dit is n jaar waarin sy aan niks kan deelneem nie. Haar lyf is seer, sy kry pyne in haar kop, die hele helfte van haar liggaam word leweloos, en pyn dan weer. Om die yskas se deur oop te maak word vir haar te moeilik...

Na n jaar word haar seun se grafsteen onthul. Haar man (toe nog nie eksman) maar toe weer sonder die diakenvrou, woon dit ook by. Tessa kyk na hom en sy kyk na die grafsteen, en sy kan dit nie verdra nie. Voor ons almal, skop sy na die grafsteen- die eenwat sy self uitgesoek het- gaan klim in haar bakkie en ry roekeloos huis toe...
n Gtafsteen op n kind wat nog moes lag, se graf. Dit moenie wees nie..

Vreugde en smart is twee van die mees algemene aandoeninge van die mensehart. Hulle wissel mekaar gedurig in mense lewens af. Met reg mag gese word: Elke huis het sy kruis; elke hart sy smart!

Hoe lank mag n mens treur? vra sy my. My mense se hulle is moeg vir my gehuil. Dis nou al amper twee jaar...
Niemand kan vir jou se hoe lank jy mag treur nie se ek: maar ek dink n mens hou op treur wanneer jy besluit om iets voort te sit uit die lewe van die een oor wie jy treur...

Ek sal so van tyd tot tyd verderl vertel aan hierdie vrou se verhaal soos wat ek dit saam met haar beleef....

Tuesday, January 15, 2008

Boomskraap

Erens is iets altyd boomskraap, maak wat jy wil.
Boomskraap is een van die aangesigte van die lewe wat n mens nie kan miskyk nie.
Stroom-op is n ander, en ek het ook al kennis gemaak met halfslyt en hotom, kropvol en kanniedood, maar boomskraap is die een waarteen ek my die meeste vasloop.
Ek kan dus seker se dat boomskraap die een is wat ek die beste ken- ek , en ander mense ook.
Want boomskraap is soos kakiebos, roei jy hom hier uit, steek hy sy kop daar uit.
Dus kry die stryd teen boomskraap nooit end nie.
Dit oorheers eintlik n mens se hele lewe. Jy moet net erg keer dat jou moed en uithouvermoe nie boomskraap raak nie.

Daar is dinge in die lewe wat altyd boomskraap is, dan is daar weer dinge wat nooit boomskraap raak nie, soos vliee, rekeninge en ou rommel.
En waar en wanneer mens met hom te doen kry, boomskraap steek altyd sy kop op die verkeerde plek uit. Hy betrap n mens altyd onverhoeds!

So gaan dit keer op keer met my. Ek maak mos nou planne om aan die einde van die maand vir my n rooi rok te koop, om my so bietjie geestelik op te flikker... die koop van my rooi rok sal vir my beter wees as enige vitamien-preperaat en die dra daarvan heilsamer in sy uitwerking as n knoffelkransie teen verkoue.
Maak ek my plannetjies vir die koop van my rooi rok en miskien n paar rooi skoene...
Maar-ek hou nie rekening met boomskraap nie!

Daar kom tye in n mens se lewe wanneer alles sommer tegelyk boomskraap raak.
Op n dag maak jy jou klerekas oop en kom tot die nare ontnugtering dat al jou klere van bo tot onder boomskraap is, en jy voel meteens toiingrig, oud en handgemaak. Dit doen boomskraap aan n mens. Hy begin by jou kerkrok en klim tot in jou karakter.

Die bedugtheid van die boomskraap wereld begin jou beetkry. En dis die slag dat jou welwillendheid ook boomskraap raak.
Maar wat my eintlik van boomskraap verbitter, is sy tartende ontydigheid.

Een troos darem; dit lyk vir my dis die boomskraap van die lewe wat n mens taai maak.
Dis daardie einste boomskraap wat jou dwarsdeur jou lewe uitdaag tot stryd.
Jy kan tog nie boomskraap met boomskraap beveg nie.
Dit wat boomskraap is moet opgevul word, en dis juis daardie opvulling wat die uitdaging is...

