Friday, January 4, 2008

Ou Viole

Lees ek die ander dag n baie interesante artikel oor viole...
Die artikel gaan oor die Stadivarius: n kosbare viool wat dateer uit die tydperk 1644 tot 1737,
gemaak deur Antonio Stradivari.
Elkeen, of hy nou viool kan speel of nie, sou onnoemlik ryk wees as hy so iets kon besit.
In die artikel vergelyk hulle n ou vrou met n ou viool waarop die suiwerste melodiee
gespeel word...

Moet ons darem nou in alle eerlikheid erken...
Ou vroue is nie meer ou vroue nie...
Toe ek n klein dogtertjie was het ek alle ou vroue as grys, dik en donker gekleed ervaar...

Hoe lyk hulle vandag?

Slank en elegant, hare in die nuutste style, klere modieus, die gemoed verlig deur moderne kennis, die stap flink, die hande op die motor se stuur...
Verby is die dae dat n ouma rustig sit en gesels terwyl sy een een boontjie met die hand kerf...

n Goeie kennis van my, vertel my so n tydjie gelede die kostelike storie,
Een van haar graad 2 leerlinge, n pragtige haasbek dogtertjie, is n gebore akrise,
en sy vra haar so bietjie uit oor haar ouers, wil agter die acting ding kom, maar word niks daar wys nie.
Wat doen jou ouma? vra sy die kleinding,
Met n geheimsinnige sameswerende stem, wat Anna Neetling Pohl koue rillings sal gee,
antwoord sy...
My ouma werk!

Dis dan die prentjie, n werkende ouma, wat laataand inkom en kitsdisse voorberei.
Toegegee, die mite word hiermee grootliks ingeboet, die mite van die ewige ouma met die bree skommelende skoot en hardgewerkte hande....

Maar nouja, die kleinkind het ook verander- dis nie meer die naiwe, afgesonderde wesentjies in kniebroekies van vel en rokkies van sis nie.
n Ouma sal haar storie moet ken om haar kennis en kundigheid aan hulle sn te meet...

En dis ook reg so,
Tye verander,
Voorkoms en omstandighede verander,
Ons kan nie teruggryp na verbygegane uitgediende mites nie, behalwe in dankbaarheid en herinneringe.
Ons is besig om ons eie mites te skep met die moderne ouer vrou!

Ek hou nogal van haar, en ek is seker haar man, kinders, en kleinkind ook.

In Paulus se brief aan Titus moet die ou vroue n melodie wees wat in die hart sal gryp,
lerares van wat goed is, versigtig, liefderik, ingetoe, kuis, huislik, goed en onderdanig.

Die moderne ou vrou is netjies, paraat, vinnig, ingelig.
Sy het n beroep en sy dien die moderne samelewing...

En dit beteken nie dat sy enige van Paulus se voorgehoue eienskappe inboet nie.
Dit beteken nie dat sy nie met tere hande die beddegoed om haar kleinkind kan invou of seerplekke kan dokter nie.
En soms haal sy nog die vergeelde albums van herinnerings te voorskyn en met n mollige
kleinding op die skoot wys sy:
Hierdie was jou pappa...
lyk hy nie net soos jy nie?

Wie wil nou nie so n ou viool wees nie?

No comments:

Post a Comment