Thursday, January 10, 2008

Trekdag

Skielik is daar n klomp mense in my lewe aan die trek!
Tweelingsus trek, skoonsus trek, bure oor die pad trek!

Trek...
n Mens se keel wil toetrek as jy die woord hoor,
want, diep en stewige wortels moet uitgetrek word,
en gewoonlik nie sonder pyn nie...

Trek dag is anders as enige ander dag in jou lewe.
Trekdag is vir sommige n gedenkwaardige dag, n opwindende dag, n absurde dag.
Trekdag vir my nog altyd n baie vermoeinde dag!

Nog altyd is daar iets in die sidderdreun van n vervoerwa wat my tot in my diepste wese ruk.

Op trekdag neem bekende ou meubels in n ommesientjie vreemde gedaantes aan...
Die sekuriteit van n woonplek, jou skuiling teen die aanslae van die wereld word jou tydelik ontneem,
en jy staan half ontwortel voor die kaal vensters, met miskien n uitgedraaide gordynhakie as enigste oorblyfsel in jou hand... en jy onthou ou hartsere en stemme in die lee kamers.

Ek simpatiseer inniglik met die Israeliete wat, rofweg bereken, drie en veertig keer kamp moes versit vanaf Egipte tot in Kanaan.
Ek dink ook met simpatie aan ons eie voorouers tydens die Groot Trek.
Wat n seer en droewige afskeid moes dit gewees het om huis en haard en plaas agter te laat sonder dat hulle geweet het of hulle ooit weer daarheen sou terugkeer...

Kamp versit... iets onsagwekkends.

Susters uit die diepte van my hart wens ek julle alle sterkte toe, en mag al die gordyne pas!

Tweelingsus....
mag hierdie trek jou waarlik by jou Kanaan bring!

No comments:

Post a Comment