Monday, January 14, 2008

Lekkerste Lekker

Lekker, Lekkerder, Lekkerste.
Darem goed dat n woord soos lekker trappe van vergelyking het. Nou kan n mens se wat lekker is:-
Melktert byvoorbeeld-van die outydse dik soort-
en n mens kan se wat lekkerder is- roomys met warm sjokoladesous-
maar die beste is dat mens kan se wat die lekkerste is- en hier deel ek en die oom beslis nie dieselfde idee van lekkerste nie- want vir die oom is lekkerste nou eenmaal artappels- op welke wyse ookal voorberei!

Naas alles wat lekker smaak is daar nog alles wat lekker ruik, en lekker voel, alles wat lekker is om te sien en hoor, al die lekker dinge wat n mens kan doen, en nog meer lekker dinge wat n mens kan dink.
Daar is ook die lekker mense wat jy ken, die lekker plekke waar jy soms kom en die lekker boeke wat jy lees.
So baie vreugdes waarvan n mens jou hart nie hoef terug te hou nie!

Gesels ek die ander dag met Ouma Jane (78jr) oor dieselfde onderwerp, moet ek net byse Ouma Jane het die wereld vol gereis, en het ek al baie lekker stories by haar gehoor van reg oor die wereld, en daarom het ek gehoop om n lekkerste storie vir hier by Ouma Jane te kry.
Nadat sy n oomblik nagedink het oor my vraag dat wat vir haar die lekkerste in die lewe was /is- antwoord sy my so:

Sy het jare gelede n wasbediende gehad wat maandae ingekom het. Rosie het elke maandagoggend terwyl sy onder die afdak staan en was, Halleluja liedere gefluit.
Soms het sy begin met: As die lewenstrome woedend om jou slaan, oor die lakens fluit sy: Waarheen pelgrims, oor die handoeke: Red wat verlore gaan, en as sy by die manshemde kom versnel haar tempo aansienlik met - werk want die nag kom nader.
En so sorg Ouma Jane dat sy binne hoorafstand bly, want die mooiste is die slotsange as Rosie die wasgoed begin ophang en sy flui al stadiger- Die Heer is groot waar sions top.
So skep Rosie maandae n besonderse stemming by Oum Jane se huis, wat die gemoed streel.
Vertel Ouma Jane dat die maandae wat Rosie nie opgedaag het nie, die dag vir haar glansloos was sonder die Halleluja liedere wat Rosie met soveel drif oor die bad wasgoed fluit!

Vroer of later kom n mens tot die besef dat die lekkerste lekker glad nie die luukse dinge van die lewe is nie. Ja, soms is n mens selfs skaam om te erken van watter eenvoudige dinge jy regtig die grootste plesier het.

Soos Dawid kan ek se: My hart word bewoe deur goeie woorde. Dit is vir my die lekkerste lekker om Psalm 104 te lees of Jona se grootste aangrypende gebed uit die ingewande van die vis.
Nooit verminder die vreugde wat ek vind in Eugene Marais se DANS VAN DIE REEN nie.

Miskien is dit nog die lekkerste lekker om al die lekker dinge van die lewe saam met iemand te ervaar wat die soektog na die geheim van n vrolike hart met jou deel!

Saturday, January 12, 2008

Legkaart

Koop die oom toe mos Desembermaand vir my n legkaart.
Hy laat my self een uitsoek op die rak, en die oggend is ek lus vir n uitdaging, en voel vreeslik braaf, en kies ek die moeilikste een op die rak!
Vol donker kolle en blou denim kleure...
Die oom help my die hoeke soek en so begin ek my legkaart pak...

Soms gaan dit goed met my en die legkaart en ander kere lyk dit vir my na n ordelose hoop stukkies wat nerens wil inpas nie...

Terwyl ek so sit en spook met die baie moeilike legkaart wat ek self uitgesoek het, besef ek die lewe is ook maar soos n legkaart...
Die wereld lyk soms vir my deurmekaar omdat ek nie die geheelbeeld kan sien nie.

Soms is ek nie tevrede met my stukkie van die legkaart nie, dan wil ek n blokkie indruk op n plek waar dit nie pas nie.
Sukkel ek gister heeldag met n donker blokkie in my legkaart wat net nie wil pas nie, die oom kom loer oor my skouer en pas die blokkie sommer met die eerste probeerslag op sy regte plek in.

