Thursday, March 12, 2009

Kind wil popster word...

In ons woonstelblok bly n ma en haar seun alleen...

Die ma is n gegoede wit, Afrikaanssprekende vrou, wat foutloos Engels praat. Na die handjievol kere dat ek en sy op die trappe of in die parkeer-area n paar beleefde woorde met mekaar gewissel het, het ek tot die slotsom gekom dat sy beslis n intellektueel is...
Haar seun lyk altyd verveeld en geirriteerd...
Hy is n lang seun en gemiddeld so ses dae n week dra hy n T-hemp waarop "shorty" staan, en ek hoor sy vriende noem hom Pilatus...

Omdat daar net tien woonstelle in die gebou is, weet almal van almal... hoor almal vir almal... en sien almal vir almal...
En so hoor ek toe laatmiddag gister hierdie vreeslike geveg tussen ma en seun, nie omdat ek wil hoor nie, omdat ek nie anders kan as om te hoor nie...

Jy verwerp alles wat ek is, skree die ma driftig. Jy wil nie leer nie. Jy wil alles doen waaraan jy maar kan dink om my in die verleentheid te stel. Jy rook in die openbaar. Jy drink. Jy steek my aanmekaar in die skande. En dit terwyl jy alles het, en as jy nog iets wil he, gooi jy n onsmaaklike toneel tot jy dit kry. Maar die kans om iets van jouself te maak, dit wil jy nie he nie... Al wat jy in jou kop het is om n popster teword...

Jy is n onnosel koei, skree die seun met die ongelooflike naam Pilatus... Jy worrie nie regtig oor my nie.Al waaroor jy bekommerd is, is jou image. Ek sal jou nog wys hoe famous ek gaan word. Ek gaan iemand wees, en jy gaan n stuck-up bi@&... bly!
Kom ons praat mooi, se die ma.
Steek jou mooi praat in jou dinges! skree Pilatus.
Woedend en swetsend storm Pitatus die gebou uit... n pynlike stilte daal oor alles neer...

Net daar, met my hande op my kospotte en vadoek oor my skouer bid ek vir hierdie mamma...
dat sy sal kalm word en bly, dat sy nie paniekerig sal word nie, nie eerste sal skree nie, dat sy sal saamvloei met haar tiener se passie en drome, dat sy, sy vertroue sal wen, dat sy die verhouding sal behou, kom wat wil!

6 comments:

  1. Hallo Nimsi,
    Was so besig die laaste tyd dat ek regtig nie tyd gehad het vir die blog lees nie. Jy raak vandag hier 'n ding aan wat ek as onsettend belangrik ag. Dit is die verhouding tussen ouers en kinders. Elke huis se omstandighede is seker anders, maar verstaan kan nie eensydig wees nie, dit moet van albei kante af kom.
    Sterkte

    ReplyDelete
  2. Hello Oom Petrus, Bly jy kon effens asemskep... Ja ek stem, verstaan is nie n eensydige ding nie...maar n tiener verstaan maar baie moeilik as n mamma so besig is om "ends te laat meet" dat niks anders meer saak maak nie... Ek sien myself so n paar jaar gelede in hierdie mamma...
    Nimsi

    ReplyDelete
  3. Ek bid ook vir hierdie mamma! :(

    ReplyDelete
  4. Dankie Muriel,
    Die alleenpad nie altyd maklik nie...

    ReplyDelete
  5. Ai Nims, mens loop maar die pad van beter weet vir ons kinders en drome he wat kinders nie noodwendig vir hulleself het nie. Ek bid ook vir hulle. En vir ons almal wat ouers is en Vader se wysheid so nodig het

    ReplyDelete
  6. ((((Charmaine)))) iets in hierdie seun raak baie diep aan my hart!
    Nimsi

    ReplyDelete