Saturday, January 12, 2008

Legkaart

Koop die oom toe mos Desembermaand vir my n legkaart.
Hy laat my self een uitsoek op die rak, en die oggend is ek lus vir n uitdaging, en voel vreeslik braaf, en kies ek die moeilikste een op die rak!
Vol donker kolle en blou denim kleure...
Die oom help my die hoeke soek en so begin ek my legkaart pak...

Soms gaan dit goed met my en die legkaart en ander kere lyk dit vir my na n ordelose hoop stukkies wat nerens wil inpas nie...

Terwyl ek so sit en spook met die baie moeilike legkaart wat ek self uitgesoek het, besef ek die lewe is ook maar soos n legkaart...
Die wereld lyk soms vir my deurmekaar omdat ek nie die geheelbeeld kan sien nie.

Soms is ek nie tevrede met my stukkie van die legkaart nie, dan wil ek n blokkie indruk op n plek waar dit nie pas nie.
Sukkel ek gister heeldag met n donker blokkie in my legkaart wat net nie wil pas nie, die oom kom loer oor my skouer en pas die blokkie sommer met die eerste probeerslag op sy regte plek in.

Met die week lange reen wat ons tans beleef is ek vanmore net na 4 dankbaar oor die legkaart toe ek met my koppie koffie en die buuroom se hoenderhaan op die agtergrond, by die tafel stelling inneem om maar weer verder te probeer stukkies inpas...

Ek kom weereens tot die besef dat die blokkies in my lewens-legkaart ook soms pikswart is,
maar ook die donker stukke het die regte pasplek in God se plan en dat elke ding wat met my gebeur reeds vooruitbestem is om deel van my lewens-legkaart te vorm, elke blokkie het n nommerpas plek, al kry ek dit op daardie oomblik dalk nie ingepas nie.

En met hierdie diepe besef was my opregte gebed vanmore:

Hemelse Vader,
Dankie vir die beeld van n legkaart.
Ek weet en besef nou dat daar n pasplek is vir elke los blokkie waarmee ek nie raad weet nie,
en dat U juis die donker blokkies van my krisisse gebruik om diepte en karakter aan die legkaart van my lewe te gee.
Vergewe my al die kere dat ek my eie plannetjies wou maak en U prentjie wou verander soos ek wou; asook die kere dat ek stukkies van die legkaart op verkeerde plekke wou inforseer.
Help my om geduldig op U te wag todat U op die regte tyd die legkaart sal klaar maak en ek uieindelik antwoorde op al my waaromvrae sal kry.
Amen

No comments:

Post a Comment