Met die week lange reen wat ons tans beleef is ek vanmore net na 4 dankbaar oor die legkaart toe ek met my koppie koffie en die buuroom se hoenderhaan op die agtergrond, by die tafel stelling inneem om maar weer verder te probeer stukkies inpas...

Ek kom weereens tot die besef dat die blokkies in my lewens-legkaart ook soms pikswart is,
maar ook die donker stukke het die regte pasplek in God se plan en dat elke ding wat met my gebeur reeds vooruitbestem is om deel van my lewens-legkaart te vorm, elke blokkie het n nommerpas plek, al kry ek dit op daardie oomblik dalk nie ingepas nie.

En met hierdie diepe besef was my opregte gebed vanmore:

Hemelse Vader,
Dankie vir die beeld van n legkaart.
Ek weet en besef nou dat daar n pasplek is vir elke los blokkie waarmee ek nie raad weet nie,
en dat U juis die donker blokkies van my krisisse gebruik om diepte en karakter aan die legkaart van my lewe te gee.
Vergewe my al die kere dat ek my eie plannetjies wou maak en U prentjie wou verander soos ek wou; asook die kere dat ek stukkies van die legkaart op verkeerde plekke wou inforseer.
Help my om geduldig op U te wag todat U op die regte tyd die legkaart sal klaar maak en ek uieindelik antwoorde op al my waaromvrae sal kry.
Amen

Friday, January 11, 2008

Slaap

...Kla die oom se seun die ander dag by my dat hy nie kan slaap nie...
sit ure wakker elke nag, en is maar te dankbaar as hy so twee, drie ure per nag se slaap inkry...
Ek simpatiseer met hom want ek ken maar te goed die verlange na slaap, veral 4uur soggens as die buuroom se hoenderhaan ontwaak!

SLAAP...
n wondersoete ding...

As D F Malherbe nie die sonnet 'slaap' geskryf het nie, sou iemand anders dit wel sederdien gedoen het.

n Mens kan net nie daaroor kom dat God hierdie heel natuurlike narkose bedink het om mense op gesette tye tot rus te laat kom nie...

Dis soos n geskenk uit die hemel om so te dommel in die dieptes van onwetendheid en die volgende more, of ure later, verfris wakker te word.
Dit bedek n mens, gedagtes en al, soos n kleed!

Ook Coleridge moes digterlik raak oor hierdie 'gentle thing' that slid into my soul...

Inderdaad, die slaploses onder ons is mense wat simpatie verdien!
So ook die wat nagskof moet werk...

Ou kind, ek kan nou nie soos toe jy klein was, langs jou opkrul en n liedjie sing tot jy slaap nie...
Maar ek wil vir jou Dawid se aandlied sing:
Mag jy in vrede gaan le en meteens aan die slaap raak...

Thursday, January 10, 2008

Trekdag

Skielik is daar n klomp mense in my lewe aan die trek!
Tweelingsus trek, skoonsus trek, bure oor die pad trek!

Trek...
n Mens se keel wil toetrek as jy die woord hoor,
want, diep en stewige wortels moet uitgetrek word,
en gewoonlik nie sonder pyn nie...

Trek dag is anders as enige ander dag in jou lewe.
Trekdag is vir sommige n gedenkwaardige dag, n opwindende dag, n absurde dag.
Trekdag vir my nog altyd n baie vermoeinde dag!

Nog altyd is daar iets in die sidderdreun van n vervoerwa wat my tot in my diepste wese ruk.

Op trekdag neem bekende ou meubels in n ommesientjie vreemde gedaantes aan...
Die sekuriteit van n woonplek, jou skuiling teen die aanslae van die wereld word jou tydelik ontneem,
en jy staan half ontwortel voor die kaal vensters, met miskien n uitgedraaide gordynhakie as enigste oorblyfsel in jou hand... en jy onthou ou hartsere en stemme in die lee kamers.

Ek simpatiseer inniglik met die Israeliete wat, rofweg bereken, drie en veertig keer kamp moes versit vanaf Egipte tot in Kanaan.
Ek dink ook met simpatie aan ons eie voorouers tydens die Groot Trek.
Wat n seer en droewige afskeid moes dit gewees het om huis en haard en plaas agter te laat sonder dat hulle geweet het of hulle ooit weer daarheen sou terugkeer...

