Monday, January 14, 2008

Lekkerste Lekker

Lekker, Lekkerder, Lekkerste.
Darem goed dat n woord soos lekker trappe van vergelyking het. Nou kan n mens se wat lekker is:-
Melktert byvoorbeeld-van die outydse dik soort-
en n mens kan se wat lekkerder is- roomys met warm sjokoladesous-
maar die beste is dat mens kan se wat die lekkerste is- en hier deel ek en die oom beslis nie dieselfde idee van lekkerste nie- want vir die oom is lekkerste nou eenmaal artappels- op welke wyse ookal voorberei!

Naas alles wat lekker smaak is daar nog alles wat lekker ruik, en lekker voel, alles wat lekker is om te sien en hoor, al die lekker dinge wat n mens kan doen, en nog meer lekker dinge wat n mens kan dink.
Daar is ook die lekker mense wat jy ken, die lekker plekke waar jy soms kom en die lekker boeke wat jy lees.
So baie vreugdes waarvan n mens jou hart nie hoef terug te hou nie!

Gesels ek die ander dag met Ouma Jane (78jr) oor dieselfde onderwerp, moet ek net byse Ouma Jane het die wereld vol gereis, en het ek al baie lekker stories by haar gehoor van reg oor die wereld, en daarom het ek gehoop om n lekkerste storie vir hier by Ouma Jane te kry.
Nadat sy n oomblik nagedink het oor my vraag dat wat vir haar die lekkerste in die lewe was /is- antwoord sy my so:

Sy het jare gelede n wasbediende gehad wat maandae ingekom het. Rosie het elke maandagoggend terwyl sy onder die afdak staan en was, Halleluja liedere gefluit.
Soms het sy begin met: As die lewenstrome woedend om jou slaan, oor die lakens fluit sy: Waarheen pelgrims, oor die handoeke: Red wat verlore gaan, en as sy by die manshemde kom versnel haar tempo aansienlik met - werk want die nag kom nader.
En so sorg Ouma Jane dat sy binne hoorafstand bly, want die mooiste is die slotsange as Rosie die wasgoed begin ophang en sy flui al stadiger- Die Heer is groot waar sions top.
So skep Rosie maandae n besonderse stemming by Oum Jane se huis, wat die gemoed streel.
Vertel Ouma Jane dat die maandae wat Rosie nie opgedaag het nie, die dag vir haar glansloos was sonder die Halleluja liedere wat Rosie met soveel drif oor die bad wasgoed fluit!

Vroer of later kom n mens tot die besef dat die lekkerste lekker glad nie die luukse dinge van die lewe is nie. Ja, soms is n mens selfs skaam om te erken van watter eenvoudige dinge jy regtig die grootste plesier het.

Soos Dawid kan ek se: My hart word bewoe deur goeie woorde. Dit is vir my die lekkerste lekker om Psalm 104 te lees of Jona se grootste aangrypende gebed uit die ingewande van die vis.
Nooit verminder die vreugde wat ek vind in Eugene Marais se DANS VAN DIE REEN nie.

Miskien is dit nog die lekkerste lekker om al die lekker dinge van die lewe saam met iemand te ervaar wat die soektog na die geheim van n vrolike hart met jou deel!

No comments:

Post a Comment