Thursday, March 5, 2009

Onrustige gevoel

Staan ek gisteroggend op met hierdie vreeslike snaakse gevoel. Kan nie regtig in woorde beskryf hoe ek gevoel het nie, net asof iets my bedreig. Ek staan in die kombuis om die oom se kos vir die werk te maak en sy ontbyt en die trane loop oor my wange, ek huil maar ek weet nie waaroor nie...
So gaan ek biddend deur die dag, biddend en huilend. Praat met Marius, hy verseker my hy is doodreg, praat omtrent ses keer met die oom, ook hy verseker my hy is reg.

Worstel ek laasnag met my gevoel, kort kort wakker, gaan maak al kwart oor vier vanoggend vir ons koffie, die oom drink dit so grom grom.
Gaan staan op die balkonnetjie, vra die Vader om my kalm te maak, vra Sy beskerming oor my man, my kind, my geliefdes.
Ek kom aan niks, skrop hier vroetel daar, irreteer myself naderhand...

Drie uur vanmiddag lui my foon, my hand bewe toe ek hom antwoord... die oom se werkgewer, ek kom jou binne vyf minute haal, hy wil niks oor die foon se nie net dat ons sal praat as hy by die woonstel kom. Ek weet op daardie oomblik iets het gebeur, ek probeer die oom op sy foon bel maar geen antwoord...
Ek bel dadelik vir Oom Petrus, die oom se broer maar kan ook niks sinvol vir hom oor die foon se nie, net dat ek dink die oom is dood...

Mnr F tel my op met sy groot bakkie en se ewe rustig dat die oom by die noodkamers is en dat hy deur n swerm bye aangeval is... dadelik wil ek weet of hulle vir die dokter gese het hy is n diabeet en dat sy boetie Oom Petrus allergies is vir bysteek...
Toe ek by die Oom kom skrik ek vir die gedrog wat ek sien, sy kop en gesig is drie keer sy groote geswel, hy sukkel om te praat en asem te haal... die dokter bly vir my se hy is "fine" maar kyk my nie in die oe nie.
Ek raak kalm en vra die Vader om Willie aan te raak. Twee ure later stuur hulle ons huistoe, bloedruk weer normaal, oor die driehonderd angels uit sy gesig, kop en lyf uit gehaal. Sy mond toegeswel, sy oe toegeswel, hy sukkel om te praat en te loop. Ek moet kort kort langs die pad stop sodat hy kan naar word.
Die Dokter raak aan my arm en se: Jou man was baie baie gelukkig vandag mevrou!

Nadat ek hom in die bad gehad het en nog n spul angels uit sy kop en gesig uit gehaal het vertel hy my dat hy besig was om te skraap ( die oom werk mos padbou masjiene) en hy vermoed dat hy die bynes oopgeskraap het, toe hy weer sien is hy toegepak onder die bye, hy weet nie hoe hy by die grader uitgekom het nie, het begin hardloop, op n stadium geval maar geweet hy moet dadelik opstaan en beweeg anders gaan die bye hom doodsteek. By n stoorkamertjie ingehardloop nadat hy al van sy klere van hom afgegooi het, in die kamertjie het hy meeste van die bye van hom afgeklap met sy hande.
Dadelik sy werkgewer gebel en gese hy het dringend mediese hulp nodig, hulle was in n rekord tyd by hom en kon hy baie vinnig mediese behandeling ontvang.
Dit is nou agt ure later, hy is nog erg geswel, ly verseker nog aan skok, maar lyk beter as vanmiddag. Sy suiker bly nou hier by die16 rond maar die dokter het my verseker dit is van die kortesoon wat hulle hom gespuit het en dat dit vir die volgende drie dae so sal wees.

Ek se vir die Vader baie dankie dat hy vir Willie vandag bewaar het, en dat hy so vinnig al beterskap toon.

Vader ek bring vir Willie weereens na U toe, Vader U alleen weet wat hy vandag dergemaak het want U was daar. Ek dank U dat U sy lewe gespaar het. Ek vra dat U asseblief vannag met hom sal wees, dat hy more oggend sal opstaan en beter sal voel. Dankie Liewe Jesus dat U altyd en oral in beheer is.
Amen

5 comments:

  1. Nimsi, ek dank ons Vader saam met jou vir Sy wonderlike hand oor julle en dat Hy jou so onrustig in jou gees gemaak het sodat jy kan bid... jy was gehoorsaam. Willie, ek hoop jy is sommer baie vinnig weer honderd persent. Sterkte en liefde vir julle!!!

    ReplyDelete
  2. O Nimsie, ek is hoendervleis. Ons prys die Here oor Sy genade! SĂȘ tog baie sterke en beste wense vir jou man.

    ReplyDelete
  3. Sjoe, my hele lyf gloei op die oomblik, hoekom andersom as ander sal ek nou nie weet nie.. Dalk is dit die warmte wat ek voel van onse Vader...

    Nimsi, ai, ek is so bly dat hy ok is. Sterkte vir julle!!

    Kry jy gereeld sulke voorgevoele? Ek doen en dit is aaklig.

    ReplyDelete
  4. Ons is dankbaar saam met julle dat Vader Willie bewaar het.

    Jy was gehoorsaam, Vader is getrou!

    ReplyDelete
  5. Baie dankie vriendinne vir julle liefde hier aan ons betoon! Dit gaan vandag beter met Willie, nog swelsel maar ek herken darem alweer my man! Ek kan nie vir julle in woorde vertel deur watter hel hy die afgelope 2 dae is nie...
    Dankie Jesus dat ek nou hier kan opstaan en my man n drukkie kan gaan gee
    Nimsi

    ReplyDelete