Kamp versit... iets onsagwekkends.

Susters uit die diepte van my hart wens ek julle alle sterkte toe, en mag al die gordyne pas!

Tweelingsus....
mag hierdie trek jou waarlik by jou Kanaan bring!

Tuesday, January 8, 2008

Die ou werf

Kuier ons die pasafgelope sondag saam met die oom se broer en sy vrou by die landbou museum en die ou plaasopstal en werf,

So n mooi ou huis het altyd vir my n bekoring.
Daar is n waardigheid in die karakter van so n ou huis, n rustigheid in die atmosfeer,
en n mens voel dit sommer by die intrapslag aan.
Dit voel vir my of ek op onsigbare spore loop, asof ek luister na die naklank van woorde wat lank terug gepraat is.
Die elke dag se lewensgang van baie geslagte het n onskatbare kwaliteit aan die interieur van die huis gegee...

Die ou koolstoof laat my verlang na ma se kombuis...

Die spens...
Dit is en bly nog maar enige vrou se trots en verlange:
n paar spensrakke vol konfyt en gebottelde vrugte, helder en glaserig deurskynend.
Ek koester nog altyd n hoe verering vir die soort van preservering, en ek sien in my geestesoog hoe die vroue van daardie tyd: inmaak, berook, pekel en droog...
Hoe maklik ons hedendaagse vakuumverpakking!

Die granaatboom buite op die werf laat my met n skielike pyn terugverlang na my grootwordwerf en proe ek weer die granaatpitte in my mond...

Die outydse water handpomp laat my half skuldig voel oor al die blink waterkrane in my huis...

Ek kyk met verwondering na die groot versameling plaas inplimente, trek dier voertuie, en trekkers,
Die oom en sy broer herken nogals n paar van hulle...

Die resturant bedien die heerlikste tradisionele etes...
bobotie, groenboontjies, pampoenkoekies..

Die ou plaas werf...
van die oomblik wat jy daar arriveer, kan jy die geskiedenis, sien, ruik, voel en proe!

Dankie ouboet vir n heerlike dag, wat my weer vir n oomblik laat stilstaan het om my hoed te lig vir die mense van daardie era en die groot stuk geskiedenis wat hulle vir ons nagelaat het.

Friday, January 4, 2008

Ou Viole

Lees ek die ander dag n baie interesante artikel oor viole...
Die artikel gaan oor die Stadivarius: n kosbare viool wat dateer uit die tydperk 1644 tot 1737,
gemaak deur Antonio Stradivari.
Elkeen, of hy nou viool kan speel of nie, sou onnoemlik ryk wees as hy so iets kon besit.
In die artikel vergelyk hulle n ou vrou met n ou viool waarop die suiwerste melodiee
gespeel word...

Moet ons darem nou in alle eerlikheid erken...
Ou vroue is nie meer ou vroue nie...
Toe ek n klein dogtertjie was het ek alle ou vroue as grys, dik en donker gekleed ervaar...

Hoe lyk hulle vandag?

Slank en elegant, hare in die nuutste style, klere modieus, die gemoed verlig deur moderne kennis, die stap flink, die hande op die motor se stuur...
Verby is die dae dat n ouma rustig sit en gesels terwyl sy een een boontjie met die hand kerf...

n Goeie kennis van my, vertel my so n tydjie gelede die kostelike storie,
Een van haar graad 2 leerlinge, n pragtige haasbek dogtertjie, is n gebore akrise,
en sy vra haar so bietjie uit oor haar ouers, wil agter die acting ding kom, maar word niks daar wys nie.
Wat doen jou ouma? vra sy die kleinding,
Met n geheimsinnige sameswerende stem, wat Anna Neetling Pohl koue rillings sal gee,
antwoord sy...
My ouma werk!

Dis dan die prentjie, n werkende ouma, wat laataand inkom en kitsdisse voorberei.
Toegegee, die mite word hiermee grootliks ingeboet, die mite van die ewige ouma met die bree skommelende skoot en hardgewerkte hande....

Maar nouja, die kleinkind het ook verander- dis nie meer die naiwe, afgesonderde wesentjies in kniebroekies van vel en rokkies van sis nie.
n Ouma sal haar storie moet ken om haar kennis en kundigheid aan hulle sn te meet...

