Wednesday, January 23, 2008

Wat mense alles weet

Ek kan my so verstom oor die wonderlike dinge wat mense weet, soos wanneer n waatlemoen ryp is, hoe om n rooiwynvlek uit n sybloes te haal en waar n mens n los deksel vir n latrine kan kry.
Dis dinge wat mense weet! vra maar...

Dit lyk my daar is mense wat sommer vanself weet wanneer n souffle gaar is, hoe n mens n motor se bak oopmaak, en uit watter rigting die wind moet waai om reen te bring.
Die mense imponeer my. Hulle het beslis iets wat ek nie het nie:

Ek weet nooit wanneer iets behoorlik gaar is nie, ek weet nooit hoe n mens n ding oopmaak nie, en ek weet nooit watter winde hoe moet waai nie.
Die ergste is dat daar altyd weer n nuwe ding is wat ek moes geweet het en nie geweet het nie.

Dit moet n mens seker n heerlike gevoel van selfvertroue gee om sulke dinge te weet...
Die oom weet byvoorbeeld, hoe n mens die geslag van n parkiet kan vasstel; jy kyk na die bokant van sy bekkie- as dit helderkleurig is is dit n mannetjie; as dit vaal is, is dit n wyfie. Jammer dat die wyfie altyd die vale moet wees, maar nietemin iets wonderliks om te weet, veral vir mense soos ek, wat hulle al keer op keer vasgeloop het met die geslag van gewone huiskatte.

Soms kan ek my stom verwonder aan wie wat weet. Die hertogin van Windsor weet waar n mens 70,000 haaitande teen n afslag kan koop. Dit lees ek nou die dag in n artilel oor haar. Sy lees elke dag nege koerante in drie verskillende tale om sulke wetenswaardighede op te diep!

As ek wil weet hoe om n nuwe roosboom te snoei, vra ek my buurman, en as ek wil weet hoe om n fles blatjang oop te maak dan roep ek die oom.

Die ongeluk is dat ek aan niks kan dink wat ek sommer weet nie. Ek bedoel nou lekker nuttige dinge waarmee ek mense kan beindruk nie...
Dit smaak my soms ek weet niks!

No comments:

Post a Comment