En dis ook reg so,
Tye verander,
Voorkoms en omstandighede verander,
Ons kan nie teruggryp na verbygegane uitgediende mites nie, behalwe in dankbaarheid en herinneringe.
Ons is besig om ons eie mites te skep met die moderne ouer vrou!

Ek hou nogal van haar, en ek is seker haar man, kinders, en kleinkind ook.

In Paulus se brief aan Titus moet die ou vroue n melodie wees wat in die hart sal gryp,
lerares van wat goed is, versigtig, liefderik, ingetoe, kuis, huislik, goed en onderdanig.

Die moderne ou vrou is netjies, paraat, vinnig, ingelig.
Sy het n beroep en sy dien die moderne samelewing...

En dit beteken nie dat sy enige van Paulus se voorgehoue eienskappe inboet nie.
Dit beteken nie dat sy nie met tere hande die beddegoed om haar kleinkind kan invou of seerplekke kan dokter nie.
En soms haal sy nog die vergeelde albums van herinnerings te voorskyn en met n mollige
kleinding op die skoot wys sy:
Hierdie was jou pappa...
lyk hy nie net soos jy nie?

Wie wil nou nie so n ou viool wees nie?

Wednesday, January 2, 2008

Januarie

n Moeike maandvir my, altyd soos n nuwe skoen wat druk. Ek kom net nie lekker oor die weg met hom nie. Dit gaan knyp-knyp hinke-pink deur die eerste weke, en ek wonder hoe ek ooit daaraan gewoond gaan raak.
Want Januarie is nie n skoen wat jy kan omruil of agter in jou kas kan bere nie.
Jy kan nie anders nie, jy moet daarmee loop!
Maar daar is troos, met genoeg volharding, is die skoen so teen die Paasvakansie uitgetrap...

Die eerste knyp van die nuwe jaar is altyd vir my die veranderde jaartal. Daar is altyd vir my iets onafwendbaar in die nuwe jaartal, iets meedoenloos. En dwarsdeur Januarie skryf ek hom met teensin bo aan alles! Ek sukkel om my los te maak van die ou jaartal.
Ek is nou maar so: ek neem swaar afskeid:
Ek het so swaar afgesien van ons ou motor waarmee ons lank en ver gery het, van my ou bed waarop ek jare lank geslaap het.
Ek kan nie dadelik gulhartig wees teenoor hulle plaasvervangers nie.
Daarom is ek half wrewelrig vir Januariemaand, ek bly bewus van die jaar wat verby is.

Nog iets wat my intog in die nuwe jaar belemmer is die las van goeie voornemens waarmee ek myself jaar na jaar belas. Die besef dat ek n nuwe jaar betree, dat nog n jaar van my lewe om is, dwing my altyd om myself in oenskou te neem en dan n ambisieuse poging aan te wend om myself te verbeter.
Onnodig om te se dat ek hierdie nuwejaarsbesluite nooit kan uitvoer nie en dit ondermyn my lewensmoed keer op keer.
Een troos darem: volgens Pascal is die mens n swakke riet!

Hierdie jaar het ek doelbewus die nuwejaarsbesluit ding anders benader...
Vanjaar het ek vir my n lysie van sulke lekker om te doen besluite neersgeskryf...

Ek het besluit om heel eerste in hierdie nuwe jaar vir my n nuwe rooi rok te koop... tot salwing van my gemoed en tot heil van my gees!
Die rok MOET ROOI wees, rooi soos n kafferboom blom, met sulke fyn goue spatseltjies in, soos op die buitekant van n aarbei.
Dit moenie n duursame of dienlike rok wees nie, maar dit moet n mooi rok wees. Dit moet n baie wye rok wees, en dit moet n halslyn he wat n mens se asem wegslaan!
So n rooi rok sal my moed gee vir al die deure wat in die loop van die jaar gaan klap.
Ek sal geen slaap verloor oor al die dae wat ek ouer word nie, geen skuldgevoel oor n enkele kilogram wat ek swaarder weeg nie.
As ek so n rooi rok het sal ek die jare uitlag en soos in my jeug die sterre tegemoet dans!
Ek en my rooi rok...